‘n Lang tyd gelede was ek in die laerskool

Ek het al gewonder of alle laerskoolonderwysers so ‘n groot invloed het op kinders se lewens as wat díé in ons ou skooltjie gehad het. Ek weet dat elkeen van die kinders in ons huis spesiale en soms slegte herinneringe het. Daardie mense het defnitief ‘n groot rol gespeel in die vorming van die mens wat ek vandag is. Goed en sleg.

Ons was in ‘n klein plaasskooltjie buite Brits. Daar was slegs vier permanente personeellede, en wanneer die leerdertal meer as ‘n honderd gegaan het, kon hulle ‘n tydelike persoon aanstel. Gewoonlik het dít so twee kwartale gehou. Ons het groot geword in ‘n standvastige huis en ons almal was in dieselfde laer- en hoërskole, dit was vir ons (vir my altans!) baie vreemd dat daar kinders was wat net een of twee termyne in ons skool was.

Ek kan selfs ‘n deel van die skoollied onthou:

“Op ‘n plekkie tussen berge
Is ‘n skool wat trots is op sy werke
….. (geheueverlies)….
Ons sal aanhou werk en wen”

Omdat daar beperkte onderwysers was, moes die standerds noodgedwonge gedeel word. Jy was dus vir twee jaar by dieselfde onnie, en net in jou laaste jaar alleen by die hoof van die skool. Dit is onafwendbaar dat daardie mense jou lewe sou raak.

In my jare was die graad een en twee juffrou ene Juffrou Heilie. Die twee grade was in een klassie en ek kan nou nog die alfabetkaarte onthou wat reg rondom die klas opgeplak was. Ek dink buiten die twee oudste sussies, het sy die res van ons agt kinders almal leer lees en skryf. In ons gemeenskap was nie so iets soos kleuterskole nie, ons ma’s was almal huisvrouens. Sy was ‘n liewe, geduldige mens, maar nie ‘n drukkies-juffrou nie. Ons het baie groot respek vir haar gehad, en so ook die hele gemeenskap. ‘n Aardse, raakvat vrou, die juffrou Heilie van ons. Al was ons almal al reeds groot, was dit ‘n groot skok toe sy later jare in ‘n motorongeluk oorlede is.

Juffrou Heilie het vir al die dogters naaldwerk gegee en ek kan nou nog nie garing deur ‘n naald druk sonder om aan haar te dink nie. Mens mag nie die garing gelek het nie. Jy moes dit dubbeld vou, platdruk en dan deur die gaatjie druk. Ek lek nou nog my garing nat. Skelmpies. En dan onthou ek vir juffou Heilie. Elke blerrie garing wat ek deurdruk. Wanneer dit huissport was, het die paar standerd vyf dogters die kaartjies vir verkope gehelp stik met die naaimasjiene (sonder garing). Dan skeur dit mos maklik af, soos seëls. Dit was sulke swart Singers met draaihandvatsels vir aandrywing. Dan het ons resies gejaag en gekyk wie gaan die vinnigste, en raas gekry vir die onuitwisbare krom rye stiksels wat dan skewe kaartjies tot gevolg gehad het.

Juffrou Heilie se buitemuurs was om reëlings te tref en te werk met skoolbyeenkomstes. Dit het gewoonlik ook behels dat my ma se hele kombuis aangery is na ‘n ‘skoolsports’ toe. My ma was die pannekoektannie wat emmers vol deeg aangemaak het en saam met haar helpertannies omskep het in duisende pannekoeke. Ek kan nie glo dat so klein gemeenskappie soveel pannekoeke kon verorber nie. Dit moes die Boerepappas wees!

Ek en my maatjie was die enigste twee dogtertjies in die klas met tuisgemaakte broekies, van dieselfde materiaal as die skoolrokkies. Daardie tyd het die skool nie klaargemaakte rokkies gebruik nie, die ma’s moes self maak. Net een dogtertjie in die klas het kokipenne gehad aan die begin van die jaar. Sy het ook ‘n bokstassie gehad. My pa het my leertassie self gemaak en ek het hare begeer!

Juffrou Kobie het die gesamentlike standerd een en –twee klasse behartig. Baie kinders het haar as ‘kwaai’ ervaar, maar sy was nie regtig nie. Sy het aan haar senuwees gely, soos die oumense sê, en dit was altyd asof daar ‘n diep ongelukkigheid om haar gesweef het. Ek onthou dat sy baie hoofpynpille gedrink het, en as ek nou daaraan dink dan dink ek dat sy dalk baie migraine moes gehad het. Vir my het sy altyd soos ‘n porseleinpoppie gelyk, so fyn en breekbaar. Die seuns kon haar nogal treiter tot sy op hulle skree, maar op ons dogtertjies nooit. Juffrou Kobie was ‘n dame, baie vroulik en het altyd lekker geruik en was keurig gegrimeer. Sy het ‘n fyn ronde handskriffie gehad en het altyd die mooiste boodskappies in ons rapporte geskryf. “Sy is ‘n juweeltjie in die klas” is een van haar opmerkings wat my baie spesiaal laat voel het, want ek het eintlik gevoel dat sy my nie raaksien nie… aangesien sy nogal haar witbroodjies gehad het, veral ‘n familielid in die klas.

Juffrou Kobie was verantwoordelik vir Netbal. Ons was so min, almal vanaf standerd drie tot standerd vyf wat wou speel, het span gekry. Die skool se eerste en tweede span. Die skool se enigste spannetjies…

Die standerd drie en vier’s was ook in een klas, in die sorg van meneer Koos. Hy was juffrou Heilie se skoonseun. ‘n Beneukte rooikopmannetjie, die jongste van die personeel en almal se slaaf. Dalk dié dat hy so beneuk was. Ek onthou die frustrasie op sy gesig as hy met pikswart hande uit die afrolkamertjie kom en die bedonderdgeid wanneer daar ‘n kol op sy blou safaripak was. Daai taai swart ink het mos geklóú…

In standerd drie is jy mos nou groot en begin met wetenskap of wat ook al dit daai tyd genoem was, ek kan nie eers onthou nie! Maar ek onthou veral die kwik wat ons in ons hande laat rondglip het, daardie wonderlike vloeibare metaal; en die eksperiment waar jy ‘n leë Erlenmeyerfles met ‘n prop en glasbuisie daardeur met ‘n Bunsenbrander verhit en dan word die pypie in die water gedruk. Dan spuit die water mos so op in die fles. Dit het ‘n baie groot indruk op my gemaak en ek het my eie apparaat by die huis prakseer met ‘n pillebotteltjie en strooitjie wat ek deur die prop gedruk het. Ek het die gat geseël met speelklei en die botteltjie oor ‘n kers verhit. Ek het my verwonder aan daai spuitfonteintjie, keer op keer. Ek wonder of my kleiner sussies onthou dat ek dit gedoen het? Dit was die begin van Slakkelak die Fisiese wetenskaplike…

My hart het altyd ineengekrimp vir die minder-slim kindertjies in sy klas. Ek onthou eenkeer het ek nie my tafels geleer nie, want ek het dit tog in elke geval geken. Hy het kinders gekies om voor die hele klas die tafels volgens die ‘horlosie’ metode dan hier en dan daar te gee. Arme Pofmuis kon niks regkry nie. Toe skree hy vir hom hy sal nou vir hom wys hoe moet jy jou tafels ken en roep my naam. Ek wou moedswillig verkeerd antwoord maar was te bang. En vet Pofmuis krimp en krimp met trane wat oor sy gesiggie rol. Hy was nie saam met ons tot in standerd vyf nie, hy is na ‘n spesiale skool waar ek hoop sy selfbeeld weer opgebou is. Uit die dieptes van my geheue is meneer Koos die eerste persoon wat ek van kan onthou vir wie ek my respek verloor het. Oor Pofmuis.

Meneer Koos was verantwoordelik vir die ‘sports’ wat nou deesdae in mooi Afrikaans atletiek genoem word. Ons het net die reguit resies (seker 60-100m) gehad, verspring, hoogspring en aflos. Dis dit. Natuurlik was hy ook die rugbyafrigter.

Die standerd vyfs was alleen in ‘n klas by die hoof, meneer Piet. Hy kom uit ‘n ‘ou geslag’ en het homself nog Meester genoem. Vreeslik vernaam. Ek sien hom nou nog in sy strepies pak klere Sondae in die kerk, ‘n lang maer man met Brilcreme hare. En vir mevrou met styfgespuite haartjies, stywe lipstiek lippies, Crimpilene pakkie en bokshandsakkie oor die arm. Vreeslik, vreeslik vernaam. Uit die aard van sy hoofamp het hy geen buitemuurs gehad nie. Halfpad deur ons jaar het hy siek geword en uit die diens getree. Wat hom makeer het weet ek nie.

Wat goeds sal ek nou van hom kan sê… ja… daar is tóg iets. Ons moes ‘n koerantberig skryf in Afrikaans en hy het gesê ek sal eendag ‘n joernalis kan word. En ek was vir twee jaar een.

Maar hy het my Beenkoppie genoem en die spot met my gedryf oor ek so klein en maer was. En vir my gesê ek moet tog net nie kuns in standerd ses as vak kies nie, want ek kan glad nie teken nie. En hy het gejok. En dit het my jare gevat om te glo dat daar iets kunstig in my is.

Die laaste gedeelte van standerd vyf het juffrou Petro die klas behartig. Sy was my ma se vriendin en dit het my spesiaal laat voel. Sy is eintlik ‘n hoërskoolonderwyseres en dit was die eerste keer wat ek in ‘n klas behandel is asof ek groot was. Nie omdat sy my ma se vriendin was nie, maar omdat sy ons met respek behandel het. So anders as die twee menere, in wie se oë jy niks was nie. Sy het my nie voorgetrek nie, ek is gou-gou in die bek geruk toe ek eendag ‘n antwoord uitgeskree het toe sy iemand anders gevra het. By die huis was sy nog steeds tannie Petro, by die skool was sy juffrou, professioneel soos dit hoort.

Ons was uiteindelik veertien wat die hele jaar in die klas was. Kobie, Hanlie, Christa, Elbie, Lynette, Annelise, Ronel, Carin, Cheryl, Daleen, Patrick, Jannie, Louwtjie en Heinrich. Tweetjies, Cara-Mia en Heilie is weg na ander skole voor die einde van die jaar. Kan jy jouself die skok op ‘n kind se sisteem voorstel om van so klein skooltjie na ‘n hoërskool te gaan waar daar meer as ‘n duisend kinders is? Waar jy moet klasse wissel? Waar daar ses standerd ses klasse was? Dis ‘n storie vir ‘n ander dag…

Dan was daar mense soos Ou Bolla en die tandarts wat ook deel was van ons laerskool milieu. Ek weet nou nie eintlik wat Bolla se naam of amptelike posbenaming was nie, ek dink dit moes dalk iets soos distriksverpleegster wees… Sy en haar span het eenkeer ‘n jaar ‘n draai by die skool gemaak en dan is almal ondersoek en moes ons in ‘n ry, in net ons broekies, wag vir jou beurt. Dit was alleraaklig! Veral vir die ontwikkelende dogtertjies . Ek dink die kifose van my ruggraat is juis te danke aan my skouers wat gehang het in ‘n poging om daardie piepklein roosknoppies te probeer wegsteek van ander se oë! Ons is grootgemaak dat jy ander se privaatheid respekteer en het nie voor mekaar aangetrek nie. Na die ondersoek moes jy piepie in ‘n houertjie. Voor almal. Die koppierige houertjies het op ‘n papier met jou naam en klas gewag in die badkamer. Juffrou Kobie het altyd die wreedheid so bietjie versag, haar klassie se naambriefies was in die vorm van hasies geknip. Almal is eers laat aantree in ‘n lang ry onderkant die stoep, en dan moes jy op en af spring met ou Bolla aan’t heen en weer spring bo-op die stoep om die piepie aan te help. Waarvoor hulle getoets het, weet ek nie. Die ondersoek was vir skewe ruggies, ondervoeding en wie weet wat nog.

Een keer ‘n jaar het die plaaslike hospitaal se kombi gekom en almal wat wou of moes tandarts toe gaan is ingelaai. Staatstandarts toe. Gelukkig het ek sterk tande, maar ‘n skewe tand is summier getrek om plek te maak vir die ander… geen opsie van draadjies nie.

Die skool het elke paar jaar konsert gehou. In standerd een het ek die hoofrol gehad in n Repelsteeltjie. Ek dink hoofsaaklik omdat ek so klein soos ‘n kaboutertjie was… My ma het vir my ‘n baard van regte boerbokvel gemaak, en ek was baie ongelukkig daaroor. Ek wou ook soos die res van die kabouters ‘n sagte pofferige baard van watte hê. Ene wat nie kriewel en stink onder my neus nie! Juffrou Kobie se klassies het natuurlik altyd die oulikste gelyk! Sy het net daai ekstra moeite gedoen wat enige geleentheid in ‘n spesiale geleentheid omskep het. Meneer Koos het altyd sulke simpel goedjies self geskryf vir die groot (standerd drie tot vyf) kinders.

Wat nie lekker was van so ‘n klein skooltjie nie, is die plaatjies wat om jou nek gehang word. Ek weet dit word maar jou lewe lank gedoen, maar in so ‘n klein gemeenskap is net net meer opvallend. Slim of dom. Arm of ryk. Mooi of lelik. Ek wil nie eers almal noem wat te noeme is nie. Daar is te min om weg te raak in die bondel. Jy is iets of jy is nie iets nie.

Onregverdighede teenoor kinders was ooglopend. Voortrekkery aan die orde van die dag. Buiging van reëls om die pappas met die beursies en hand-op-die-balls-ek-knyp-hulle-af mense se kinders te bevoordeel. Akademiese bekers kry skielik ‘n sportbeoordeling by want die regte kind presteer nie akademies nie maar in sport. Algemene kennis toetse word oor geskryf totdat die regte kind die meeste punte het. Punte word van een kind weggevat en vir ‘n ander gegee.

Ons was arm, maar my ouers was gerespekteerd in die gemeenskap. Ons kinders was almal akademies sterk. Party baie sterk en dan het die ander daaronder gely, want die bordjie om jou nek sê ‘Slim Petoorsie’, ‘n naam wat ons almal nou nog haat. Dis die blikkie waarin ons almal gedruk is. Party het gerebelleer oor onregverdighede en ander het gelate aanvaar. Maar dat dit aan elkeen geslyp het om sy karakter van vandag te vorm is, is die waarheid.

Elke mens ervaar ‘n situasie uit sy eie verwysingsraamwerk. Iemand anders mag dalk dinge heel anders ervaar het as ek van dieselfde mense. Ons is immers elkeen ‘n individu. En dis goed so. Ek het my plekkie in die lewe lankal gevind. Ek het vrede met wie ek is. Ek bly nou dalk op ‘n ander plek. My omstandighede is dalk nou heeltemal anders maar daar is een mens wie ek altyd sal bly. Ek is Kobie, vyfde dogter van Hansie en Anne Pretorius van Langberg, Distrik Brits. Ek is ek.

Advertisements
Categories: Lankal terug | 14 Kommentaar

Artikelnavigasie

14 thoughts on “‘n Lang tyd gelede was ek in die laerskool

  1. Tien Sterre! My weergawe van my laerskoollewe was baie korter, eintlik net ‘n grepie.
    http://maankind.wordpress.com/2011/07/29/om-n-kind-n-onreg-aan-te-doen/
    Ou Bolla was die skooldokter, haar naam is op die punt van my tong…

  2. Ek onthou nog elkeen van my laerskool onderwysers se name.
    Ek het so ‘n paar maande gelede my graad 1 juffrou gesien en sy het my nogsteeds onthou.
    Hulle (die laerskool onnies) het beslis ‘n groter impak op my lewe gehad as my ho(e)rskool onnies. (sorry, kry nie die oemlaat nie…)

    • In my hoërskoolloopbaan het net enkeles groot spore getrap

      • Selfde hier. Ek wonder hoekom is dit so?

      • Ek dink mens is al meer mens. Hoe kleiner jy is, hoe groter is die spons wat jy moet wees vir al die inligting wat jy moet verwerk. Mens is net op ‘n stadium waar ander se insette belangrik is. Ek dink later besluit jy wie en wat.

  3. lekkerjeuk

    Jy onthou goed! Ek was ook in sulke plaasskole. Onderwysers het n bepalende invloed op n mens se lewe, ja. Elke keer as ek probeer naaldwerk doen, wat ek haat, onthou ek hoe my naaldwerkjuffrou te kere gegaan het en my herhaaldelik alles laat lostrek het.

  4. ek dink ook die laerskool onies is die een deel van my skool loopbaan wat my die diepste aangeraak het, by my kuns juffrou het ek liefde en sagte geure geleer, by my afrikaanse onnie het ek ‘n liefde vir my taal geleer, by my wiskunde onnie het ek geleer dat die grondslag van wiskunde die belangrikste deel daarvan is, en dat enige probleem ‘n oplossing het, jy moet net die regte pad volg om die op te klaar, in wiskunde sowel as die lewe, ek was mal oor my geskiedenis onnie tot ek in standard vyf nou graad sewe gesien het sy het voete van klei………. en dit met my afrikaanse onnie waarvoor ek ampertjies gedink het hierdie is een man wat NOOIT sal teleurstel nie!!

    ek moet ongelukkig erken dat my graad een en twee jaar nie so lekker was nie, eerstens omdat ons soveerl keer rondgetrek het dat dit te kort tydjies was om hulle te leer ken, maar dit is ook die einste tyd, en een juffrou, onbegonne vir haar taak as jy my sou vra, wat my laat besef het daar is ‘n verskil tussen mense, arm en ryk…….. ek wonder of sommige onnies ooit weet watter diep inpak hulle op jong lewentjies het????????

  5. Kameel

    In verlede week gesels ek en my vriendin oor die skoolsuster wat jaarliks by die skool langs gekom het om jou te “check.” Net soos jy hier beskryf het was dit glad nie ‘n lekker ondervinding nie 😦 Onderwys is so ‘n groot verantwoordelikheid.

  6. Ek was ook in ‘n plaasskool maar net toe St 1. Ons het so 60 kinders in die skool gehad.3 onderwysers.
    Wat ek nou nog die minste van gehou het, was die “geen” keuse van maats. As L vandag met my wou speel, het die ander een nie ‘n maat gehad nie. As L more met die ander meisie speel, het ek weer nie ‘n maat nie. En dit het niks met ryk/arm te doen gehad nie, eerder met “the survival of the fittest”. L het die hef in die hand gehad….

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

Create a free website or blog at WordPress.com.

%d bloggers like this: