Welkom tuis, Pietkat!

Twee weke terug het ek geskryf dat Pietkat nog soek is. Hy is nie meer soek nie… hy is veilig in sy mensma se huis!

Nadat die eerste huis gebrand het, was Pieter op hol elke keer wanneer die weer net brom en het hy óf onder my bed ingekruip, óf onder die tafel. Dit was dáár waar ek eerste na hom gaan soek het hierdie keer. Al wat ek gekry het was ‘n gebrande vlerkie van ons inwonende kleinstreepswaeltjies. Hy was nie daar nie, en dit het beteken: HOOP!

Ek het op twee plekke kos uitgesit na die brand. Een bakkie by die lapa wat tussen die huis en die gastehuisie is, en een bakkie by die murasie. Die bakkie by die lapa het ongeskonde bly staan, maar iemand het by die murasie geëet. My hart het geglo dat dit my Pieter was… Elke liewe dag het ek daardie murasie gaan trotseer met ‘n bakkie kos, elke dag het ek my Pieterkat gaan roep…

Verlede week was hier weer een middag ‘n afskuwelike donderstorm en harde reën en daarna was daar nie meer van die kos geëet wat ek onder by die murasie uitgesit het nie. My hart was maar baie seer, want dit kon maar net beteken dat Pietkat dalk finaal weg was.

Saterdagoggend toe ek afstap met ‘n vars bakkie kos het ek maar weereens eerste by die lapa omgestap. Die bakkie was dolleeg… Ek het amper geval in my haas om die steilte af te hol en toe ek roep toe antwoord my liewe oranje kat! Lê ewe rustig uitgestrek in die sonnetjie en bak…

Pieter Hol du Preez, ons oranje kat

Die trane het vrylik gevloei en ek is met hom in my arms die steilte uit terwyl ek hardop dankie dankie dankie. Dit het maar ‘n paar keer se loop haal gekos voor hy gebly het. Maar as ek roer is hy by en as ek sit is hy op my skoot.

Ons is sooo dankbaar dat hy hierdie keer rustig is. Met die eerste brand het hy vir ‘n maand in die bos gebly en tóé het hy my flenters gekrap toe ek hom gekry het. Ek moes hom in ‘n kussingsloop prop en huistoe dra. Flenters krap en huistoe dra. Flenters krap en huistoe dra.

Ou Pietkat is ongeveer vyftien of sestien jaar oud. Hy was een van drie babatjies, die enigste enetjie wat nie ‘n huis gekry het nie. Niemand wou hom hê nie, omdat hy gehol het wanneer hy mense sien. So het hy die naam Pieter Hol gekry. Ek het geweier om hom sommer net te laat uitsit, en hy moes maar deel van die gesin geword. Mettertyd het hy langs my op ‘n stoel kom sit, maar wanneer ek hom aangeraak het, het hy gehol.  Nog later was hy op my skoot. Net tot daar mense kom, dan HOL ou Piet maar weer!

Op ‘n keer was hy geterroriseer deur ‘n groot vet ander mannetjieskat wat hom, die arme reggemaakte Piet, gesien het as ‘n bedreiging. Hy het hom vreeslik gebyt, in so ‘n mate dat sy een been ‘n yslike sweer gemaak het. Piet het natuurlik verdwyn en een oggend voor skool toe ons hom by die kosbak vang kon ons hom eers veearts toe vat. Teen daardie tyd het sy been baie sleg gelyk en die veearts het ons voorberei dat hy dalk sy been sou verloor. ‘n Groot deel van die agterbeen spier was toe verwyder en vir ‘n lang tyd het sy been gehink.

Toe ons plaas toe getrek het agt jaar terug was dit ook omtrent ‘n storie. Die laaste week het ek op n matrassie in die gang geslaap vir privaatheid en het reggekom met die minimum, Roelf was toe al vir drie maande op die plaas. Toe ek begin kar pak was Piet net weg. Ek pak en pak en Piet is weg. Ek moet sleutel oorgee, en Piet is weg. Die nuwe eienaars se opmerkings oor pellets en katte wat hulle gou-gou regsien het my vir twee ure op my rug laat lê en wag in die dolleë huis. Met ‘n groot gesukkel het ek hom in ‘n vervoerhokkie gekry toe hy uiteindelik opgedaag het, en het ek hom maar by die veearts laat inspuit met ‘n kalmeermiddel, want tyd vir Rescue se saggies werk was daar nie meer nie. Dit was ook maar net genoeg om hom stil te laat lê, sy poot het maar kort-kort gekap na ons hondjie wat saam met hom moes ry.

Op die plaas het hy onmiddellik padgevat die bosse in en ons het hom amper twee weke later op die hoop bokse met ons aardse besittings gekry wat onder ‘n seil gepak was. Daar was ons reuk, en daar het hy gaan skuil.

Pietkat is tande is al vrot, hy raak maer en hy hol nog steeds wanneer hier mense kom. Maar Piet is óns kat en ek is baie bly dat ons gesin weer voltallig is. Welkom tuis, my Pietertjiekat!

 

Advertisements
Categories: Plaaslewe | Sleutelwoordw: ,,,,, | 10 Kommentaar

Artikelnavigasie

10 thoughts on “Welkom tuis, Pietkat!

  1. Ek was so bly toe ek sien hy is weer tuis. Onse liewe Nartjieskil het ons trek ook met ‘n uur of twee uitgestel… Sy is nou 19, en blind en doof.

    • Snaaks dat katte so gaan wegkruip. Mens weet hulle is bejaard en dis onvermydelik dat hulle moet doodgaan, maar ek sou nie wou he dat hy so moes gaan nie.

      Daar is ‘n storie oor ons Toffie hondjie wat in die ander brand omgekom het, maar ek sal hom nog anderdag vertel.

  2. Tog so bly Pietkat is weer tuis! Ek het darem gegloen gehoop hy sal weer uitkom. Dis mos katte se manier.
    Ons lucky kat was ook eenkeer 2 weke lank weg – hy het teruggeloop na ons nightspot waar ons hom gekry en makgemaak het. Ons het haar na ons huis toe gebring toe die mannetjiekatte haar kleintjies wou doodbyt, maar sy was nie gelukkig hier nie, want Grietjie( ons ander optelkatjie) was afknouerig met haar, en sy was vreeslik bang vir Rusky, ons doodgoeie hond. To ons nefie met sy baba cocker spaniel een dag kom kuier, verdwyn Lucky- en daag 2 weke later weer op by die nightspot, waar sy koning kraai en heeldag daar rondle asof die plek net aan haar behoort. Waar sy voorheen geskrik het vir die harde musiek, pla dit haar nou glad nie, en waar sy voorheen skrikkerig was vir vreemde mense, is sy nou baie danig met al die gaste- en hulle met haar.

    • Hulle het maar hulle eie persoonlikhede. Ons Oreokat sal op enige vreemde persoon se skoot gaan klim. Sy dink soms sy is ‘n hond, wanneer ek en die brakke op die plaas gaan loop dan gaan sy saam. Dis vreeslik snaaks, haar hare staan in so ‘n mo-hawk getrek en vir die geringste ding trek die rug krom, maar loop loop sy

  3. Ek is baie bly!

  4. Ek het ook eenkeer so ‘n saamloopkat gehad- nogal lekker. Soms het hy vooruit gedraf, en agter ;n bossie weggekruip, en as ons nader kom , ons dan kamstig bespring.

  5. Uit en tuis, en by die huis!! Bly vir julle 🙂

  6. Terug pieng: Pietkat kry ‘n nuwe naam « Slakkelak

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

Blog at WordPress.com.

%d bloggers like this: