Die somer is oppad julle, die somer is oppad!

Ek wonder soms waarom die meeste mense dink dat onderwysers baie verlof het. Indien jy nou nog nie weet nie – dis ‘n mite. Ons moet vraestelle en vraestelle merk in skoolvakansies (dié is  net vir kinders!!) en dan moet party nog kinders op toere ook vergesel indien dit deel van hulle werksindeling vir die jaar is. Ek doen nie sportafrigting nie, maar het weer meer administratiewe werke wat ek moet doen.

Die winterskoolvakansie is nou amptelik op sy rug en ek het by niks van my persoonlike dinge uitgekom nie. Daar is darem voordele soos een van my kollegas sê – mens kan in jou kamerjas met ‘n beker koffie sit en merk; en as jy op ‘n plaas woon soos ek, dan is daar Janfrederikke, Tiptolle, ‘n mooi Speg,  sebras, kameelperde en ander mooi goeters wat jou aandag deur die venster kan aftrek.

Gister het iets vreesaanjaends egter mý aandag afgetrek. My staffie hond het sy slangblaf gegee en toe ek uitstorm vind ek hom al dansend om ‘n meer-as-drie-meter Mamba! Hy is ‘n gesoute Mosambiekse spoegkobravanger, maar vir hierdie een was hy instinktief meer versigtig. En dit minder as twintig tree van my slaapkamer skuifdeur af! Ons het nie op die oomblik enige vuurwapens nie, en ek het ‘n lang stuk yster gegryp vir ingeval… nie regtig om die slang mee aan te durf nie, meer as ‘n troos indien ek regtig moet.

Die oomblik toe ek vir Boesman begin roep om na my toe te kom, was hý net meer vasberade om mý te probeer beskerm. My keel was seer geskree toe hy uiteindelik vir ‘n slitsekonde sy aandag van die slang afgehaal het. Dié het oombliklik in ‘n klein boompie opgeseil en ek dog die boompie gaan knak onder die gewig! Gelukkig het Boesie dit nie gesien nie, en na nog ‘n paar roepe het hy na my toe gekom. Met een oog op die slang, en een oog op die hond om seker te maak hy is nie gebyt nie, het ek maar bewend gestaan van al die adrenalien.

Dis absoluut ongelóóflik hoe vinnig Mambas is. Die slang het nooit vir Boesman werklik probeer byt nie, dit was meer ‘n kwessie van: gaan weg jy irriteer my met jou geblaf! Toe die hond vir ‘n slitsekonde sy aandag op my geplaas het, het die slang gevlug in plaas van aangeval. Dit kon net sowel anders gewees het. Een ding weet ek, ek gaan defnitief nie met ‘n stok na ‘n mamba slaan nie. Al was dit by my huis, is ek bly die slang is weg en nie dood nie. Daar is ‘n hele paar rotte wat egter nie lekker gaan slaap vanaand nie!

Ek stap in die somer baie in die veld wanneer ek Lantana spuit, maar ek kan letterlik op my een hand tel hoeveel keer ek al slange teëgekom het in die agt jaar wat ons op die plaas bly; en net een keer was dit ‘n mamba en dit was ‘n monster groter as hierdie een.  By die huis kry ons in die somer baie Mosambiekse spoegkobras, hierdie is maar die tweede mamba wat ons by die huis kry. Al wat ek gereeld gewaar is die Groengespikkeldebosslangetjie wat in die Eskom se vooruitbetaalmeterboksie bly. Hy bly nou al meer as ‘n jaar daarin, en glip vinnig agter die metertjie aan die binnekant  in wanneer mens dit oopmaak.

Na ons slangonderonsie het ek nog ‘n rukkie buite gestaan en sien toe twee oulike goed. Ongeveer tien kilometer van my af was daar vanoggend ‘n brand, en hierdie flentertjie blaarassies het uit die lug neergedaal om neffens my kamerdeur teen ‘n graspolletjie te kom lê om ekstra nutriënte vir die seisoen se groei  te verskaf.

Kyk net hoe perfek het hierdie assie gebly, meer as 10km aangewaai deur ‘n lugstroom

Terwyl ek dit bestudeer, sien ek toe daardie graspolletjie en al die graspolletjies rondom het sulke walletjies om die polletjies. My eerste gedagte was miere, maar toe onthou ek die sebras se blaas en kou in die oggende. Is dit nie te oulik nie… mens kan duidelik sien hoe hulle die polletjies oopblaas om dan allerlekker te kan knibbel aan die grassies.

Regs onder op die foto is die oorblyfsel van ‘n bietjie sebra drool…

Dis lékker om op die plaas te bly. Slange en al. Want nou weet ek verseker, as die slange begin loop beteken dit net een ding – die somer kom en dan LEWE ek weer!

Advertisements
Categories: Plaaslewe, Skoolhou | 4 Kommentaar

Artikelnavigasie

4 thoughts on “Die somer is oppad julle, die somer is oppad!

  1. Jy kyk met ‘n oog wat ek nie ken nie na julle plaas. Hier vries my voete vandag, min 10 max 12. Ons het ‘n ongewone koue winter.

    • Ek ervaar LEWE met my hele wese en al my sintuie, en ek probeer wanneer ek iets SIEN ook te onthou of ek iets gehoor of geruik en gesense het. Ongelukkig maak hierdie deel van my persoonlikheid dat ek my dinge baie sterk aantrek op emosionele vlak en dan raak ek depressief en keer in myself. Deur my ervarings met ander mense te deel, maak weer my deure oop na buite.

      Dis by ons ook mislik. Dis bewolk en triesterig. Darem max 20.

  2. Kameel

    Geen wonder MaanKind het geskryf “Staal,” toe sy oor jou en die brand op julle plaas geskryf het nie. Net ‘n vrou van staal kan daar tussen die slange en gediertes bly, en daaroor bly wees!!! Ek sou gehardloop en daardie skuifdeur gaan toemaak het 😯

    • My enigste gedagte was om my geliefde hond weg te kry van die slang af Kameel. Van alle slange is ek net bang vir Mambas en boomslange. Hulle is net te giftig en te vinnig. Die gedagte om nader te gaan met daai stuk yster het my lam gemaak van vrees, maar my hond is my familie.

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

Create a free website or blog at WordPress.com.

%d bloggers like this: