Die mens wik, maar God beskik

Dis vir my vreeslik hoe ‘n wat jy dink ‘n normale dag in jou lewe sou wees, skielik ontaard in ‘n nagmerrie. My sewe maande swanger kind kuier bietjie by my en op ons beplanning vir gister was om vir babatjie haar laaste paar goedjies te gaan koop, dan lekker tee drink met een van haar vriendinne en om daarna bietjie by die InniBos feesterrein te gaan draai. Ons eet elkeen net ‘n beskuit voor ons ry, want ons beplan lekker eet in die Mall.

Maar die mens wik en God beskik. Ons was nog in die Illanga mall in Nelspruit toe my vriendin Bianca bel. “Kobie, waar is jy?” Wanneer iemand dit vir my vra, dan weet ek al dis geen gewone oproep nie. “Ek en Annerine is in die mall. Hoekom?” Haar antwoord het my yskoud laat word. “Want ek en Enca is nou net verby jou plaas en dit brand.” Vader help. Nie weer vuur nie.

Bid. Tick. Bel die brandweer. Tick. Bel vir Roelf. Tick. Bel vir Emelina. Tick. Moenie panick nie. Tick. Bel vir nog hulp. Tick.

Wanneer mens by die bergpas kom, dan kyk jy uit op die Barberton vallei. En ons sien die swart en grys rookwolke van daar af. Moenie panick nie. Tick. Ry versigtig en moenie teen die pas afjaag nie. Tick. Probeer ophou bewe. Tick. Gee vir Annerine my foon sodat sy ‘n Facebook inskrywing kan plaas namens my vir ‘n gebedsoproep.

Dit was gelukkig nog nie ver gevorder nie, maar die wind was STERK. Ek kon verby jaag huistoe om werksklere aan te trek en my spuitkan te kry en ekstra kanne met water. Hare vasgemaak dat dit uit die pad is. Ek het die buurman gebel waarheen die vuur beweeg indien ons hom nie kon keer nie, en hy was ook in die dorp. Ons moes die brandweer nog ‘n keer bel. Hulp het begin opdaag. Party sommer vanself. Die brandweer was dit eens dat ons nie die vuur met water sou kon blus nie. Hulle ry weg na die buurplaas waarvandaan die brand gekom het om hulle chalets te gaan beveilig en ons sien hulle nie weer nie, hulle het ander nood as ons en los vir my ‘n selfoon nommer indien ons vuur buite beheer raak. Ons besluit om terug te brand en sodoende te keer dat dit verder versprei.

By hierdie pad het ons hom gekeer

As jy nog nooit ‘n veldbrand beleef het nie… dis verskriklik. Mens kan nie die hitte oorvertel nie. Jy storm in en slaan so paar slae dan brand jou longe en jou oë en jou hele lyf brand soos ‘n kool vuur van die rook en die hitte.  Vir Annerine het ek huistoe gestuur sodat sy nie die rook moet inasem nie. Sy bly paraat en bring ‘n broodjie en koeldrank toe ek wil flou val. Drinkwater. Wanneer die vlamme aan ‘n olienhoutboom lek tel sy eeen… tweee… driee… dan is die boom weg.  Dis verskriklik! Maar dis ook verskriklik mooi. Ek het gewens ek het my kamera daar gehad, ‘n selfoon is so beperk en ek het ook my battery wat reeds halfpad pap was probeer spaar vir kommunikasie.

Ek sien hoe die vuur oorspring na die buurman toe en al wat ek kan doen is om hom te bel. Drie plase langs mekaar wat brand… Met ons inbrand kon ons die vuur stuit aan ons kant, en dit het nog ‘n ruk by die bure geneem. Tydens nabetragting staan ek en ‘n vriend en gesels toe ‘n bondel droeë sebramis minder as 20cm van ons voete af begin smeul as gevolg van ‘n kooltjie wat die wind aangedra het. Só is veldbrande. Dit hou nie op nie.

Toe almal weg is het ek agtergebly met my spuitkan om die stompe nat te spuit. Indien die wind weer optel, is daardie kooltjies wat waai genoeg om ‘n nuwe brand te begin. Dis hoe dit begin het gister. Die een plaas het drie dae terug gebrand. My liggaam bewe nog van die adrenalien en werk is al manier om dit uit te kry.

Laataand was ek pikswart.

Laatmiddag spuit ek nog water en toe ek weer opkyk sien ek net vlamme by die buurman, reguit oppad na my toe na die gedeelte wat nie gebrand het nie. Terwyl ek besig was om hom te probeer bel, bel hy en sê hy dink ek moet gaan kyk, dit lyk of die vuur weer by my opgevlam het. Hy glo my eers nie toe ek sê ek is dáár en dis nie by my nie. Ek bel weer die brandweer en ander hulp. Hierdie keer word die brandweervoertuig vinnig gestuur. Gelukkig het die wind heeltemal gaan lê en is dit ‘n koue vuur wat brand. Ek, die brandweer en my vriende slaan die vuur op die buurman se plaas, terwyl hy knus in sy huis sit. As dit nie vir my ‘n gevaar was nie, het ek gisteraand daai vuur gelos. Ek klouter die ses voet grensdraad heen en weer asof ek dit elke dag doen om te help om die brandweerwa se brandslang heen en weer te trek.

Eers wanneer jy iets het om dit mee te vergelyk, kan mens die omvang van die vlamme besef.

Ek wens ek kon alles vasvang. Op ‘n stadium het ek en een van die brandweermanne dieselfde gesig met ons selfone probeer vasvang, maar beide onsuksesvol  – ‘n majestieuse papierbas wat vlamvat. In die donkerte het dit soos ‘n boom vol liggies gelyk. Dit het gelyk asof elke takkie ‘n ry liggies op het. Dis die gasse uit die boom wat vrygestel word wat begin brand. En dan skielik is die hele boom oortrek met groot vlamme en word dit ‘n vúúr.

Dis smeulende stompe soos hierdie wat jou nagmerrie van more is

Laataand was die vuur geblus en het  net die smeulende stompe oorgebly. Ek en ‘n jongman wat ek van geen kant af ken nie, het weer deurgeloop en al die gevaarlike smeule by my kant gespuit. Ons het die wat regop gestaan het omgestoot sodat dit ‘n kleiner risiko was. Ek flits, en hy spuit. Hy gee vir my sy nommer en sê “Tannie, bel my vannag as dit nodig is. Ek kom.” Half tien stap ek in die huis in, asvaal en bewend van al die adrenalien en moeg. Gelukkig het ek die vorige dag ‘n pot sop gemaak en kon ek vinnig iets inkry. Toe gaan maak ek weer my kanne vol sodat ek nie onverhoeds in die nag betrap word nie, en daarna het ek gaan bad.

Slaap wou maar net nie kom nie. Ek kry elke dag ‘n ‘Vers vir die dag’ en toe my vers kom vir vandag was ek meer as net onsteld. Ek was vreesbevange omdat ek reeds twee keer my aardse woning verloor het. Die laaste keer was sommer net nou die dag. Lees dit en jy sal dalk my kleingelowigheid en angs vir die nag wat voorgelê het verstaan.

“Jou woonplek is tydelik

Carina Francke

Teksvers: 2 Kor 4:16; 5:1

 Tentbly is lekker, maar permanent?! Sekerlik nie die ideaal nie, want die elemente speel nie altyd saam om dit ‘n aangename verblyf te maak nie.

 Paulus gebruik hierdie beeld om ons verblyf in ‘n deurmekaar en stukkende lewe wat aan elemente soos siekte, hartseer, honger, teleurstellings, ouderdom en dood blootgestel is, te beskryf, maar ook om ‘n hoopvolle verwagting by ons op te wek:

“daarom gee ons nie moed op nie, maar al vergaan ons uiterlike mens ook, nogtans word die innerlike mens dag na dag vernuwe. (4:16). Want ons weet dat as ons aardse tentwoning afgebreek word, ons ‘n gebou het van God, ‘n huis nie met hande gemaak nie, ewig, in die hemele.”(5:1) Ons is daagliks pynlik daarvan bewus hoedat ons tentwoning aan’t verweer is, maar dit moet juis die verwagting van ‘n ewige huis in ons wakker maak. En daardie huis is een wat nooit kan verweer nie, omdat dit ‘n geestelike huis, ewig, in die hemele is. Die daaglikse swaarkry en die aftakeling van ons liggaam moet ons nooit moedeloos maak nie, want ons het die belofte dat “

Hy wat die Here Jesus opgewek het, ons ook deur Jesus sal opwek…” (2Kor4:14) Begin liewer jou lewe voluit leef en fokus op die eindstreep wat in sig is en op die prys van ‘n nuwe (heel en gesonde) huis. Dit ís moontlik want jou 24/7 Metgesel loop elke tree saam met jou.

 In teenstelling met die uiterlike, word ons innerlike daagliks vernuwe. Jy sien, ons hart, ons gees, ons ‘binne-menswees’ het lewend geword toe ons 24/7 Metgesel – die Drie-eenheid woning by ons kom maak het. Deur ons verhouding met Hom en Sy inspraak in ons lewens wanneer ons die Woord lees, bepeins en doen wat daarin staan, word ons innerlike mens op wonderbare en misterieuse wyse verander om nooit te verouder nie. G’n wonder nie dat Paulus hoopvol aanbeveel:

Daarom lê ons ons ook ywerig daarop toe…. om Hom welbehaaglik te wees.” (2Kor5:9).

Gebed: Vader, dankie vir die wete dat ek in my binne- mens nooit sal oud word nie en dat my sterwende liggaam opgewek gaan word deur U krag.”

Ek het my wekker vir 02h00 gestel sodat ek kon gaan stomp- en windinspeksie hou. Teen daai tyd het ek nog nie geslaap nie en vanuit my kamer kon ek sien dat dit absoluut windstil was, en met die maan reeds weg kon ek sien niks brand nie. Ek het bly lê en my wekker vir 04h00 gestel. Ongeveer 03h00 het ek eers aan die slaap geraak en toe so nagmerries gehad dat ek gedink het ek het myself wakker geskree. Toe staan ek maar op en ry. Daar was vlammetjies by die een stomp en ek het my watertjies gegooi en weer gaan lê tot 08h00 vanoggend.

Gelukkig het ek ‘n Sibusiso en Samanga gehad wat vanoggend kon help om die warm gedeeltes van die stompe af te saag om dit makliker te spuit. Mens spuit daai stompe, maar dis soos ‘n waterpistooltjie in ‘n groot braaivleis vuur.  Ek moes dorp toe – ongelukkig loop van ons waterpype bo-grond, en hulle is in die gedeelte wat eerste gebrand het. Dit spaar net baie tyd as alles reeds aangekoop is wanneer hy kom. Dit beteken dat die water in die tenk al is vir die volgende paar dae totdat Roelf huistoe kom. Vir hom was dit (is dit) hel om in Pretoria te wees terwyl ons hierdie kant stoei. Ons het hom heeltyd op hoogte probeer hou.

Die oggend na die brand.

Vanmiddag laat het ek weer inspeksie gaan doen en ek dink ek het die laaste stomp nou dood. Dis die eerste veldbrand waar ek sonder Roelf moes besluite neem, die enkele ander kere was hy altyd hier. Almal se gebede het gehelp. Ons het slegs een derde weiding verloor en hoef slegs ‘n gedeelte waterpyp te vervang en ‘n paar wildsblokke vir die kameelperde.

‘n Mens dink alles is weg, tot jy naby kyk. Hoop. Genade. Ek het reeds vanmiddag rooibokke gesien rondloop in die as.

Mens leer altyd uit enige trauma, die grootste ding is dat mens altyd paraat moet wees.

  • Moet nooit die krag van gebed onderskat nie. Hedendaagse tegnologie soos Facebook kon dadelik die woord versprei dat ons nood het en vanoor die hele land, nee, vanoor die hele wêreld was daar mense wat vir ons gebid het. Ons Vader het Sy hand oor ons gehou, en ons loof en prys Hom daarvoor.
  • Hou jou selfoon se battery so vol moontlik. Ek het gesien hoe vinnig dit afgaan met al die bellery en het op ‘n stadium huistoe gery om my simkaart in Annerine se foon te sit. Indien myne pap was om mee te begin, het ek ‘n probleem gehad.
  • Moenie in haastigheid jou simkaart ruil nie, ruil die battery. Nommers wat jy nodig het is dalk op jou foon en nie op jou simkaart nie.
  • Moenie maaltye oorslaan nie. Ek het op ‘n stadium amper flou geword van lae suiker en lae bloeddruk. Annerine se broodjie en koeldrank het my lewe gered. Jy dink dalk jy gaan in die dorp iets eet, en dan moet jy huistoe kom voordat jy daardie kossies gehad het.
  • As Samanga die tuinslang laat ooplê, ry dadelik en stel die pomp sodat hy meermale pomp. Want nou is die watertenks nie vol nie, inteendeel, hulle is amper leeg. Vir nood kan ek by die pomp self ‘n plan gaan maak, maar wasgoedwas en sulke goed is uit tot Saterdag wanneer die pype weer gekoppel word. Ons pomp is ‘n kilometer weg van die huis.
  • Sorg dat jou voertuie brandstof in het. Jy moet dalk net skielik rondskarrel in nood.
  • Dra katoenonderklere en katoen bo-klere wanneer jy vuurslaan. Dit hou jou die veiligste. Bly weg van sintetiese stowwe. Gelukkig was ek veilig.
  • Moenie veiligheidskoene met staalpunte dra nie. Die punte word warm en dan brand jou tone. Dra leer bootse. Daar gaan my budget al weer.
  • Haal jou juwele af voor jy gaan vuurslaan. My silwer armbandjie is twee keer amper af geruk en my vinger het ‘n bloedblaas waar my ring gehaak en geruk het. Hoeveel boere of mans wat met hulle hande werk sien jy wat trouringe dra?
  • Wees ingelig oor verenigings in jou omgewing. Ek het gisteraand die nommer gekry van die Lowveld & Escarpment Fire Protection Association (Lefpa) en het hulle sommer vandag al gaan sien. Hulle het die brand op hulle lewendige satelietkaart gesien, maar omdat nie een van ons ‘n lid is nie mag hulle nie ‘n span uitstuur nie.  Hulle ledegeld is bitter min, daar is net ‘n paar (eenmalige) duur vereistes waaraan jy moet voldoen, en jy moet ‘n basiese vuurslaankursus doen, en jou voorbrande en veiligheidstroke volgens hulle vereistes doen. Hulle help jou met jou voorbrande, stuur smse van brandgevaar toestande, hou jou op hoogte indien daar enige brand in jou omgewing is, en stuur ‘n span indien jy dit nodig het.
  • Wees altyd bereid om ander mense te help, want môre het jý nood. Nood vra nie om te gebeur nie. Dit kom sommer vanself.

Baie dankie vir my vriendinne wat gebel het om te sê. Baie dankie vir almal se gebede. Baie dankie dat die boodskap versprei is. Baie dankie vir al die mense wat kom help het.  Baie dankie vir my man wat vertrou dat ek die regte besluite hierdie kant maak. Mag ons Vader julle almal se paadjies net seën.

Vader, ek staan klein voor U. U almag is bokant my verstand en rede. Dankie vir U genade. Dankie.

Advertisements
Categories: Plaaslewe, Slakverdriet | Sleutelwoordw: ,,, | 24 Kommentaar

Artikelnavigasie

24 thoughts on “Die mens wik, maar God beskik

  1. Ai mens, wat ‘n ervaring!

  2. Kobie, jy is ‘n yster! Ek het soveel respek vir jou en jou deursettingsvermoë – maar veral vir die feit dat jy nie moed opgee en in ‘n bondeltjie gaan lê nie.

  3. Christelle

    Kobie, wat ‘n ervaring. Dis soos ek jou by die lab leer ken het. Altyd goed voor berei en goed ingelig om enige iets wat jy aanpak goed te doen.

  4. Ek staan verstom. Ek het ‘n verskriklike vuurfobie en hier hardloop jy vrou-alleen met ‘n kleine rugsakspuit en trotseer ‘n vuur;.
    Dankie veral vir jou raad aan die einde. Daar is ‘n hele paar van daardie puntjies wat ek sal moet onthou. Begin sommer by die selfoon en die tenk vol diesel in my kar!
    Ek is so bly dit het nie erger afgeloop nie.

    • Dit was almal se gebede wat ons gedra het. Ek kan net elke dag getuig van God se almagtige teenwoordigheid in my lewe.

  5. Kameel

    “When you walk through the fire, you shall not be burned. Nor shall the flame scorch you.” Die vers het by my opgekom terwyl ek lees. Ek weet ons besef nie die omvang van dit wat jy deurgemaak het nie. Sterkte vorentoe.

    • Kameel, as ek jou blog lees, dan is jy vir my ‘n voorbeeld om ander dinge in die lewe te trotseer. Dankie vir al jou dink.

  6. Die Like is vir JOU. Mens staan klein teen die Natuur.

  7. Terug pieng: Yster « MaanKind

  8. Alta Cloete

    WOW. Ek bewonder jou.

  9. Dankie vir die wonderlike voorbeeld wat jy in al hierdie beproewings vir ons stel! Mag die Here vir julle soveel meer teruggee as wat julle verloor het, en beskerm teen aanvalle wat julle vreugde wil steel!

    • Vreugde steel – het jy geweet die beste manier om iemand wat jou vreugde steel te ontneem daarvan is om hom te ignoreer? Jy gee skietgoed vir ene D persoon by jou braaivleisvuurtjie om jou beste tjoppie se vet af te gaps deur hom te antwoord. As jy hom ignoreer, ontken jy sy bestaansreg. Net gisteraand nadat ek jou blog gelees het, het ek ‘n Bybelvers gelees wat ek vir jou wou stuur. Maar ek was so moeg dat ek vergeet het om ‘n merker in te sit en nou kan ek nie onthou waar nie. Dit kom maar daarop neer dat elkeen van ons self verantwoordelik is vir ons dade, dat God ons harte sien en dat ons elkeen verantwoording gaan doen vir onsself. JY weet wie en wat jy is, jy hoef dit nie vir D te probeer uitspel nie. Vir elke argument gaan hy ‘n teenargument he. Ignoreer hom en ontken sy bestaansreg. Jou verdedigende antwoord waarvoor jy staan gee hom ‘n gevoel van mag. Jy en God is al wat weet wat in jou hart is. Sterkte

  10. Ek kyk na die foto waar jy met jou spuitkan staan en ek dink; “Hier staan ‘n klein mensie met ‘n groot GROOT gees.” Mens wonder maar altyd as dieselfde teëspoed so baie oor jou pad kom, maar ek dink, na my eie beskeie mening, God het baie vertroue in jou. So ‘n taak sal nie enige een so goed kon hanteer nie.

  11. Ek is sooooo jammer oor die brand, Slakkelak! Soos jy egte sê Liewe Jesus weet die beste! Hugs en xxxx vir julle!

  12. Ai, hoe het ek hierdieskrywe gemis? ek bewonder jou moed en kalmte

  13. Terug pieng: Wanneer omgee deel van plig word « Slakkelak

  14. Terug pieng: Letsels « Slakkelak

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

Create a free website or blog at WordPress.com.

%d bloggers like this: