Ons Ouboet word sestig

Vandag sestig jaar gelede is ons Ouboet, Koos van Rensburg, gebore. Tegnies is hy ons swaer, maar hy speel so ‘n groot rol in ons lewens dat hy eie familie is.

Koos en Drinie

Koos en Drinie

Ek was in standerd een toe Drinie hom huistoe gebring het, en in ‘n gesin met sewe dogters en een kleuter boetietjie, was ‘n mansfiguur ‘n rare ding! Koos was so geduldig met my en my twee jonger sustertjies en het  ons nooit, ooit afgejak wanneer ons sê: “Swaai ons nog ‘n keer ‘seblief” nie. Nooit.

Dis in my geheue afgeprent hoe ons kompetisie gehou het om te sien wie sien eerste sy wit Simca karretjie wanneer hulle vir ‘n naweek kon wegbreek van hulle universiteitstudies, en dan die gehardlopery om eerste by die kar te wees wanneer hulle uitklim. Natuurlik het ons na ons sussie ook verlang… maar Koos het ons op sy nek laat klim en rondgeswaai, iets wat ons pa nooit met ons gedoen het nie. In ‘n groot mate was hy vir my ‘n vaderfiguur.

Ek het die afgelope naweek die rustigheid waarmee Koos aandag aan ons as kleintjies gegee het weer gesien in die manier waarmee hy sy kleinkinders behandel het. Met net soveel geduld het hy saam met Ivan en Luka krieket gespeel, en keer op keer vir Ivan nog ‘n kans gegee om te kolf wanneer hy hom direk uitvang; en vir Luka nog ‘n kans om windskeef te boul.  Vir Luka het hy die vorige dag geleer om ‘n frisbie te gooi, en eers opgehou toe Luka verveeld begin raak.

Iets wat vir my besonders aan Koos is, is die rustige manier waarop hy die lewe hanteer. Ek het hom nog nooit in woede sien optree nie, konflik word op ‘n sagte maar ferm manier hanteer sonder dat daar ‘n groot baklei is. In sy werk, familie en skoonfamilie is hy ‘n leier wat gesag en respek outomaties kry, hy hoef dit nie af te dwing nie.

Wanneer ‘n mens in ‘n verhouding is, is dit so maklik om die hasepad te kies wanneer dinge swaar raak. Koos en Drinie het ‘n besluit geneem dat hulle hulle huwelik gaan MAAK werk, en enige iemand wat hulle bymekaar sien, sal kan vertel dat hulle ‘n voorbeeld is vir almal en hulle is ‘n gedugte span. Hulle drie kinders is met baie liefde en goeie waardes groot gemaak.

Koos kom uit ‘n groot familie, en het in ‘n groter een ingetrou. Toe hulle begin beplan het aan sy verjaardag viering, het hulle gou gesien dat dit logistiek moeilik gaan wees. Gelukkig is die twee families is nie vreemd vir mekaar nie, en kom in meer as een opsig ‘n lang pad saam. Uiteindelik het hulle besluit om ‘n plekkie te kry waar almal kan oorslaap en wat sentraal is vir almal om te bereik. Die hele familie en skoonfamilie was toe hierdie naweek by Nylsvlei, alles op Koos en Drinie se onkoste.

Drinie self is ‘n organiseerder van formaat, en die naweek is haarfyn beplan. Sy het die meeste van die kos wat vooraf bereibaar was by die huis gedoen. Al wat ons moes doen, was om elkeen een keer te help met die kos, en elkeen moes sy eie skottelgoedjies was. Sy het ‘n rooster opgestel in detail, my bydrae was byvoorbeeld om te sorg dat die pampoenpasteie betyds warm gemaak en gesny is vir die verjaardagete Saterdagaand.

Hulle het vooraf die plek besoek en vir almal ‘n behoorlike inligtingstuk gestuur met behoorlike aanwysings, foto’s van hoe die kamers lyk en alles wat ons te wagte kon wees. Vir die storte wat nie gordyntjies het nie, het Drinie vinnig ‘n plan gemaak en almal kon in privaatheid stort.

Om die kuier ‘n bietjie interessanter te maak, het hulle ‘n tema gekies vir die Saterdag se verjaardagviering. Elkeen kon sy gedagtes laat gaan en bietjie uithaak met “Ek lyk nie elke dag so nie”, met die klem op commin en zef.

Dit was ‘n skreeusnaakse affêre en oud en jonk het entoesiasties deelgeneem. My agt-en-sewentigjarige ma het met groot detail van kop tot toon aandag gegee aan haar mondering. Kniehoogte sykousies by ‘n dienlike paar toerygskoene, onderrok wat uitsteek, bloedrooi lang naels, en ‘n serpie en hoed om die grimering te komplimenteer. Haar valstande het sy in ‘n banksakkie rond karwei en dan kamstig geteug aan ‘n sigaret met daai pap bekkie.

Party se hare is geskeer vir die okkasie, ander is getease tot ‘n koekery . Tattoes op vreemde plekke het skielik opgeduik…selfs die kleintjies is aangetrek. Wat ook skreeusnaaks was, is moderne mans wat skielik ‘n blokkieshemp aantrek en outydse kantpaadjie in die hare dra, iets waarin hulle nooit, ooit andersins gesien wil word nie.

Oupa Piet van meer as tagtig het twaalfuur botweg geweier om te gaan slaap en het tot vroeë ure saam met die jongklomp gesit om die kampvuur en grappies vertel.

Dit was ‘n fenominale naweek van lekker kuier en baie pret. Wat vir my opvallend was, is dat niemand ooit lelik was met iemand nie, niemand het hulle sleg gedra nie, niemand het te veel gedrink nie, selfs die kinders het nie baklei nie… en ons was meer as sestig mense!

Ons het Koos se verjaardag sommer vroegtydig vir ‘n hele naweek gevier, maar vandag, op sy spesiale dag, sê ek namens ons hele familie vir hom baie geluk.

Ouboeta, baie geluk met jou groot verjaardag. Baie dankie vir die manier waarop ons jou groot dag saam met jou kon vier. Baie dankie vir dit wat jy vir ons almal doen. Jy is vir ons almal spesiaal. Baie. Mag ons Vader jou ryklik seën met goeie gesondheid en ‘n gemaklike lewe so lank jy vir ons gespaar sal wees.

Vir jou spesiaal sing ek vanaand:

Mag ryke se seëninge

uit Sion jou bedou:

mag jy die goeie dinge

van Sionstad aanskou!

Mag jy nog, op jou bede,

‘n nakroosseen verkry!

En, God van alle vrede,

Mag Isr’els vrede bly!

Advertisements
Categories: Familie | 5 Kommentaar

Artikelnavigasie

5 thoughts on “Ons Ouboet word sestig

  1. Baie geluk Koos van Rensburg_ ‘n wonderlike getuienis van ‘n man wat ‘n reguit pad stap in die lewe! En Slakkelak, Nylsvlei is net anderkant waar my fietsoefenroete ophou. Vanmiddag weer by Kranskop geaien hoe mooi loop onse Nyl, hoop julle het ‘n fantastiese tyd gehad! Die natuur lyk nou mooi na die reên.

  2. Ons ouboet is baie spesiaal vir ons. En jy is reg, sy pad is reguit en eerbaar. Ek het BAIE BAIE respek vir hom en en my sus. Ek het aan jou gedink die naweek Donkie! Die veld is pragtig in die hele omgewing, ek kan sien daar was goeie reen.

  3. Kameel

    Terwyl ek lees het ek gedink hoe wonderlik dit is om so te lewe, dat ander so ‘n mooi getuienis oor jou kan skryf. Bly om te sien julle het dit so geniet….. het julle elke dag so gelyk sou ek begin wonder het 😆

  4. nou maar geluk van my kant ook hoor……
    laat my dink aan my gunsteling geliefde oom Johan, hy was my oom maar eintlik was hy soos ‘n ouboet vir my, want hy was net so ses jaar ouer as ek, en het met al die geduld in die wereld vir my geleer hoe om ‘n wip te stel vir voëltjies, en my trane afgevee toe ek my morsdood wou grens oor die voëltjies wat ons dood gemaak het, en op sy rustige sagte manier vir my verduidelik dit is Jesus se kossies wat Hy vir ons gegee het, en later toe my trane opgehou loop het het hy my vertel van die manna en kwartels wat God vir sy mense gegee het toe hulle honger was……
    hy is nie meer met ons nie, het so twaalf jaar terug vedrink, maar met hierdie blog van jou het jy hom vir my weer op die voorgrond van my herhinnering gebring……. sulkes soos hy en jou ouboet-swaer is maar min gesaai

  5. Baie dankie vir hierdie Tienster-inskrywing! Koos is vir my en ook vir John baie spesiaal, en dit was ‘n voorreg dat hy onlangs bietjie kom kuier het.

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

Create a free website or blog at WordPress.com.

%d bloggers like this: