‘n Ma se drukkie

My ma is nie ‘n drukkie-ma nie. As ek net dink aan die jaloesie tussen my twee dogters wanneer ‘n mens begin drukkies uitdeel, kan ek nogal verstaan dat mens tussen agt woelwaters maar eerder nie druk nie. Party mense is doodeenvoudig nie aanraakmense nie.

Mý ma wys haar omgee en liefde deur koekies te bak, truie te brei en goeters vir jou te doen. Dis hoe ek grootgeword het, en dis wat ek ken. Dis hoe ek vir haar lief is.

In die tyd wat ek kompeterend booggeskiet het, het ek altyd by haar gaan bly tydens kompetisies. Alleen Ma-en-dogtertyd wat jare nie beskore was nie, is ingehaal. Ek mis daardie bietjie alleentyd met my ma noudat boogskiet vir ‘n tyd op die agtergrond moet bly.

Toe my groot huis afgebrand het, was ek twee dae daarna Pretoria toe om my kar te gaan haal. Natuurlik was ek ook na my ma toe.  Natuurlik het die trane geloop. Natuurlik het sy my gedruk toe ons mekaar groet.  Toe almal weg was en ek en sy alleen agtergebly het, kon ons eers regtig praat oor die vreeslike seer. Ek wou net by my ma wees. Alleen. Ek wou net ‘n dogtertjie wees en huil in my ma se arms. En my ma wat nie ‘n drukkie-ma is nie, het my laat huil en ons het meer as veertig jaar se vashou in ‘n paar minute gehou.

Vroeër vanjaar het sy begin teddies brei vir ‘n liefdadigheidsprojek. Altyd besig, altyd tyd vir iemand anders. Haar teddies het ‘n prys gewen en sy het vir my ook ‘n paartjie gebrei. Die teddies se kleertjies word vasgebrei, daar is geen los goetertjies nie. Twee weke voor die brand was ek by haar en het sy gevra of ek weer ‘n lekker bene-kombersie wil hê, want die ander liefdeskombersie het in die eerste brand omgekom. Asseblief, Ma, asseblief.

Gelukkig het ek ‘n fototjie van my beertjies met my selfoon geneem  en dit is op die oomblik die muurpapiertjie op my foon. Toe Annerine dit die naweek sien, het sy my net aangekyk en saggies kom sê ek kan maar die kombers kry wat Ouma lankal terug vir haar gehekel het. Ai my kind… nee. Dis JOUNE wat Ouma gebrei het. My voetekombersie en my beertjies dra ek in my hart.

Is dit nie alte fraai nie? Sonder ‘n patroon uit my ma se kop gebrei

Gister toe ek my ma bel sê sy uit die bloute dat my kombersie klaar is. Toe begin sy huil en sê ‘n beertjie-seuntjie is al halfpad gebrei, sy wil die paartjie klaar hê teen die troue se tyd wanneer sy kom. So druk sy my oor afstand heen, stekie vir stekie wat sy brei druk sy haar hart en liefde uit.

Dankie Ma. Dankie vir my drukkie. Dankie vir Ma se onbaatsugtige en onvoorwaardelike liefde.

Categories: Familie, Slakgedagtes | Sleutelwoorde: | 18 Kommentaar

Artikel navigasie

18 thoughts on “‘n Ma se drukkie

  1. Pragtige beskrywing van besonderse band. Dankie.

  2. Kiara is gek oor haar Beste Teddie.

  3. baie mooi inskrywing. Hoe verlang ek nou na my ma! Jou ma is besonder kunstig. Pragtige teddies

    • ‘n Ma se ma is maar net jou ma ne. Ons het geleentheid gehad toe ons jonger was om Amerika toe te trek. My ma was een van die redes waarom ek nie wou gaan nie.

  4. My dogter se vriendin sit ‘n rukkie gelede in trane hier by my… sy verlang na haar ma. Die volgende oomblik vra sy “tannie, hou my asseblief vas, soos my ma sou doen.” Teen my bors lê die vrou (‘n ma van twee kinders,) en huil oor haar ma, terwyl ek haar hare streel en trooswoorde fluister.
    Dankie vir die mooi inskrywing slakkelak…. ma’s is kosbaar.

  5. Kokkewiet

    Baie mooi! Ek hou van die teddies, jou ma is baie kunstig!

  6. Wil myself net kom voorstel. Ek het op aanbeveling en hulp van ‘n vriendin besluit om ons webwerf voortaan self te bestuur. Wat die bloggedeelte betref: Ek is nie ‘n skrywer van format, maar ek wil graag my ondervindinge van die wildplaas met almal deel. Dit is ‘n nuwe uitdaging vir my. Help gerus as jy sien ek trap klei. Ek sal soos die tyd dit toelaat by almal probeer uitkom.

  7. Ek wou gaan loer, maar jou skakel werk nie 🙂

  8. Sjoe. Dis spesiaal!

  9. Dis ‘n baie mooi beskrywing van ‘n ma se liefde. Gelukkig kan jou mooi herinneringe nooit verbrand nie. Sterkte – ek dink baie aan jou.

  10. Terug pieng: Wanneer omgee deel van plig word « Slakkelak

Lewer kommentaar op Slakkelak Kanselleer antwoord

Blog at WordPress.com.