‘n Nuwe fase in my lewe

Ek gaan jok as ek sê dat ek nét uitsien na die nuwe fase in my lewe.

Ek sien op teen:

* handdoeke en klere op die vloer
* TV. Ek is geluidsensitief en na ‘n dag van skoolkinders se rumoer is ek op-my-knieë-dankbaar vir die stilte op die plaas.
* die feit dat ek in ‘n mate my vryheid verloor

Ek sien uit daarna:

* om deel te wees van my kleinkind se lewe
* om my eie kind weer by my te hê
* om ‘n goeie skoonma te wees wat nie gaan inmeng nie
* om nie elke dag self kos te maak nie maar ‘n beurt te kry
* om nie altyd alleen te wees nie, alhoewel ek meeste van die tyd daarvan hou
* om nie alleen die verantwoordelikheid van die plaas op my skouers te hê nie
* om te weet ek hoef nie weer alleen te sukkel met iets wat breek en ek is te poepswak om dit reg te maak nie
* om iemand te hê wat my wakker maak as ek verslaap
* om my familie van my nek af te hê oor my alleenblyery 😉
* om te weet my liefste man gaan nou minder bekommernisse hê met nog asems in die huis en ‘n man op die plaas

Ek weet die kinders het ook hulle eie dingetjies waarvoor hulle uit- en op sien, dalk baie meer as myne, maar ek weet ons sal al ons verskilletjies in liefde kan uitwerk en uitpraat.

Welkom op die plaas kinders, dis nou julle huis ook. Dis vir ons ‘n voorreg dat julle kom. Lief julle baie xxx

Naskrif – die kinders en ons het almal fisies gehelp bou aan hierdie huis en dis net reg as ons almal saam hier kan bly 🙂

Categories: My klein slakkies | 9 Kommentaar

Artikel navigasie

9 thoughts on “‘n Nuwe fase in my lewe

  1. Ek het geen twyfel dat dit ‘n baie voordelige lewe vir almal gaan wees nie.

  2. lekkerjeuk

    In die ou dae het kernfamilies mos so saamgewoon. Ek dink dit gaan baie lekker vir julle almal wees.

  3. ek verstaan jou gevoelens oor alleenheid. Ek self is liefdaarvoor. Maar kleinkinders is die wonder van die ontluikende lewe. Te dierbaar om te sien ontvou. Ek hoop jy geniet dit baie.

  4. Kameel

    Mag die nuwe fase ‘n geseënde tyd vir julle almal wees.

    • Dankie ek glo dit gaan. Hoe gaan dit met jou Kameel? Ek het gesien van hospitaalsake en het aan jou gedink maar kon nie boodskap los nie. Hoop jy is op en top!

  5. ek weet presies waarvan jy praat, ek geniet dit ook om klonki by my te he, en dit is wonderlik om die lewe deur poplappie se ogies te sien, maar soms wil mens alleen wees, maar dit is vir mannas ‘n groot troos om te weet kinders is by my……

Lewer kommentaar op MaanKind Kanselleer antwoord

Blog at WordPress.com.