Daar is mense wat plaaslewe vervelig vind

Hierdie jaar hardloop teen ‘n spoed waarby ek nie kan hou nie. Elke jaar in ‘n onderwyser se lewe is anders, en hierdie is vir my ‘n dol-dol jaar. My werksverpligtinge is net so dat daar nie tyd oorbly vir blog nie… en dis vir my sooo verkeerd!

Lewe op die plaas gaan aan en daar is altyd iets nuut om te ontdek en iets interessant wat gebeur.

My skoonseun is verplaas na ons dorp toe en hulle bly nou tydelik by my in die huis. Dit beteken dat ek deel is van my poppie se ontwikkeling en dis vir enige ouma ‘n seëning. Die chalet wat gebrand het is gesloop die naweek en ons gaan die fondasie gebruik, dit vergroot en vir hulle ‘n tweeslaapkamerhuisie bou.

Die afwerking in my eie huis gebeur nog maand vir maand, ons wil mos nie skuld maak met die bouery nie, en is nou al amper klaar. My spens het twee weke gelede rakke gekry en hierdie naweek is daar teëls geplak in my kombuis.

Wat ek eintlik wil vertel is my nuutste ontdekking op die plaas. Verlede week het my dogter met die vierwielmotorfiets gaan ry sonder om te kyk of daar genoeg brandstof in is. Julle ken mos daai simpel Murphy outjie né… Daar was natuurlik nie en sy het amper ‘n kilometer van die huis af gaan staan. Die volgende dag het sy ‘n kannetjie brandstof gaan koop en ingegooi, maar iemand moes nog steeds stap om die fiets te gaan haal en vir haar is dit moeilik met Poplap saam.  Ek was eeue laas in die veld en het aangebied om die stappie te doen.

Maar o wee… Die liewe Frieda kameelperd het mos weer haar kalf doodgeskop en ly al weer aan nageboortedepressie. Die simpel ding neem mos  ‘n voorwerp aan wat sy dan vir ‘n paar maande met haar lewe verdedig asof dit haar kind is. Simpel ding weer ‘n keer! Pleks sy net haar kalf los, dan het sy iets. So stap ek en Boesman-staffiebrak toe pad af om die fiets te gaan haal. Hy ry soos ‘n lord op die fiets. Die enigste probleem was… die fiets het ‘n paar meter vanaf Frieda se ‘kind’, ‘n stuk betonpyp, gaan staan. Ons het haar en Frikkie so ent agter ons gekry en gedagtig daaraan dat ons nou tussen haar en haar kind inbeweeg, het ek maar kort-kort ‘n oog agtertoe gegooi. Sy het stadig in ons rigting begin stap en in ‘n oogwink besluit ons waag dit nou heeltemal te na aan haar kind! Sy het begin draf en ek en Boesie moes HOL om voor te bly en veilig weg te swenk veld in… met ‘n kameelperd vol woede vir haarself lol ek defnitief nie! Normale tye laat sy my tussen vyf en tien meter vanaf haar toe, maar NIE naby haar kind nie!

Ek was nie regtig aangetrek vir boendoe-bashing nie, en padlangs moes ons toe ‘n vreeslike ompad stap, en dit was in die hitte van die dag. Halfpad is ons gronddam en Boesie hol altyd vooruit om te gaan lyf natmaak. Voorlaasweek het ek ‘n nuwe waterplantjie ontdek wat ingekom het met watervoëls wat die dam besoek. Ek moes in die water klim om dit nader te trek om af te neem en met die uitklim ontdek ek toe bloedsuiers op my voete en my been. Daar is regtig min dinge waarvoor ek gril, maar bloedsuiers freak my uit! Freak soos in histerie… Gelukkig was Roelf by en het hy die goed verwyder voor ek my broek vuilgemaak het… want nat was hy wel en dit was nie van die water nie…

Ek was reeds nie lus vir ‘n nat hond saam met my op die motorfiets nie, en gedagtig aan die pestillensies wou ek vir Boesie keer, maar dis nie regtig moontlik nie. Hy was net in die water toe hoor ek PLONS…  ‘n Harde plons, nie ‘n saggiese inglip van ‘n padda nie. My hare het dadelik orent gestaan en adrenalien het teen ‘n tempo gepomp… want… die bure boer met krokkodille…

Boesie het hom nie gesteur aan my angstige geroep dat hy moet KOM nie… en sowaar as vet! Minder as twee meter van hom af pop krokkodil se kind uit die water! Nie ‘n grote nie, net so meter lank, maar as daar een is wat ek kan sien, kan daar meer wees onder die water…

Boesman was darem al bietjie afgedroog teen die tyd wat ons by die fiets gekom het van die ander kant af, en ons kon vinnig opklim en huistoe ry. Van die ander kant af was Frieda rustig en het ons net stip dopgehou en op die fiets is ons nie ‘n bedreiging vir haar kind nie.

Ons het in die aand gaan kyk, dan sien mens maklik die oranje ogies in die flitslig as daar meer as een is, en dit lyk darem asof dit net hierdie enetjie is. Die bure se volwasse teeldiere word apart aangehou, die kleintjies word in duisendemassas in sementdammetjies gehou en een of meer? moes ontsnap het. Hierdie is die grootte wanneer hulle geslag word. Ons het al in die verlede krokkodilletjies in die pad gekry en twee wat in ons bure se dam was (hulle moes oor ons plaas loop om daar te kom). Mense kilometers verder het al hierdie grootte dierasies in hulle swembaddens gekry.

Vervelig op ‘n plaas? Nie by ons nie…

Advertisements
Categories: Plaaslewe | 8 Kommentaar

Artikelnavigasie

8 thoughts on “Daar is mense wat plaaslewe vervelig vind

  1. Jy het defnitief n sterk hart. Twee skokke so kort op mekaar…Defnitief nie vervelig op julle plaas nie.

  2. Kameel

    My hare staan regop soos ek lees…. nee slakkelak, gee my eerder maar my oupa se beesplaas 😯

  3. bkeddie helle…..

    ek sou my melk weg geskrik het, eers bloedsuiers en dan nog kokkendille!!!!!! eeeuuuuwww

    jy leef gevaarlik slakkie

  4. lekkerjeuk

    Genade ons! Mens kan ‘n riller maak van al die avonture wat jy op een slag beleef het. 🙂

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

Create a free website or blog at WordPress.com.

%d bloggers like this: