Om te skep

Om te skep is deel van my. Om byna alles wat ek maak weg te gee, is ook deel van my. Dis maar hoe dit is.

Vir jaaaare het ek geglo daar is niks kunssinnig in my nie, nadat my standerd vyf onderwyser met vakkeuses vir die Hoërskool gesê het ek moet tog net nie daaraan dink om eers kuns as vak te oorweeg nie. Dieselfde onderwyser het ‘n sprankie hoop in my gevestig deur te sê dat ek eendag ‘n joernalis kan word…

Die eerste handwerk artikels wat ek kan onthou wat ek gemaak het was popklere. Ek was nie ‘n popspeler nie, maar so af en toe het my ma ter aanmoediging ‘n paar uitrustinkies geknip en dan het ek met die hand die dingetjie gemaak.

Die tweede artikel was ‘n versierde wasgoedpennetjie wat ek onder leiding van sus Trisa gemaak het een vakansie in standerd vyf toe ek gaan help het met haar kleutertjie. Sy was hoogswanger en moes UNISA-eksamen skryf. Ek was seker maar naderhand ook maar verveeld.

Ousus Drinie wat vreeslik presies werk se houtsneewerk, naaldwerk, kwilts en ander was vir my ‘n inspirasie om ook dinge te probeer toe ek ouer word.

Vir jare het ek my en my kinders se klere gemaak. Ek het tot my eie jeans gemaak. Deesdae is ek bietjie lui vir alledaagse klere, en dis nie meer goedkoper as ‘n vervaardigde kledingstuk nie. Net vir spesiale geleenthede waar dineerokkies ter sprake is, word my naaimasjien nader getrek. My dogters gee die prentjie, en dan moet ma maak. Veral Marina stel my vernuf op die proef, want haar uitrustings moet uniek wees..

As jong vrou was ek ‘n paar keer in die hospitaal met piep, en ek het elke keer die tyd benut en lappe gehekel vir my huis. Daai tyd is jy nog ‘n dag voor ‘n operasie opgeneem, en jy het daar gebly vir ten minste ‘n week of langer indien jou maag nog nie sy behoorlike draaie gemaak het nie. Hoe anders is dit nie nou nie!

Toe FIMO klei in Suid-Afrika uitgekom het, was ek daar om ook op die wa te spring. Dit was in die tyd wat Printer’s Trays in die mode was, en ek het die oulikste kreatuurtjies gemaak. Tot verkoop ook. Toe die mode bietjie taan het ek dit agterweë gelos. Polimeerklei is nou weer hoogmode onder handwerkers, veral in die skepping van gemengde media kunsartikels. In dieselfde tyd het ek krale met ‘n ander tipe klei gemaak, geverf en verkoop. Vandag kan ek nie dink dat iemand daardie goed sou koop nie, maar mense het. En dit gedra.

Later het ek begin met pottebakkery om bietjie uit die huis te kom en die familie het elke jaar met Kersfees deurgeloop onder my pogings. Ek het vir my ‘n wiel gekoop, met die langtermynbeplanning om later ook ‘n oond by te koop op die plaas.

Nog voor ons weg is uit Pretoria het ek met loodglas begin nadat my vriendin Christelle my bekend gestel het daaraan, een van die aktiwiteite wat ek vir altyd sal doen. Glas is net iets besonders om mee te werk. Dit voel soms vir my soos sonde om ‘n stuk glas in kleiner stukke op te sny. Nou het die familie nuwe geskenke gekry… en my plaaskombuis se kassies wat Roelf self gemaak het van hout op die plaas geoes is, is pragtig versier met vrugte. Ongelukkig het ek nie alles afgeneem nie en is dit nou verlore, behalwe in ons herinnering.

Deel van die pottebakkersoond se langtermyn beplanning was dat ek Glass slumping sou begin, maar helaas daai beplanning is na die maai toe ons huis met alles daarin afgebrand het en ek al my toerusting verloor het. Van my klein potjies wat ek nog gehad het, het oorleef, die glasuursel is natuurlik net nie meer dieselfde nie.

Rakuvuring se onvoorspelbaarheid is vir my ‘n uitdaging, my pottebakkerjuffrou het elke jaar ‘n Rakudag gehou. Dis iets wat ek weer kan doen, Raku-oonde is nie onbekostigbaar nie. My vriending Evette, ‘n kunsonderwyser, het vir my ‘n bietjie klei gegee en ek mag dit in haar oond gaan bak. In my kop het ek ‘n sekere pot, Raku-gevuur, met insetsels van glas en piouter wat wag om ‘n meesterstuk te word. Eendag… daai pot se tyd is nog nie hier nie.

My ma het altyd gebrei. Altyd. Winter- en somersaande is voor die radio en later die TV omgebrei. Om agt kinders toe te kry vir die winter was ‘n allemintige taak… een wat sy sonder kla en mor gedoen het. Ekself is nie so lief vir brei nie, maar ek het darem vir my oudste kind babasokkies gebrei en ‘n truitjie. Nogal een met kabels… Verlede winter het ek begin om vir elkeen van my sussies ‘n serp te brei, maar die projek het begin kleintjies kry en nou het al die groot niggies ook elkeen een, en daar is vrek baie van hulle! Dit was lekker toe ek nou die dag ‘n fotogekry om te wys hoe mooi ‘n serp by ‘n uitrusting pas.

Ek het natuurlik nie die kralemode oorgeslaan nie, dit bly steeds lekker om iets uniek te maak. My gunsteling om te maak is armbande, ek hou van klingels om my hand. Ek is ook gek na ringe en sou net voor ons huis gebrand het begin het met Art Clay Silver. Ek het al die toerusting al bymekaar gehad, ek moes net Pretoria toe ry om die silwerklei te koop. Eendag dalk… mens moet kan aanhou droom oor ‘n volgende projek…

Een van die heel, heel lekkerste dinge wat ek nog ooit aangepak het is piouter. Dit, saam met glas en mosaïek, is media wat by my veelsydigheid pas. Die lekker is dat mens dit kan kombineer, jou verbeelding kan vry in die wind gaan dans. My beplanning is om in die Desembervakansie my nuwe kombuiskassies se venstertjies mooi te maak met glas.

Die gene van skep kom van my ma af. Vir jare en jare en jare was sy te besig om haar skeppingsdrang uit te lewe. Sy het as skoolkind baie mooi potloodsketste gemaak. Ek het haar ou skoolbloemlesing gehad wat sy self versier het met potlood en ink. Sy het nie eers geweet ek het dit gehad nie. Vir een of ander rede het sy een dag toe ek nog ‘n kind was al haar skoolherinneringe probeer verbrand. Op ‘n plaas is mens self verantwoordelik vir vullisverwydering of vernietiging as jy dit so wou noem. Ons klein goed soos papiere is in ‘n drom gebrand en ek het op die brandende sertifikate en goed afgekom. Ek het die drom natgegooi en gered wat ek kon en al die jare weggesteek… tot dit tot as gebrand het op my eie plaas soos wat sy bedoel het daarmee moet gebeur.

Toe hulle dorp toe getrek het met ‘aftrede’ het sy begin lapverf doen. Net hierdie week het sy vir my een gegee vir my nuwe huis. Wat dit merkwaardig maak is dat dit gedoen is na ‘n massiewe beroerte ‘n paar jaar gelede wat haar verlam aan die regterkant gelaat het. Sy het egter geoefen het totdat sy weer die gebruik van haar hand teruggekry het. Nie honderd persent nie, maar sy kan weer verf, rumatiekhande daarby of nie.

My susters en broer is almal skeppers van iets. Woorde, houtsnee, kwilt, krale, borduurwerk, naaldwerk, mosaiëk, piouter, lapverf, skilder, kruisiesteek, miniatuur geweertjies, lampe met wildshorings en nog meer. Party aktiwiteite het meer as een skepper, maar elke aktiwiteit het ‘n meester na wie se werk jy kan opsien.

Na die huis gebrand het, was een van die eerste dinge wat Roelf vir my gesê het om te gaan koop ‘n vel piouter en gereedskappies. Die terapie in die maak van iets is onvervangbaar in my lewe en ek kan dit aanbeveel vir enige persoon wat deur ‘n trauma gaan. Dit gee jou iets om op te fokus, al wat jy aan moet dink is daardie blommetjie wat jy versigtig moet uitdruk. Dit gee jou hoop wanneer jy die vordering van iets mooi te sien. Dit gee jou weer eiewaarde en ‘n doel om te wil aangaan.

Vandag weet ek dat as iets in jou hart geplaas isen jy WIL dit doen, dan KAN jy. Jy moet net die eerste stappie vat.

Netnou gaan ek my eerste stappie vat met waterverf. Ek weet dis ‘n moeilike medium, maar dis wat ek wil doen. Olieverf staan my nie aan nie, en ek wil nie akriel doen nie. Ek wil WATERVERF doen.

Advertisements
Categories: Familie, Slakgedagtes, So doen Slakke dit | 12 Kommentaar

Artikelnavigasie

12 thoughts on “Om te skep

  1. Soos ek hier sit sien ek die blou engel se vlerke skitter! Dis tog myne! Ek is nie so handvaardig soos my susters nie, ek kon altyd mooi klere maak (toe my naaimasjien nog behoorlik gewerk het) maar ek kan hoegenaamd nie fynvat nie. Ek het geen koördinasie nie en tik met twee voorvingers, maar net as ek op sleutelbord kyk.

  2. dit is vir my terapeuties om krale in te ryg- ek gaan ook nu mosaiek begin doen ! Solank ek nie klere moet maak nie

  3. Ami, mosaiek is baie lekker. jy moet by die bouhandelaars kyk, hulle teeltjies is gewoonlik die goedkoopste

  4. Jou kunswerk is baie mooi, en om te gee is jou liefdestaal, dis baie kosbaar!

    • Dankie Ruiter. Ek het net Maandag vir iemand vertel hoe moeilik dit was om te leer om te ontvang. Want ek moes.

  5. vega

    Ek het nou die dag kommentaar gelewer daaroor dat jy my gemotiveer het om piouter te probeer. Eks nes jy, altyd besig met een of ander craft. Raak sommer opgewonde oor enige handewerk.

  6. Kameel

    Pragtig Slakkelak….. weereens 🙂 Jou veelsydigheid laat my aan my dogter dink…. sy probeer alles, en alles wat sy aanpak is ‘n sukses.

  7. Terug pieng: Woeker met jou talente | MaanKind

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

Create a free website or blog at WordPress.com.

%d bloggers like this: