Wanneer omgee deel van plig word

Vandag was Madibadag en ek het baie gemengde gevoelens oor sulke dae. Vir my beteken om te gee moet uit jou hart kom. Wanneer jy ‘gedwing’ word om iets goeds vir iemand te doen, het jou daad werklik betekenis?

Omgee en liefde is maar net sinonieme van mekaar.

My sus Annemarie het ‘n sakkie bloed gaan skenk, dis toevallig op hierdie dag, want dit is haar twee en sewentigste sakkie. Ek dink ek kan haar onder die kategorie sit van omgee uit haar hart. Hoeveel lewens het daardie sakkies bloed al gered?

Op Facebook het sus Trisa ‘n klip in die bos gegooi met: “Hoe belaglik is hierdie 67 minuut ding! As jy nodig het om herinner te word om ‘n goeie daad te doen, en dit nog te time ook, kan dit mos nie uit jou hart kom nie? Doen jy nie van nature goeie dinge nie?”

Haar eie mening is egter: “ENIGE goeie daad, ENIGE tyd, is ‘n goeie daad. Al kom dit nie uit jou hart uit nie, die ander party trek darem die voordeel.”

Sus Magda beaam ook hierdie siening “Ek dink tog vandag is spesiaal. Madiba raak mense aan op vreemde maniere. En vir party is dit die begin van naasteliefde uitleef, as hulle 67 gedwonge minute vir hulle so bevredigend is, hou hulle aan.”

Die regering neem hierdie dag baie ernstig op, en by die skool moes ons vandag bewys lewer dat ons sewe en sestig minute afgestaan het aan omgee met die kinders. Hulle moes tot ‘n spesiale teenwoordigheidsregister invul wat ons moes terugstuur na die departement as bewys.

Ons skool het kruideniers- en toiletware ingesamel vir liefdadigheid. Uit my registerklas van vyf en twintig kinders het daar ‘n groot pak graankos en vyf blikkies gekom. Dit was al. Elke personeellid is ook gevra om bemoeienis te maak met die leerders in hulle klas, om iets oor omgee met die kinders te deel.

Elke oggend open ek of een van die leerders die oggend met ‘n skriflesing en gebed. Vanoggend het ek self die beurt gevat, en heel eerste innerlik gevra vir leiding vir hierdie taak, vir ‘n boodskap vir hierdie kinders oor hierdie Madibadag. Ek het my klas Bybel oopgemaak en dit het op die volgende oopgeval, en ek het slegs hierdie een vers vir die kinders gelees: Ps 115:1 “Nie aan ons nie, Here, nie aan ons nie, maar aan u Naam kom die eer toe, want dit is U wat liefde en trou bewys.”

Ek sou hulle lank kon besig hou met omgee, want ek het baie om te vertel oor die onderwerp. In die tyd wat ek gehad het, het ek vir hulle vandag vertel van die omgee van mense vir my en my gesin die afgelope jaar en ‘n half. Van hulle het saam met my gehuil toe ek vir hulle vertel

  • van mense wat vir ons sakke kos en klere gebring het
  • van geld wat in ons rekening inbetaal is, nie net van ryk mense nie, maar van ook van mense wat self finansieel sukkel
  • van familie en vriende wat met handewerk kom help bou aan ‘n nuwe huis en nuwe meubels
  • van al die gebede en liefde
  • van God se hand in ons lewe
  • dat ek dit waardeer het dat van hulle my getroos het na die brand met ‘n ou briefie
  • dat ek weet van die kind wat dieselfde dag ‘n geldjie by die kantoor gaan inbetaal het sodat hulle vir my iets kan koop

Dan was daar nie eers tyd om hulle te vertel van

  • jou agt en sewentig jarige ma wat vir jou al haar gunsteling resepte afskryf omdat al jou resepteboeke verwoes is in ‘n brand (en dis baie, want sy is líéf vir bak en brou). Dis gedoen met rumatiekhande en ‘n ‘dom’ hand na ‘n beroerte.

en dan is daar klein notatjies by elke resep

  • jou ma wat vir jou ‘n benekombersiegehekel het vir die koue aande wat jy moet boeke merk

    Te mooi om mee te bad

  • die fynste kruissteek geborduurde waslappie van jou sussie met rumatoïede artritis. Sy wat elke dag haar dag aanpak in geloof, want as sy nie daaraan kan vashou nie, sal sy nie die pyn in haar liggaam kan hanteer nie
  • van mense wat hoor daar is ‘n veldbrand op jou plaas en dan sommer net self kom help
  • van presentjies op jou stoel in die personeelkamer. ‘n Pakkie met die pragtigste armbande omdat iemand weet jy hou van iets wat klingel aan jou arm. Mooi klere. ‘n Sakkie vol kraletjies omdat iemand weet jy hou daarvan om jou hande besig te hou. Ietsie lekkers om te eet.
  • van jou familie wat vir jou fotos van jou kinders uit hulle albums haal

Dis maar net enkele dinge waar mense vir my omgegee het, die lys is eintlik ellelank.

Ons almal het soms ‘n behoefte vir omgee en liefde. Net ‘n drukkie. Net ‘n ekstra glimlag. Ek het vir my kinders gesê dat ons elke dag vir mekaar moet omgee. As voorbeeld het ek vir hulle vertel dat my pa nou die dag verjaar het, en ek het verlang na hom en sou net wou hê iemand moet weet en aan my dink. Ek het ‘n voorstel gemaak en dis so aanvaar. Daar is van nou af ‘n “Please think of me today” boksie in my klas waarin hulle ‘n briefie kan gooi sodat ons almal die volgende dag vir daardie persoon kan omgee. Dit mag anoniem ingegooi word. In ‘n af periode het ek sommer die boksie se gleufie ingesny en hy is reg vir môre. Ek sal sommer self ‘n briefie ingooi om die ys te breek.

Eers netnou toe ek hierdie begin skryf het en my dag in oordenking geneem het, het ek onthou van ‘n ander voorval in my dag. Dis ysbibberkoud by ons op die oomblik. Dis die hartjie van die winter, hier is ‘n koue front en daar is kinders wat sonder truie skool toe kom. Regtig! Wanneer jy vra of hulle nie koud kry nie, dan lag hulle en sê jy moet kom voel. Dan is hulle lywe en hande warm en jy glo hulle. Maar vandag was daar enetjie met dieselfde velkleur as ek wat gesit en bibber het, en sy antwoord was dat hy sy trui in die eksamentyd uitgetrek het, vergeet het daarvan en nou is hy weg. Hy hoef nie te sê daar is nie geld vir ‘n ander ene nie, ek weet dit. Minder as ‘n halfuur later het hy nie meer gebibber nie, al kon ek dit nie self koop nie, kon ek dit reël.

Vandag was ek deur my werkgewer ‘gedwing’ om omgee op een of ander manier uit te leef. Ek het, maar dit het ook uit my hart gekom. Dis hoe ek grootgemaak is. Dis deel van wie ek is.

Elke dag is ‘n ervaring in ‘n mens se lewe. My ervaring van vandag het my twee dinge laat besef. God is altyd by ons. Hy wil ons gebruik om Sy Naam te eer, want Hy is groter as enige mens. Madiba of nie Madiba nie. En dan het ek besef dat Magda reg is, dat daar wel iets goeds kan kom wanneer jy gedwing word om naasteliefde uit te leef, want dit raak dalk iemand aan wat dit werklik nodig het, of dit uit jou hart gekom het of nie.

Advertisements
Categories: Familie, Omgee | Sleutelwoordw: , | 12 Kommentaar

Artikelnavigasie

12 thoughts on “Wanneer omgee deel van plig word

  1. Dis ‘n baie spesiale skrywe hierdie.

  2. Reblogged this on Kleinmond Self-Catering Accommodation and commented:
    Meestal is ek baie gelukkig met myself, met die mens wat ek is. Maar soms wens ek kon iets verwoord soos iemand anders, of iets voel soos iemand anders. Gisteraand toe ek notification van hierdie kry en die inskrywing op my BB in die bed lê en lees, het ek gewens dat ek ‘n stukkie van sus Slakkelak se karakter gehad het. Sy is deesdae al hoe meer ‘n inspirasie vir my. Dankie, Kobie!

    • Fout, ek wou dit reblog op my Maankind blog!

    • Ons het elkeen ons eie karakter. As ons almal dieselfde was sou dit maar ‘n vervelige ou lewe wees en sou niemand kon persoonlike groei ervaar nie. Nou leer ons bymekaar en elkeen kan aanlas by sy persoon.

  3. Terug pieng: As jou vinger te lig op ‘n knoppie is… « MaanKind

  4. Dankie, Slakkelak. Ja, ons moet elke dag goed doen, maar soms is dit net nodig om ‘n bietjie herinner te word daaraan.
    Baie dankie

  5. ‘n Baie lekker lees, dankie Slakkelak!

  6. Terug pieng: Hoeveel lewens het jy al gered? « MaanKind

  7. “Omgee kind!
    ek doen een keer per week ‘n program oor “ons gee om” op ‘n radiostasie en dit is vir my goed om altyd oor hierdie aspek met die luisteraars te praat, want dit is tog die voorbeeld wat Jesus die seun van God vir ons gestel het tydens sy wandeling op die aarde – Hy het so baie liefde uitgeleef dat Hy almal na Hom toe aangetrek het , selfs sy vyande

    Baie dankie vir hierdie inspirerende , hartroerende omgee voorbeeld in jou dialog , mag God jou versterk om meer en meer om te gee ,

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

Create a free website or blog at WordPress.com.

%d bloggers like this: