Wat ‘n besige dag…

My dag was volgepak van vroeg vanoggend af. Ek het my dag in die veld begin op die quadfiets, opsoek na ‘n siek sebra. Hoe heerlik was dit nie om net bietjie mevrou-plaas te speel nie!

Ek was vroeër wakker as gewoonlik en dit was nie my wekker nie, maar ‘n harde bui reën wat my wakker gemaak het. Die weer het my bietjie beangs gemaak, en met die reën het ek gedog ons planne van sebra verdoof was van die baan. Dit was egter gou oor en na ‘n lekker koppie tee was ek reg vir die dag.

Gelukkig het ek haar baie gou gekry en terwyl ek weg was het die veearts solank haar doepa bymekaar gekry om vir Vettie te verdoof met ‘n pylgeweer. Sy het ‘n nare seer op haar nek omdat die Mr. Z, ons ‘stoethings’,  nie sy blerrie tande vir homself kan hou nie! Daar is twee jonger manne wat graag wil katelknaap speel wanneer hy nie kyk nie, en dan ontgeld iémand sy toorn. Hy kry die arme slagoffer aan die maanhare beet met sy vlymskerp tande en ruk dan huid en haar dat die bloed spat. Laat verlede jaar het hy ‘n klein hingsie wat nie ore gehad het toe hy veronderstel was om die trop te verlaat nie, op dieselfde manier behandel en dié is dood as gevolg van infeksie in die wond.

Vettie het ‘n vulletjie en ons wil nie graag die risiko loop om twee diere te verloor nie. Ons het met die veearts, Jo-anne, se Land Cruiser tot naby die trop gery waar ek hulle gesien het, en toe is ons te voet nader. Elkeen van ons het ‘n tweerigting radio gehad en ‘n botteltjie teenmiddel indien jy net dalk per ongeluk in aanraking sou kom met die verdoofmiddel. Gelukkig is hierdie trop gewoond aan mense en het julle rustig gewei terwyl ons nader beweeg het. Die merrie het natuurlik heeltyd haar vul agter haar rug weggesteek en dit was ‘n paar minute se wag vir die perfekte skoot in haar nek.

Die pyltjie het perfek getref en die hele trop het begin hardloop na die skoot. Gelukkig het hulle nie in die digte lantanabosse ingehardloop nie, en ons kon hulle heeltyd volg met die voertuig. Die veearts se twee assistente het te voet gehol agter die trop aan. Hulle het ‘n hele lang draai gevat en uiteindelik het sy netjies in die pad naby die huis omgedop. Sy het ‘n groot oogklap gekry om die stres te beperk, en Phineas het haar kop op gehou om versmoring te voorkom. Vinnig-vinnig is die wond behandel, sy het ‘n paar inspuitings gekry teen infeksie en sommer ‘n ontwurming ook, en toe het Jo-anne die teenmiddel toegedien en die oogklap afgehaal. Dis was ‘n kwessie van omtrent twee minute na die teenmiddel toegedien is, toe is Vettie weer op haar voete.

Ai, en toe ontdek Jamie dat hy sy tweerigtingradio êrens verloor het. Ek het solank die half kilometer vooruit huistoe gehardloop om daar te gaan soek terwyl Jo-anne en Jamie haar medisynes en toerusting weggepak het. Boesman en Pipstert was natuurlik baie bly om my te sien en het toe lekker saamgery op die quadfiets terug veld toe om daar verder te soek.

Teen agt uur was ek by die skool, net ‘n klein bietjie laat vir werk!

Skool was maar ‘n gewone besige dag en ek moes gou ry om twee uur tuis te wees want my nuwe kombuis se granietblaaie moes vandag kom. My senuwees was rou met daai sware goed wat hier ingedra is! Die ses installeerders het tot na sewe gewerk om alles in en reg te kry. Dit het natuurlik my senuwees nóg rouer gemaak om vrou-alleen tussen ses werkers in my huis te wees, en ek het heeltyd gemaak asof ek vir Roelf nou enige tyd van die werk verwag, en ek het maar baie gebid. Wat moet ek anders maak? Die graniet moes geinstalleer word en Roelf kon nie weer van Pretoria af kom nie.

En tussendeur was dit merk, merk, merk en nogmaals merk. Tussen die graad agt en neges is hulle meer as driehonderd, en ek het van elkeen ‘n klein projekkie om te merk, en môre skryf die graad agts siklustoets en volgende week die graad neges.

Nou vat ek eers ‘n breek, dis nou amper tien uur en ek gaan gou iets maak om te eet voor ek ‘n laaste werkie wil afhandel.

Dis LEKKER om weer energie te hê na ‘n ruk van siekwees as gevolg van bilharzia (mevrou plaasvrou het gehelp krip skoonmaak en toe vir vriend Chris ‘n emmer vol platannas gevang) en uiteindelik reageer my maagseer op die medikasie…

Dís hoe ek lewe, ek LEWE elke minuut!

 

Advertisements
Categories: Plaaslewe | 14 Kommentaar

Artikelnavigasie

14 thoughts on “Wat ‘n besige dag…

  1. Sowaar, jy drink elke druppeltjie uit die lewensbeker!! Jy sê die merrie het haar vul agter haar rug weggesteek, dan neem ek aan kameelperde doen dit ook? My man het gaan stap en met die terugkomslag vertel hy dat daar ‘n kameelperd met ‘n “baba,” (weet nie wat op aarde noem jy hulle kleintjies nie.,) was, maar hy kon die kleintjie nie behoorlik sien nie want dit is al asof die ma haarself die hele tyd so draai dat hy nie behoorlik kan kyk nie.

    • Byna alle wilde diere doen dit, hulle beskerm maar net die kleintjies. Die sebras is vir my baie oulik, die kleintjies hardloop letterlik touching distance langs, of voor die ma. ‘n Gedeelte van die lyfie raak aan die begin altyd aan die mamma.

      • Kameel

        Ek en my man lag altyd as ons klein sebratjies sien; hulle “hare,” lyk so deurmekaar. Ek is nie ‘n dierekenner of ‘n groot diereliefhebber nie, maar ek waardeer dit wat mooi en met tye komies, in die natuur is. Jy is voorwaar geseënd om so voluit te leef slakkelak.

  2. jy is so voorbeeld vir almal- positief en lus vir die lewe !

  3. Ek was al moeg gelees, toe begin jou werksdag!

    • Gelukkig is nie alle dae so vreeslik besig nie. Maar dis lekker om weer energie te he om so ‘n dag voluit te vat wanneer hy daar is…

  4. Gogga

    Dis lekker as men’s aan die einde van so dag kan terugkyk en tevrede voel dat jy nie tyd gemors het nie. Nie dat jy elkedag ‘n dol dag wil hê nie maar sulke dae laat jou leaker slaap.

  5. Ek dink ek het hierdie al op my selfoon gelees, en kon toe nie reageer nie. My selfoon laat dit deesdae glad nie meer toe nie.
    Maar jy het ‘n verskriklike besige lewe. Maar dis wonderlik!!

  6. Ai ek het nou te lekker gelees Dankie aan Maankind wat my op jou spoor geplaas het.

  7. Terug pieng: Wanneer jou werk jou oorval « Slakkelak

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

Create a free website or blog at WordPress.com.

%d bloggers like this: