Letsels

Dink vir ‘n oomblik aan ‘n fisiese wond soos ‘n sny. Ontsmet en versorg die wond, en hy word vinnig gesond sonder dat sigbare letsels gesien kan word. Verwaarloor egter dieselfde sny en hy vrot; en wanneer dit uiteindelik gesond word is die letsel onooglik en hinderlik op jou lyf.

Geestelike wonde werk maar op die selfde manier. Die letsels wat mens oorhou na ‘n trauma is die direkte gevolg van hoe jy jou wonde hanteer. Net soos jyself klein fisiese wondjies kan versorg en self behandel aan jou lyf, so kan jy ook klein geestelike wonde hanteer. Sommiges egter is net te groot vir jou alleen, en jy het kundige hulp nodig. Soms het jy meer as net kundige hulp nodig, maar dit verg dat jy self moet besluit om jou hand uit te steek.

Ek put baie krag uit die natuur, wanneer ek in die veld stap is dit deel van my stiltetyd met my Vader. In hierdie spesiale tyd openbaar Hy vir my oplossings vir kwellinge, bemoedig my in swaar tye en wys dat Hy my blydskap sien. Vir elkeen van my emosies is daar iets in die natuur, vir elke menselike kenmerk is daar ‘n weerspieëling in ‘n gogga of ‘n ding se gedrag.

Wanneer ek sulke prag aanskou het ek vrede in my hart en in y gemoed

‘n Paar maande gelede het ons ‘n veldbrand op die plaas gehad.  Ek deel graag sommige van die dinge wat ek ervaar uit die gebeurtenis.

Selfs in die eerste direkte oorblyfsels was hierdie brandende stomp ‘n liggie om my te wys waar om te loop in die duisternis, al was hy ‘n potensiële nagmerrie vir die volgende dag.

‘n Enkele brandende stomp word ‘n liggie in die duisternis, ‘n enkele gebaar van liefde ‘n simbool van hoop.

Aanvanklik het alles net na roet en as gelyk. Selfs die eerste dag na die brand al kon mens sien dat daar lewe is. Oppervlakkig dood, maar waar die wortels in vastigheid groei en net ‘n bietjie dou ontvang het, stoot die lewe onmiddellik uit. Die as verskaf nutriënte om hierdie nuwe groei te versterk.

Wanneer trauma plaasvind in jou lewe, dan voel mens gewoonlik soos hierdie prentjie. Vaal, grou, verlate, afgestomp van emosie, dood

Sommige plante en diere het ongelukkig gesterf, dis onafwendbaar met ‘n vuur so groot.

In een organisme se dood, is daar verskeie wat weer kan lewe. Elkeen van ons is maar deel van die ewige siklus van stof tot stof, net ons siele vind ‘n ewige huis by ons Vader.

Hulle het egter nie verniet gelewe nie want hulle nutriënte is nou weer beskikbaar vir die wat wel oorleef het, en nou in oordaad lote uitstoot soos hierdie Drolpeer.

Nou, maande daarna is die effek van die veldbrand nog duidelik te sien. Gedink ‘n stuk van jou het afgebreek in jou trauma? Kyk na hierdie klip en weet die afgebreekte stuk is op die lang duur besig om kleiner en kleiner te breek om uiteindelik te omvorm tot gronddeeltjies wat wanneer dit gemeng word met organiese bestanddele weer lewe gaan voortbring.

Selfs abiotiese komponente soos klippe word deur die natuur gebreek in kleiner en kleiner stukkies om later grond te vorm wat saam met dooie organiese materiaal vastigheid en nutriënte verskaf vir nuwe lewe

Voel jy dood in jou gemoed? Dink jy jou trauma is so groot dat alles in jou afgesterf en afgestomp is? Kyk dan na hierdie stukkie stomp en weet dat by ons Vader niks onmoontlik is nie.

Gedink alles is tot niet en jy gestroop van enige lewe? Nee, daar is altyd hoop. Altyd.

Waar daar hoop is, is daar lewe; en waar daar lewe is, is daar groei. En waar groei is, daar is God. Trauma, wonde en die letsels agterna is maar net deel van die ewige siklus van groei. Jy kan nie kies watter trauma met jou gaan gebeur nie, maar jy kan kies hoe jy dit gaan hanteer. Kies vandag om jou hand uit te steek en die pad te loop met Iemand wat jou gaan dra. Sy Hand is altyd uitgesteek na jou. Vat dit net.

2 Kor. 4:17 “Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op ‘n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly.”

Vrede en liefde vir jou in die verwerking van jou eie traumas

Advertisements
Categories: Slakgedagtes | Sleutelwoordw: ,,, | 7 Kommentaar

Artikelnavigasie

7 thoughts on “Letsels

  1. Hierdie veldplasings van jou is vreeslik kosbaar.

  2. Dankie. Dis maar wat ek sien en miskien beteken dit vir iemand iets positiefs wat swaarkry. Baie baie mense beland op my blog met soektogte vir traumahantering en net dalk kan ek vir iemand iets beteken. Ek het dit al ‘n week terug geskryf maar sukkel met opvangs om te upload wanneer dit bewolk is.

    • Die trefwoorde is baie insiggewend. Dit is bv ook waarom ek oor gordelroos skryf, as jy sien hoeveel mense soek daarvoor. Soveel mense voel alleen in hulle belewing van iets.

  3. sjoe, wat ‘n pragtige lewensles . ek hoop baie lees hier en word bemoedig.

  4. Kameel

    Treffend.

  5. Dankie Slakkie!! Pragtig! En dankie dat jy vir ons so ‘n fantastiese voorbeeld is. Ek kry ook baie troos uit die natuur. God praat ook met my deur die natuur.
    Een laatmiddag het ek gaan stap. Skielik gaan staan ek stil en kyk na die wolke. Die gedagte kom by my op: Dis so mooi…. of wil God my dalk van iets waarsku? Toe ek by die huis aankom was die plaasbestuurder vir my met nuus… wat ‘n waarskuwing nodig gehad het! God is SO groot!

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

Create a free website or blog at WordPress.com.

%d bloggers like this: