Voorreg en rugbreker

Laatmiddag sit ek in die soelte op my stoepmuurtjie en hou geammuseerd die spul jong wildebesies dop wat mekaar baldadig al om die bome jaag soos ‘n spul uitgelate laerskoolkinders op die eerste dag van vakansie. Sonbesies skril verwoed voort wanneer tweetjies ewe grootmeneer koppies stamp. Die mammas luier ongestoord al vretend met die bokspringertjies rondom hulle. Rooibokrammetjies blaas alreeds agter die ooitjies aan vir volgende seisoen se oes en hardloop wye draaie terwyl ons kameelperdbul rustig sy balle staan en krap teen ‘n jong boompie wat hy afgebreek het tot nét die regte hoogte. Net ‘n entjie verder staan ‘n hoogswanger sebramerrie en skuur haar flank teen ‘n boom terwyl die tarental tjir-tjir oppad na hulle slaapboom vir die aand.

Die son blets sy laaste goue lig en eensklaps is die wildebesies se middagspel oor. Elkeen hol na sy ma en stamp gulsend die uiers na ‘n ruk se gesuip en begin dan rustig saam met die trop te wei.

Dit alles in ‘n agtermiddag se kyk. Vredevol. Rustig.. Bevoorreg. Geseënd

Maar dis nie altyd so nie en dit kom nie vanself nie.. Ons plaas is nie selfonderhoudend nie, en ons moet hard werk en groot opofferings maak om hierdie rustigheid te kan ervaar. Veldbrande. Wildstropers. Indringerplante. Alleenbly op die plaas terwyl manlief geld verdien amper vier ure se ry hiervandaan. Weerlig en nog donderweer ook. ‘n Werk doen wat nie jou keuse is nie, maar wat jy aanvaar om die lewe makliker te maak.

Ons kommer ons oor ons kameelperd koei wat nou enige dag moet kalf. Verlede jaar se kalf het sy verloor na ons haar laat ‘dart’ het vir ‘n ondersoek. Kameelperdkoeie is blykbaar oor die algemeen nie goeie mammas nie en die man van Parkeraad sê al wat hulle nog kan dink is dat sy dalk dink dat hier te min kos is en dan die kalf skop. Dus het ons besluit om ekstra voeding te verskaf in die laaste weke van haar swangerskap. Ek het lank gesoek na lusernbale en nie gekry nie. Uiteindelik het ons lusernpille gekoop en toe wil sy nie haar bek daaraan sit nie! Gelukkig weet ons sy vrek oor die Niknaks tipe tjippies en meng toe die lusern daarmee om gewoond te raak aan die smaak. Ons voer dit in wintertye wanneer dit nodig is, ‘n fabriek in Nelspruit verkoop die afval as voer want dit is maar net mielies. Nou is sy so blerrie bederf dat sy aanhol wanneer mens met die emmertjie na die voerbak toe stap.

‘n Plaas is ‘n finansiële put en dit verg fyn bestuur om nie in die modder te gly nie. Vir al die vreugdes is die opofferinge egter die moeite werd.

Kan jy kaalgat in die maanlig saam met jou man gaan stap met net die aandlug wat jou vel bedek? Kan jy die sterrewolke sien en nie net ‘n vae belofte van sterre vêr weg nie? Jou klere uitpluk na ‘n uitmergelende oggend van werk in die veld en net so in die swembad spring? Kan jy vier verskillende paddas op een slag hoor kwaak en ‘n piepklein babaduikertjie sien wegskarrel saam met sy ma? Kan jy ‘n visarend hoor roep of die diep stem van ‘n gevlekte ooruil in die nag? Kan jy in die veld gaan stap terwyl die wit skoenlappertjies migreer en die swaeltjies sentimenters van jou gesig swiep in hulle baldadige baljaar in die oorvloed? Kan jy jou trommeldik eet aan rooi-ivoorbessies en jou kiewietjies in ‘n knop trek met ‘n bloedrooi suurpruim? Kan jy asemhaal sonder dat jou sinusholtes brand? Kan jy as jy jou ore spits die blommetjies hoor groei en jou tone laat krul in ‘n modderpoeletjie na ‘n buitjie reën?

Ek kan. Vir hierdie voorregte en seëninge en nog baie meer sal ek my vingers stompies werk en die rugbreke vat in die swaar tye. Ek is gelukkig hier, ek het vrede in my gemoed. My siel het ‘n tuiste gevind.

Dankie. Vader, aan U al die eer.

Almagtige God Amos 4 vers 13

Advertisements
Categories: Plaaslewe | 6 Kommentaar

Artikelnavigasie

6 thoughts on “Voorreg en rugbreker

  1. lekkerjeuk

    Dis ‘n baie mooi beskrywing van plaaslewe, Slakkelak. Die soet en die suur. Ek het lekker gelees.

  2. Mooi geskryf

  3. Kameel

    So tussen pannekoekbak deur heerlik gelees!!!

  4. Pragtig. En ja, ek sou seker ook kaal kon buite loop as ek wou….. maar ek wonder darem!! 🙂

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

Create a free website or blog at WordPress.com.

%d bloggers like this: