‘n Nuwe fase in my lewe

Daar is so baie fases in ‘n mens se lewe dat jy eintlik nie byhou om met alles te cope nie! Party gaan te gou verby en party bekruip jou agter jou rug… maar die nuwe fase in mý lewe is iets waarna ek baie uitsien!

Oor minder as twee weke gaan ek die titel dra van Moeder van die Bruid… ‘n Rok en skoene is al gekoop, maar nie die tipe rok wat die meeste mense gaan verwag as Moeder van die Bruid nie. Nee. My skoonseun het vir sy skoonma ‘n pragtige turkoise rokkie met blinkers uitgekies nadat haar mooi pers rokkie verwoes is in die brand net meer as ‘n maand gelede. Dié het sy darem vir haar sus gewys wat kom kuier het…

Die fase waarna ek éintlik uitsien is die fase van Ouma-wees. En ek is nie skaam om te sê dat my kind swanger is nie. Sy is groot en dis ‘n kind in liefde verwek, nie ‘n een-dag-belustigheid nie. Die troue wat vir November beplan was, is nou net vervroeg.  Ons aanstaande skoonseun is al lánkal ons seun.

Dingetjie is nou amper 17 weke verweef in sy moederskoot en volgende week gaan ek en Oumagrootjie ook saam met Mamma en Pappa op die sonar kyk of ons nou blou of pienk moet koop…  Jy beter jou boudjies móói draai Dingetjie… jy beter!

Eerste foto van my kleinkind. Ontmoet vir Dingetjie, hier net na 12 weke en 5.76cm lank.

My nuwe stoep is spesiaal lekker groot sodat die kleinkinders met hulle skopfietsie kan resies jaag. Ons het hom al laat uittoets met Elzandri, my nefie se pragtige dogtertjie. Wanneer ek net sien hoe my susters en broer hulle kleinkinders geniet, wéét ek dat dit vir my ook ‘n groot plesier gaan wees.

Maar Dingetjie… hierdie ouma van jou is nie soos gewone oumas nie. Ek wil dit net nou al vir jou duidelik maak. Ek gaan dalk nie vir jou koekies bak nie. Maar ek sal op my kop vir jou staan. Ek gaan jou nie bederf met sweeties nie. Maar ek sal vir jou ‘n sprinkaan se poot onder ‘n mikroskoop wys. En mooi patroontjies in die wolke. En die piepklein spoortjies van ‘n duikertjie in die sand. En die mooi patroontjies op ‘n wurm se lyf. En ons sal perdeblomsaadjies blaas in die wind  en ons tone krul in die modder wanneer dit reën. En ek sal vir jou ‘n padda vang en wys waar bly ‘n groot bobbejaanspinnekop.

Kom Dingetjie. Kom kleinkind van my ander kind. Ek wil vir julle ‘n Ouma wees.

Advertisements
Categories: My klein slakkies | Sleutelwoordw: | 14 Kommentaar

Artikelnavigasie

14 thoughts on “‘n Nuwe fase in my lewe

  1. Jy gaan ‘n goeie ouma wees. En dis snaaks, met vier-jarige wysheid het ek net verlede week gehoor: Néé, ouma, jy moenie my naeltjies knip nie. Manmma moet dit doen. Jy is my ouma, en jy moet vir my goue-pienk kwoeitex op my naeltjies sit… Hulle weet daar is ‘n subtiele rolverdeling.

  2. Dis baie kosbaar- mag daardie klein Dingetjie baie geseënd wees! Jy klink na ‘n baie Cool ouma! Daai ander dinge is baie meer werd as koekies!

    • My kinders se ouma het vir hulle koekies oor die skool se muur gegooi pouses… of ‘n kosblikkie met ietsie met ‘n nat lappie of servet 😉

  3. Kokkewiet

    Dingetjie gaan die gelukkigste kindjie wees om ‘n ouma soos jy te hê!

  4. Kameel

    Ek stem, jy gaan die lekkerste ouma uitmaak slakkelak. Geseënde klein “Dingetjie!”

  5. Wonderlike voorreg

  6. Wat ‘n voorreg vir Dingetjie om ‘n ouma te hê om die natuur en al sy wonders vir hom/haar te wys! en terloops….. daardie fase wag ook vir my!! 🙂

  7. Jy klink soos ‘n BAIE spesiale ouma! Geniet hierdie wonderlike fase.

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

Blog at WordPress.com.

%d bloggers like this: