Vir oulaas…

Ek verstaan nou dat jy in my huis gepiepie het om te kan ruik waar jy moet gaan… dit het ek besef toe ek laasweek jou kosbak grond toe geskuif het en jy daar ‘n groot plas gaan staan en maak het.

Dis nou al meer as ‘n week wat jy nie by my kom slaap nie. Laaste keer was laasweek toe ek ‘n middagslapie gevat het en ek wakker geword het van jou wat oor my prrr en sentimeters van my gesig af na my staar. Het jy dalk vir my totsiens kom sê?

Vrydag het ek vir jou gekyk waar jy sit en dut en dit was weird. Jou blinde oog was oop en starend, maar die gesonde ene was toe. Die pupil was normaal vir ‘n helder dag toe ek oor jou ruggie vryf. Saterdag het ek jou glad nie gesien nie, en ek het my bekommer oor jou. Sondagoggend het ek jou saggies hoor maaiu, en my hart was bly om jou te hoor… Die saggies miaau was jou manier om te sê jy soek kos. Roelf het sommer gegaan, want dit was teedrinktyd vir my in die bed soos naweke nou maar is.  Maar hy het teruggekom en gesê dit lyk nou asof daar bloeding agter jou oog is, gesê dit lyk sleg.

My Pieterjie! Nee! Dit is dan sy gesonde oog! Ek het sommer begin huil. Dis allervreeslik. Die regteroog se pupil is dof en starend, en nou die linkeroog ook met vergrote pupil maar wat bloedrooi gloei.

Ek weet nie of hy dalk in iets vasgeloop het of wat nie. Ek het so gehoop die groot besluit kon nog ‘n bietjie wag. Toe ek skottelgoed was het hy my gehoor, en toe kon ek sien dat hy nou niks meer kan sien nie. Die katte se inkomvenster is langs die waskamer, en ek het gesien hoe hy regop teen die vensterbank gaan staan en voel-voel beweeg tot hy die opening gekry het. Hy het nie gespring soos altyd nie, maar homself met moeite opgetrek tot op die vensterbank.  My hart was stukkend en vir oulaas het ek spesiaal ‘n sakkie tuna oopgemaak nét vir hom.

Vir oulaas het ek vandag ‘n kiekie van jou geneem waar jy in die sonnetjie lê en bak. Ek moes mooi mik, sonder om jou oë te vang. Vir oulaas het Pippie kom krulstert trek in onderdanigheid vir jou. Jy het haar nie eers gesien nie, eers toe ek raas het jy notisie gevat. Vir oulaas het Oreo haar teen jou kom skuur.

  

Ek het jou nou net buite gaan haal. En gehuil toe jy binne teen alles vasloop en net wil uit. Nou sit jy by my op die bed en ek hoop dat jy vir oulaas my bene gaan warm lê en jy jou laaste nag kan warm slaap.

Ek sal nie huil môre-middag wanneer ek jou vat nie. Sorry my Pietertjie, maar ek kan nie sien dat jy ly nie. Ek sal jou vashou wanneer die naald gaan prik. En dan gaan ek huil…

Vir oulaas my Pietertjie…

*****

Ek is dankbaar dat ek kon afskeid neem van ons Pietertjie vandag. My gedagtes is by die Odendaals wat nie so gelukkig was hierdie naweek nie. Drufus Odendaal is Vrydag wreed vermoor met gif. Die een oomblik was hy nog daar, die volgende was daar ‘n doodsroggel voor hulle by hom kon wees.

Sy lewensmaat treur nog steeds. Haar oë was die hele Saterdag nat en treurig, haar stem doodstil in rou. Boksers lyks soms treurig wanneer jy na die afdraende bekke kyk, maar dis die weduwee se oë wat die storie vertel.

R.I.P Drufus Odendaal

Advertisements
Categories: Slakverdriet | Sleutelwoordw: , | 6 Kommentaar

Artikelnavigasie

6 thoughts on “Vir oulaas…

  1. Christelle

    Ek voel saam met jou. Sit nou hier by die werk en huil. Sterkte.

  2. Jammer! Ek het ook so stuk hartseer, ons Einstein kat het verlede naweek die dorp se wyfietjies gaan besoek, en nou nog nie weer teruggekeer nie…

    • Hoop hy kom terug. Ons Oreomeisie het so paar jaar terug voor haar operasietjie sommer self pad gevat en loop man soek. Sy was twee keer weg, 2-3 weke en dan teruggekom met broodjies in die oond. Die naaste bure wat katte het is so 2km weg…

  3. Kameel

    Nou sit ek met ‘n knop in my keel oor jou Pietertjie.

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

Create a free website or blog at WordPress.com.

%d bloggers like this: