‘n Spesiale Leatherman

In vervloeë jare het alle mans ‘n knipmes rondgedra in hulle broeksakke; vlymskerp en die lem al bietjie hol gewerk van al die slyp; waarskynlik ‘n Joseph Rodgers. My pa kon ‘n lemoen so netjies in ‘n ringetjie skil met syne. Later jare het mens Swiss Army messie begin sien en deesdae is Leathermans die in-ding om te hê.

My man het spesiaal vir hom ene in Amerika gekoop toe ons jare gelede sulke reise kon bekostig.  Duur is hulle wel, ja, maar die voordeel is dit kwaliteit is en dat hulle regtig hulle waarborg gestand doen indien jou toestel iets oorkom. Roelf se mes en gereedskappies word GEBRUIK en hy het al meer as een keer van die waarborg gebruik gemaak. Na een sessie het hulle ‘n briefie bygesit en gevra hy moet asseblief nie sy mes so mishandel nie. ‘n Ander keer is die koeriertrok gekaap waarin die mes vervoer is wat weereens ingestuur is vir en het hulle die mes heeltemal vervang, en dus het hy nie meer regtig die oorspronklike een gehad nie.

Daardie Leatherman het albei brande oorleef.

Roelf woon in Pretoria in die week en kom net naweke huistoe. Die huis het voorheen aan ‘n tandarts behoort. Ons vriende het die huis omskep in kantore vir hulle besigheid en hy bly in die ou spreekkamer gedeelte. Verlede Sondagnag het hy wakkergeskrik en daar was vier mans in die kamer wat hom toe oorval het. Hulle het hom met ‘n draadhanger aan die bed vasgebind en geterroriseer vir wapens, geld en die sleutels van ons vriende se motors.

Die vreksels is weg met sy selfoon, skootrekenaar, kontant uit sy beursie (hulle het nie belang gestel in die kaarte nie), al sy klere, ons kar en ons vriende se rekenaars en kantoortoerusting wat hulle kon laai. Dank die Here hulle het hom nie doodgemaak nie, net sy kneukels is gekneus waar hy een geslaan het en sy gewrigte van die draad.

Na hulle weg is het hy homself losgewikkel. Sy jean en kortmouhemp wat hy aangehad het en langs die bed gelê het, het hulle gelos en hy kon  dit darem oor sy slaapklere aantrek. Al sy warmgoed was weg, nie eers ‘n baadjie oor nie.  Hy het na ons vriende se huis gestap in die yskoue nag ‘n paar kilometer verder, net om te vind dat hulle hond regtig ‘n goeie waghond is. Ou Obelix, ‘n massiewe Boerboel, wou hom nie toelaat in die erf nie. Oppad terug kon hy darem ‘n sekuriteitsvoertuig voorkeer wat op patrollie was en toe kon hulle ons vriende, die polisie en Netstar bel om ons kar op te spoor.

Dié is in Alexandria, Johannesburg, opgespoor. Netstar was baie flink met die opsporing. Die vreksels het al die panele in die binnekant gebreek om die opsporingstoestel te probeer vind. Die dag daarna toe Roelf moes begin reël vir die uitkenning, het die polisie nie geweet waar die kar is nie. Netstar het hom aan die polisie se toutrok oorhandig en hulle het hom gaan stoor. Eers op die tweede dag kon die polisie vir Roelf die kar se staanplek verskaf. Daar is ander skade ook en ons wag nog dat die versekering hulle assessering doen om die totale omvang van die skade te bepaal. Groot skade is die feit dat die outomatiese kar gesleep is terwyl dit in Parkeer was, en ons hoop maar dat hulle die kar sal vervang eerder as om te probeer regmaak.

Maar kan jy glo… die vreksels het sy Leatherman laat val.

Advertisements
Categories: Familie, Omgee, Slakkeding | 3 Kommentaar

Artikelnavigasie

3 thoughts on “‘n Spesiale Leatherman

  1. Kameel

    Ek kan hierdie nie like nie slakkelak; wat ‘n nagmerrie ondervinding. Sterkte vir julle op die pad vorentoe ❤

  2. Unlike. Maar Like vir die Leatherman.

  3. sjoe, ek pes dit om te hoor hoe flippen sleg dit soms in ons land gaan, maar ek is vreeslik bly dat net sy kneukels en polse skade gelei het, party van die vrekselse elendelinge maak mense dood vir ‘n R5, of ‘n foon ter waarde van R200…. en die Leatherman, ja wel boys and their toys ne!!!

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

Blog at WordPress.com.

%d bloggers like this: