Winnertz familie naweek 2013

Ek kom uit ‘n familie wat van familie en van kuier hou. My ma was ‘n nooi Winnertz, die tweede oudste van agt kinders wat oorleef het om groot te word. Die afgelope paar jare hou ons ‘n Winnertz familiesaamtrek in middel-Januarie , net ‘n Sondag om ‘n bietjie te kuier.

Ons familie is die enigste Winnertze in die land en my ousus het baie moeite gedoen om die familiegeskiedenis na te spoor. Sy het vir ons ‘n pragtige dokument saamgestel van haar navorsing en ek gaan slegs enkele feite hieruit gebruik as agtergrond, die storie gaan oor die kuier en nie die geskiedenis nie.

Ons groot-oupagrootjie Fritz Winnerts het ‘n syfabriek besit in Krefeld , Duitsland. Sy seun Johann Friedrich Winnertz het hom as onderwyser bekwaam en dit was hý wat ons Suid-Afrikaanse stamvader is. Hier het hy vir hom ‘n boerenooi, Annie Erasmus, as vrou geneem en my oupa Hansie Winnertz was sy enigste kind. Ons stamvader sterf op ‘n jong ouderdom aan malaria toe Oupa Hansie maar drie jaar oud was. Ouma Annie het weer getrou met Oupa Pieter du Plessis, en hulle het saam ook weer kinders gehad.

Ek vermoed baie sterk dat my en my ousus se voorliefde vir goggas en dinge ingeteel is, want in dieselfde tydperk wat my groot-oupagrootjie in Krefeld gewoon het, was daar ene Johannes Winnertz uit dieselfde dorp wat ‘n entomoloog was. Hy het gespesialiseer in Diptera, die vliegfamilie, en het ‘n aantal nuwe spesies benoem. Miskien was die mans neefs, wie weet.  Ek het myself nog altyd beskou as ene uit die genepoel van die Winnertze.

Vir die eerste jare is die kuier in Pretoria gehou, en net op ‘n Sondag so oor middagete, maar verlede jaar het ons oom Ford Winnertz ons genooi om sommer die naweek te kom kamp digby Potgietersrus. Die wat daar was het dit baie geniet, en hy het aangebied dat die kuier weer daar kon plaasvind. Self was ek jare gelede laas by die byeenkoms want dit val op dieselfde naweek wat een van my boogskietkompetisies altyd was. Ek het dus van die familie jaaaare laas gesien, en op die oomblik kompeteer ek nie en kon ons ook gaan.

Al het ons mekaar lank nie gesien nie,  is ons nie totale vreemdelinge vir mekaar nie…Sosiale media, spesifiek die Gesiggieboek, word baie positief aangewend in ons familie om ons bande te versterk. Tans woon ons wydverspreid en sien mekaar selde, maar ons wéét wat aangaan met mekaar. Ons leer mekaar se grille en giere ken, voorkeure en afkeure, ons lag saam en huil saam, ons bemoedig mekaar in tye van nood en vier fees wanneer daar gevier moet word. Ons deel ons foto’s van groot en klein sodat ons mekaar se gevreetjies kan herken. Wanneer ons mekaar dan die dag aangesig tot aangesig sien, is ons nie vreemd vir mekaar nie; daar is dan immers reeds tienduisend dinge om oor te giggel en die volledige stories te vertel wat nie in die openbaar sou deug nie.

Ons het mekaar vreeslik opgewerk die laaste maand voor die familienaweek, dit was net nie snaaks nie! Van elke stukkie voorbereiding op die plaas tot vreeslike reisreëlings wat getref moes word om daar te kom, is volledig verslag van gedoen. Beloftes van tuisgebakte brood met vars appelkoos- en aarbeikonfyt is gemaak, en nagekom ook hoor! Om van onderlinge skimpe van poetse wat gebak gaan word nie eers te praat nie… Ek dink daar was ‘n paar dankbare harte toe dit net by skimpe gebly het!

Die donkie in aanbou. Dankie CC dat jy so fluks gehelp het, die tannies veral was baie bly!

Die donkie in aanbou. Dankie CC dat jy so fluks gehelp het, die tannies veral was baie bly!

Selfs die ongesoute kampers het hulle nie laat afsit deur weervoorspellings en gerugte van vloede nie, hulle het maar net voorsiening gemaak vir die reën wat dalk sou kom.

Gazebo's bo!

Gazebo’s bo!

Dit was maar ons eie klein binnekring van sussies en gevolg, en ons een tannie met haar kleinkind wat die hele naweek saam met die plaasmense gekuier het. Die eintlike saamtrek sou plaasvind op die Sondag soos gewoonlik, met die groter familie wat dan as ‘dagbesoekers’ kom. Hulle het regtig groot uitgemis, die meeste pret en gekuier was tydends die kampery.

Wat is nou lekkerder as 'n Bosveldvuurtjie om in te tuur op 'n Saterdagaand?

Wat is nou lekkerder as ‘n Bosveldvuurtjie om in te tuur op ‘n Saterdagaand?

Saterdagoggend het ons almal gaan stap, en die blou donker wolk wat vêr gelyk het, het toe heeltemal te vinnig beweeg en ons het almal sopnat gereën.

Die klein stadsjapies weet nou dat koeie nie byt nie, en dat alle koeie nie 'koeie' is nie!

Die klein stadsjapies weet nou dat koeie nie byt nie, en dat alle koeie nie ‘koeie’ is nie!

Groot en klein durf die plaaspad aan.

Groot en klein durf die plaaspad aan.

Terwyl sommiges met die terugkom slag soos verwese nat hoenders gelyk het, was daar iemand wat loshande Mej. Wet T-shirt in haar ou wit hempiekie sou wen…  Die sensorraad het egter besluit dat geen foto’s daarvan die lig sou sien nie… dit sou dalk nét sensitiewe kykers ontstel het!

Ouma Drinie het natuurlik al die kleintjies bymekaar gemaak en in die modder gaan speel; dorpsjapies moet ook leer van moddertjies wat tussen toontjies deurwurm en reëndruppeltjies wat sommer in ‘n mens se keeltjie ingly. Gelukkig was daar ‘n hele paar gazebo’s opgeslaan en het ons lustig verder gekuier, dankbaar vir die reën wat die plaas nodig gehad het.

Is dit nie lekker om so 'n cool ouma te he nie?

Is dit nie lekker om so ‘n cool ouma te he nie?

Vang die druppels Sussa!

Vang die druppels Sussa!

Plase is natuurlik nie eg as daar nie ten mínste ‘n spinnekop en ‘n slang ook is nie… Ongelukkig het die luiperdwyfie en haar kleintjie wat die vorige week daar rondgehang het, so groot geskrik vir die lawaai dat hulle nêrens te sien was nie! Dalk maar goed vir van die stadsbesoekers se senuwees… van ons ander het heimlik gewens vir ‘n ou kykie in ‘n geeloog se siel.

Hierdie mooi spinnekop het dadelik my en Drinie se aandag gevang

Hierdie mooi spinnekop het dadelik my en Drinie se aandag gevang

Baba luislangetjie

Baba luislangetjie

Kan 'n mens dit eet, Blommetjie? ‘n Paar koeie het wel kom ondersoek instel na die stadsjapies en hulle vreemde gedoentes.

Kan ‘n mens dit eet, Blommetjie? ‘n Paar koeie het wel kom ondersoek instel na die stadsjapies en hulle vreemde gedoentes.

Laatmiddag is daar vars mielies gepluk uit die land en in ‘n groot swart pot gekook. Die wat nie verslind is met botter wat teen die kenne afgedrup het nie, is netjies afgesny en is pappot toe vir die aand.

397559_10200206903556461_1348021883_n

Roelf het die vorige naweek spesiaal ‘n byekorf leeggedra by ons op die plaas en as voorgereg vir die braai het ons daardie varsuitgehaalde veldheuning saam met varsgebakte brood en vars geroomde ryk plaasroom verorber. Vars man, várs!

Lekker heuning, brood en room... Poeding vir voorgereg

Lekker heuning, brood en room… Poeding vir voorgereg

Sondagoggend kon die kleintjies by die roomafskeier skuimwit melkies gaan proe, spesiaal vir hulle ‘gemaak’, soos klein Kuschke vertel het.

Mens MOET 'n wit snorretjie kan wys as jy vars 'gemaakte' melkies drink

Mens MOET ‘n wit snorretjie kan wys as jy vars ‘gemaakte’ melkies drink

Ek het die middagete gemis, en het net ‘n klein rukkie saam met die res van die familie gekuier want my pad terug huistoe was omslagtig en ons moes vroeg vertrek sodat ek nog in daglig by die huis kon kom. Dat hulle lekker geëet het is ‘n feit, ons is nogal goed met daai een…

Kos man! LEKKER!

Kos man! LEKKER!

Net vir interessantheid – ek is die kleinste volwassene in die familie, Omie die langste. Ek het die foto op Gesiggieboek gesit met die opskrif: “Die kort en die lank in die familie”, en hier is Omie se oulike kommentaar na aanleiding van die feit dat ons mekaar so baie lank laas gesien het “Jy was te kort hier, want jy was so lank weg” .  Die foto herinner my eintlik aan die uniekheid van ons elkeen. Ons het dieselfde gene, maar tog so verskillend aanmekaar gesit.

My oom is meer as 2m lank, my neef amper daar en ekke is 1.57m kort

My oom is meer as 2m lank, my neef amper daar en ekke is 1.57m kort. Ek weeg onder 50kg, en hulle nie.

Omie, ons het lekker by julle gekuier! Baie dankie vir al julle harde werk om die kampplekk skoon te maak en die warmwater geriewe wat spesiaal opgeknap is. Tannie Marthie verdien ook spesiale vermelding vir al die reëlings wat sy getref het. Elkeen van die familielede het eintlik op ‘n unieke manier ‘n bydrae gedoen om die kuier lekker te maak, dankie julle spul Winnertze en nakomeling, julle is almal puik!

Ek het by die huis gekom met ‘n warm gevoel in my hart. Ek is trots op my Winnertz bloed. Ek is trots waar ek vandaan kom en trots waarheen my familie groei. Vorentoe. Saam.

Advertisements
Categories: Familie | 4 Kommentaar

Artikelnavigasie

4 thoughts on “Winnertz familie naweek 2013

  1. lekkerjeuk

    Julle klink vir my na ‘n great familie. 🙂

  2. Dankie! Ek het geweet jy gaan alles netjies saamvat!

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

Create a free website or blog at WordPress.com.

%d bloggers like this: