Pietkat kry ‘n nuwe naam

Sowat sestien jaar gelede het ons Asjaskat drie kleintjies gehad. Twee dogtertjies en ‘n seuntjie. Sy was ‘n ligte gemmerkleur, meer kameelkleurig sou ek sê. Die twee dogtertjies was hoofsaaklik wit, maar met bietjie gemmer en grys ook ingeklits. Lang hare, en hulle was sag en liefies soos dit by dogtertjies hoort.

Die gemmer seuntjie aan die ander kant haad ‘n persoonlikheid van sy eie, wild en glad nie geneë vir enige aanraking nie. ‘n Ander huis kon ons nie vir hom kry nie, want niemand wou ‘n kat hê wat krap en blaas nie.

Die dogtertjies was gou-gou weg en so bly die seuntjie toe maar aan, want SPCA toe kon ek nie oor my hart kry nie.

Ons doop hom toe Pieter Hol… want as hy ‘n mens sien, dan hol die simpel kat. Mettertyd het hy langs my op die stoel kom sit, maar ook maar net tot ek my hand uitsteek om aan hom te vat. Stadigaan het ek sy vertroue gewen totdat hy heeltemal tuis was by die hele gesin.

So tuis het hy geraak dat hy selfs toegelaat het dat Marina hom in haar popwaentjie vasgordel en in die gang afjaag – geklee in ‘n pienk babygrow. Sy platgetrekte ore en skrefies oë was iets om te aanskou! Wanneer hy genoeg gehad het, het hy één spring gegee en dan was hy uit die waentjie én uit die babygrow.

Annerine het hom die meeste bederf en hy het haar Pieter Diesel geword , so hernoem oor sy harde prrr.

Kort voor ons plaas toe getrek het,  het ons vir Piet amper verloor. Soos dit nou maar by manlike diere van enige soort is, was daar ‘n ander mannetjie in die omgewing wat meer dominant was as ou Piet. Dié het ons arme Piet so gebyt dat sy agterbeen begin sweer het, en voor ons hom kon aankeer veearts toe, het ou Piet gaan wegkruip. Ons bekommernis was groot, want die sweer was lelik. Gelukkig het hy een oggend voor skool uit sy skuilplek gekruip vir kos en kon ons hom met ‘n groot gesukkel vang. Die veearts moes baie weefsel verwyder en het gewaarsku dat hy dalk die gebruik van sy been sou verloor, maar gelukkig het hy net ‘n baie effense hink in sy stap oorgehou.

Toe ons plaas toe getrek het agt jaar terug was dit ook omtrent ‘n storie. Die laaste week het ek op n matrassie in die gang geslaap vir privaatheid en het reggekom met die minimum, Roelf was toe al vir drie maande op die plaas. Toe ek begin kar pak was Piet net weg. Ek pak en pak en Piet is weg. Ek moet sleutel oorgee, en Piet is weg. Die nuwe eienaars se opmerkings oor pellets en katte wat hulle gou-gou regsien het my vir twee ure op my rug laat lê en wag in die dolleë huis. Met ‘n groot gesukkel het ek hom in ‘n vervoerhokkie gekry toe hy uiteindelik opgedaag het, en het ek hom maar by die veearts laat inspuit met ‘n kalmeermiddel, want tyd vir Rescue se saggies werk was daar nie meer nie. Dit was ook maar net genoeg om hom stil te laat lê, sy poot het maar kort-kort gekap na ons hondjie wat saam met hom moes ry. Hy het nooit erg gehad aan enige hond nie.

Op die plaas het hy onmiddellik pad gevat die bosse in en ons het hom amper twee weke later op die hoop bokse met ons aardse besittings gekry wat onder ‘n seil gepak was. Daar was ons reuk, en daar het hy gaan skuil.

Hierdie bedonderde kyk is hoe ons vir Piet ken. Die foto is geneem kort na Annerine gaan studeer het, dus erens in 2007.

Piet is nie goed met trauma hantering nie. Met die eerste brand was hy vir ‘n maand lank weg. Ek het kos uitgesit en iets het dit geëet, maar of dit Piet was wis ons nie. Ek was baie dankbaar toe ek hom gekry het, maar hy het my arms flenters gekrap toe ek hom na die chalet wou neem waar ek toe gebly het. Ek het hom toe maar in ‘n kussingsloop gestop en gevat. ‘n Veearts het my eendag vertel dis die maklikste om katte te vervoer. Hy het net ‘n rukkie gebly en dan loop hy weer weg na sy wegkruipplek in die pompkamer. Ek moes hom vir amper ‘n week lank elke dag instop en lekkernye voer voor hy uiteidelik by die chalet gebly het.

Met die honde het hy nog steeds nie oor die weg gekom nie, en al is ou Piet bejaard, is hy nog bokant Pipstert op die territoriale lys. Ou Pippie het ‘n lidteken op haar oogbank wat getuig van gebiedsafbakening, katnaels en klein hondjies…

Maar nou is Piet weer herdoop. Hy is nou Piet Piepie.

Na die eerste huis gebrand het, het dit begin. Enige verandering of harde geluide in die huis, en hy gaan maak sy blaas leeg op my bed. Soos in sopdeurnat-stinkend-vrot.  Harde bliksemslae, dan pie ou Piet voor hy onder die bed inkruip.

Toe die chalet gebrand het, was ons ou Piet maar weer soek, ek het hom gouer gekry en hy het my nie weer so stukkend gekrap nie.

Hy het egter ‘n persoonlikheidsverandering ondergaan! Skielik hol hy nie meer weg wanneer hier mense kom nie, en Pippie kan selfs in dieselfde vertrek inkom en minder as ‘n halwe meter van hom af verbyloop.

Piet was nog nooit juis ‘n jagter nie, en in die chalet het ek agtergekom Piet eet skielik baie meer muise en voëltjies. So paar weke gelede het ek agtergekom hoekom… Ek het een aand ‘n snaakse diergeluid gehoor in die gang. Piet wat by my op die bed gelê het, het onmiddellik afgespring en is die gang af. By nadere ondersoek vind ek toe dis Oreo Vetkat wat vir hom ‘n muis gebring het.

Om te verhoed dat Pipstert brak die katte se kos opvreet, sit ek dit op die wasmasjien. Voorlaasweek het ek begin agterkom Piet spring die wasmasjien mis. Eers het ek gedog dis nou maar die bene wat begin rumatiek kry of iets, maar dis veel erger. Piet is besig om blind te word! Sy een oog  is so glaserig en beide pupille heeltemal verwyd.

Is dit dalk die rede waarom Oreo so sorgsaam vir hom kos aandra? Omdat hy nou Pieter Mol word? Die gedagte is vir my erg, ek weet nie of ek kans sien daarvoor nie. Maar ek sien op hierdie stadium ook nie kans vir die alternatief nie…

Kom ons bly maar liewer by Pietertjie du Preez. Dis minder seer.

Pietertjie du Preez net na die chalet gebrand het. Kyk die uitdrukking is sy oe is rustiger as op die vorige foto.

Advertisements
Categories: Slakverdriet | 9 Kommentaar

Artikelnavigasie

9 thoughts on “Pietkat kry ‘n nuwe naam

  1. Ek lees altyd lekker hier.

  2. Nartjieskil het ook in haar laaaste dae die blindword en pie-ding gedoen.. Sy rol in julle lewens raak uitgedien, en dis julle wat sal moet losmaak, nie hy nie. Sterkte met die proses…

    • Ek kan dit nie oor my hart kry om hom te laat uitsit nie. Sal maar sien hoe gaan dit in die volgende paar weke. Hy slaap ook skielik nie meer by my nie.

  3. Kameel

    Dit is ‘n moeilike tyd diè!! ‘n Mens raak so “lief,” vir die diere. Sterkte!!

    • Is so, en as mens al deur so baie is met hulle dan groei hulle aan mens vas en is dit moeilik om jou los te maak.

  4. Kameel

    Slakkelak, ek het nou drie keer jou skrywe probeer “like,” dit draai, en draai, en draai.. maar niks gebeur nie. Dus sê ek nou maar per mond vir jou dankie… ek “like!!”

  5. Terug pieng: Vir oulaas… « Slakkelak

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

Create a free website or blog at WordPress.com.

%d bloggers like this: