Bekentenis van ‘n giffiedief

Lank, lank gelede was daar ‘n kind. Die kind het haar kinderlewe onbevange geleef, beskerm in ‘n kokon van ‘n oordentelike lewe.  Maar dalk was sy self nie so oordentelik as wat almal gedink het nie, want op ‘n dag het sy iets gevat wat nie aan haar behoort het nie…

Giffie is ‘n kinderspel waar drie gaatjies in die grond gegrou word so paar meter uitmekaar in ‘n reguit lyn. ‘n Ghoen, wat gewoonlik ‘n platterige klip is, word dan van gaatjie tot gaatjie gegooi. Wanneer jou ghoen in die gaatjie land, mag jy verder gooi totdat jy mis. Die spel begin om eers te bepaal wie gooi eerste, waar mens direk vanaf die beginpunt na die laaste gat gooi. Naaste aan die gat begin. Daardie posisie is ‘Jack’. Dan speel mens terug na die beginpunt wat ‘Queen’ is, en weer terug wat dan die ‘King’ posisie word. Eerste persoon by King begin dan die ander spelers elimineer deur op hulle ghoens te gooi. Wanneer jy met die eerste gooi direk in die ‘Jack’ gooi, is jy onmiddellik ‘King’. Mens mag ook ‘n opponent se ghoen ‘nick’ om jou eie in die gat te kry. Dis wanneer jy die ander ghoen raakgooi en joune val in die gat.

Die kind het mooi in goed gesien wat ander mense as vanselfsprekend aanvaar het. Haar ma het vir haar ‘n klomp rivierklippies in paraffien in ‘n glasbotteltjie gebêre wat sy op haar oupa se plaas opgetel het. Die paraffien het dit laat lyk asof dit vars uit die rivier kom. Simpel goed soos rooi Chamberlain’s- en swart vanillabottelproppies was vir haar kosbare besittings.

Dis vandag nog so by laerskole dat daar speletjieseisoene is. Julle weet mos, daar kom ‘n albasterseisoen, ‘n rekspringseisoen, ‘n hopscotchseisoen… So het dit gebeur dat giffieseisoen aangebreek het in ‘n seisoen in die kind se lewe wat sy nooit sou vergeet nie.

Die kind was goed met giffie. Êrens het sy ‘n swaar plat stuk yster gevind wat ideaal in haar hand gepas het. Sy het gou ontdek dat ‘n lekker swaar ghoen beter rigting hou as ‘n ligte.

Een Maandag het ‘n ander dogtertjie baie selfvoldaan kom ‘brag’ met haar nuwe ghoen. ‘n Perfek simmetriese, plat ovalerige rivierklippie wat sy iewers oor die naweek bekom het. Die kind was stom. Hoe KAN iemand giffie speel met iets so perfek? Sy het daardie dag versigtig gespeel en nie gewen nie. Sy kon dit nie oor haar hart kry om met haar groot ysterghoen naby daardie stukkie perfektheid te kom nie.

Terug in die klas het sy skielik ‘n nood ontwikkel en oppad na die toilette vinnig by hulle speelplek gaan draai en die stukkie perfektheid gaan red. Dis hoe sy dit gesien het. Nie steel nie. Nee. Red.

Vandag is my hart baie seer. Daar was ‘n blommetjiedief in my huis. Ek weet nie of dit ‘n kind blommetjiedief of ‘n grootmensblommetjiedief was nie. Ek weet net daar was ‘n blommetjiedief.

Toe my huis afgebrand het, was ek gedwing om binne ‘n bepaalde tydsverband die opruimingswerk te doen want anders kon ek nie weer ‘n nuwe huis bou nie. Met die brand vroeër hierdie jaar is dit anders. Niks jaag my nou op op te ruim nie. Ek sien in elk geval nog nie kans daarvoor nie. Ek gaan kort-kort soontoe met die doel om te begin, maar ek krap-krap net so bietjie dan oorweldig my emosies my. So het ek nou al ‘n paar kosbaarheidjies uitgekrap en net eenkant gesit om later te gaan haal. Daar is ‘n paar kleinighede wat albei brande oorleef het.

Net voor die brand het ek ‘n muurmosaïek begin beplan en die meeste van die benodigdhede aangekoop. Dit het keramiekblommetjies soortgelyk aan hierdie enetjie bevat.

Van hierdie blommetjies het die brand oorleef. Saam met dit het ek keramiekskulpies en ‘n seeperdjie gesit wat beide brande oorleef het. Kosbare goed. Hartsbesittings.

Ek en Marina het met die brandrommel begin handwerkartikels maak, sy in die vakansie en ek hiedie naweek. Iets uit niets.

‘n Stuk geroesde doringdraad, ‘n tjipslepel en nog ander flenters rommel kry ‘n nuwe lewe in my huis

Die giffiedief het die dogtertjie se ghoen bewaar vir baie, baie jare. Sy het dit immers gered, en daarom moes sy dit oppas. Sy het dit eers verloor toe haar huis baie jare daarna afgebrand het.

Blommetjiedief. Mag jy eendag vrede vind.  Die blommetjies het ek net anderdag gekoop. Maar my skulpies en seeperdjie… My hart huil baie seer … want hulle was driedubbeld in die vuur. Ek het hulle self uit klei gemaak, glasuursel opgesit en gebak. Pas hulle op. Pas hulle asseblief net op.

Advertisements
Categories: Lankal terug, Slakverdriet | 7 Kommentaar

Artikelnavigasie

7 thoughts on “Bekentenis van ‘n giffiedief

  1. En wie was die eienaar van die giffie ghoen? Kan jy haar reaksie onthou toe sy gevind het dis weg? Klink my sy was argeloos daarmee.
    Iewers iewers is iemand besig met ‘n spesiale plan met daardie skulpies en seeperdjies, anders sou jy dit nie in die klas laat bly het nie. Dis deel van die groot legkaart. Ek hoop tog net ons kry eendag antwoorde op hierdie goed!

    • Die ghoeneienaar was nie argeloos nie. Dit was haar spesiale ghoen wat ek gesteel het. Sy was hartseer en ek het net stilgebly, en gemaak of ek saam met die ander help om daarvoor te soek die volgende dag.

      Die blommetjies, skulpies en seeperdjie is nie uit my klas geneem nie. Dis geneem waar ek dit bo-op die gebrande tafel neergesit het, net daar waar ek dit uitgegrou het onder die swart as. In geldwaarde is dit seker omtrent R200 se goed, in my waarde onvervangbaar. Net soos die dogtertjie se ghoen vir haar.

      Die wiel het seker maar gedraai vir my. My legkaartjie het ‘n voltooide blokkie. Iemand anders s’n het ‘n gaatjie.

  2. Ai, Slakkelak, ek dink nou so. Hier le ‘n paar goedjies wat die brand oorleef het, verlate op ‘n swartgebrande tafel. Miskien het daar iemand gekom, dit gesien, en gedink dit is mooi. Toe dink sy sy moet dit red en bewaar. Ek is doodseker sy sal dit mooi oppas.

    • ja, ek hoop hy of sy pas dit mooi op.Dis net die seeperdjie en skulpie wat onvervangbaar is, want ek het dit self gemaak. Maar dit het my weereens laat besef dat ek nie waarde moet heg aan aardse besittings nie.

      • sjoe, jy leer dit aanmekaar op so ‘n harde manier! Ek self sal maar sukkel om dit te leer.

  3. Kameel

    Hoop die persoon wat jou skatte geneem het, pas hulle so mooi op soos jy daardie klippie opgepas het 😉

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

Create a free website or blog at WordPress.com.

%d bloggers like this: