Buig Jakoba, buig!

Vrydagmiddag het die skool vroeg uitgekom omdat die atlete ‘n byeenkoms by Ermelo gehad het, en dit dan nie die moeite werd is om skool te hou vir die wat oorbly nie. Ek het eers gou ‘n pakkie vir Marina opgetel by haar veearts vriendin en toe vinnig klere vir die twee dae gegryp en my kamera vir die wis en die onwis vir die verrassing wat die kinders gereël het. My laptop het sommer in die kar gebly. Die katte en honde se bakke is volgemaak met genoeg vir die twee dae en so neergesit dat dit nie kan nat reën nie. Boesman die staffie het hom natuurlik gewip toe hy sien ek dra ‘n tas kar toe en op die vierwielmotorfiets gaan sit en geweier om my te groet.

By die Nelshoogte bergpas het ek deur die ergste storm gery waardeur ek nog ooit self moes bestuur. Ek het gehuil in die kar van banggeid. Dit het VERSKRIKLIK gehael en die wind het erg geruk. Op ‘n bergpas kan jy nie stilhou nie, jy moet net ry. Van die skielike afkoeling op die teerpad het mis opgewalm, en met die hael en vreeslike reën van bo af was die sig met tye heeltemal weg. Soos in niks. Heeltemal niks. Ek het maar net gehuil en gebid “Vader vat asseblief net die stuurwiel want ek weet nie waar om te ry nie.” Gewoonlik swets ek vreeslik wanneer daar ‘n groot trok voor my ry, maar Vrydag het ek gesê “Dankie Vader dat ek iets het om te probeer volg.” Daar was tye wat ek nie eers die trok se liggies voor my kon sien nie. Ek het letterlik op sy stert gaan ry, en die kar agter my het op my stert gery om my noodligte as baken te gebruik. Anderkant die berg was daar geen teken van reën nie, net lekker sonskyn.

Sondag voor ek weg is uit Pretoria het ek en Roelf vir oulaas gaan saam ontbyt eet. Toe Annerine bel om te sê ek het haar UNISA handboeke wat ek saamgebring het in die kar vergeet Saterdag, was dit ‘n ekstra geleentheid om ook vir oulaas met my kind te kuier. Ons het mekaar sommer by die winkelsentrum gekry en toe sommer vir haar skoene gekoop vir die troue en ‘n paar stukkies kraamdrag vir die ou lyfie wat een van die dae gaan uitsit.

Ek gee nie om dat ek alleen bly in die week nie, maar om alleen die lang pad van Pretoria af huistoe te ry is vir my alleraaklig. Ek verkort my rit so bietjie deur oppad eers ‘n bietjie in Middelburg by my broer aan tegaan en ‘n lekker teetjie  te drink.

So kom ek toe by die huis en ry eerste op na my nuwe huis toe, sodat ek al die presente daar kan aflaai, want in my ou gastehuisie is nie plek vir ‘n muis nie. Ek kon sien die storm wat ek op die berg gekry het was ook hier deur, want ek het ‘n hele paar bome gesien wat afgebreek was. Nie omgewaai nie, afgebreek. Die honde het nie soos gewoonlik opgekom boontoe om te kom groet nie, maar omdat alles reg bo was, het ek gedink hulle het dalk nie gehoor toe ek ingery het nie. Op my tyd het ek alles netjies gepak en gou die reënmeter leeggemaak. Díé hang net aan een spykertjie en is nie regtig akkuraat as dit so skeef hang nie. Ek het 64mm uitgegooi, maar dit was verseker meer.

'n Boom naby die huis wat afgebreek is

Eers tóé het ek afgery ondertoe. Die gastehuisie is so amper in ‘n sloot gebou en toe ek naderkom het ek besef iets is verkeerd met die prentjie voor my.  Ek het so gestop dat ek vinnig kan omdraai as ek moes en toe tref dit my wat verkeerd is met die prentjie. Ek sien nie die huis se dak nie…

Toe ek uitklim en afstap het my honde gekom en my amper omgespring en ek wou nie kyk nie. Ek wou nie. Ek wou nie. Maar ek moes. En dit was ‘n verskriklike skok. Ek was histeries toe ek vir Roelf bel en hy moes mooi paai voor ek kon uitkry wat aangaan.

Boesman pas getrou die murasie op

 Die mure was nog warm en een van die groot hope gras. Ek was te geskok om verder aandag aan die honde te gee. My eerste gedagte was net dat hulle al die heel naweek sonder kos was en ek het blindelings weggery dorp toe om vir hulle te gaan kos koop. By die hek het ek eers die kinders, my ma, ousus en vriende gebel en gevra hulle moet almal laat weet. Oppad het my oom gebel en om te hoor waar ek is, my sus het hom toe reeds gebel. Die winkels was al toe en hulle het gesê ek kan daar kom kos kry. Hulle het getroos en tee aangedra tot Roelf ‘n paar uur later aangekom het van Pretoria af.

My slaapkamer. Die breekgoed op die vloer is goedjies wat op die plafon gebere was waarvoor ek nie plek gehad het nie. Dit was goedjies vir die nuwe huis...

Die arme honde het omtrent die kos verslind. Boesman was kwaad vir my en erg getraumatiseerd. Hy het vir my gegrom wanneer ek naderkom, iets wat hy nog nooit, ooit met enige persoon gedoen het nie. Ons het hom laat klaar eet en toe het hy toegelaat Roelf hom troos en daarna ek.My arme, arme hond. Na die vorige keer was hy vreesbevange as die weer net brom, en Pietkat wat laaskeer vir ‘n maand in die veld gebly het, het dan onder die bed ingekruip. Nou moes hulle weer alleen deur die trauma. Pietkat is op hierdie stadium nog weg, ek sit kos uit, en daar is van geëet, ons hoop maar dis hy. Ek het Oreo swartkat Maandag gekry.

Yskas met verkoolde inhoud

Die vierwielmotorfiets wat die vorige keer byna uitgebrand het, is hierdie keer amper platgeval deur een van die bome wat afgebreek het van die wind.

Millimeters... net genade. Net genade.

Wat is die KANS dat jou huis twee keer in ‘n jaar se tyd afbrand, wat is die kans?

Ons probeer maar net om die silwer wolkie om die donker wolk te sien soos my ma ons van kleins af geleer het. My nuwe huis is darem so dat ek nou daar kan bly, Roelf het slotte aan die deure gesit en hy kon die elektrisiteit so koppel dat ek lig en warm water het totdat Eskom volgende week amptelik sal kom. Daar is nog BAIE werk, maar ten minste het ons ‘n dak oor ons kop.

My badkamer is die volledigste. Net die spieel bokant die wasbak kort, 'n stortdeur en 'n kassie.

Vir ‘n jaar het ek in ‘n skottel gebad omdat ek van bad hou en die gastehuisie net ‘n stort gehad het, nou bad ek weer dat die borrels spat.

Ek sit maar die koppies en glase in 'n boksie, dis maklik om te skuif wanneer ons in die kombuis wil werk.

Ons het sommer ‘n staaltafel gaan koop wat Roelf weer later in die garage kan gebruik en ‘n tweeplaat gasstofie. Ek het ‘n ou lappie omgesoom sodat ek bietjie kleur kan verskaf. Roelf se gereedskap het oorleef en my nuwe naaimasjien en omkapper wat ons in die ons bo gebêre het. En ons het die kombuistee goed en nog ‘n paar goedjies wat ek by die lapa in ‘n kassie gehad het.

Slaapkamer

Net verlede week het ek my eerste bestelling gekry vir drie piouter juweledosies, en Roelf het Maandag by Mica gestop en gesê ek moet gaan benodighede koop. Hy weet hoe terapeuties dit is om te skep en ek sal gek word as ek niks het om te doen in die aande nie.

My wasbak het warm water! Die gastehuisie waar ek 'n jaar gebly het se opwasgeriewe was aan die buitekant, daar was nie plek binne nie.

My vriendin het blomme gebring om te troos.

'n Tikkie kleur doen wondere aan 'n vertrek, al staan die blompot op die vloer.

Roelf het die potplant wat in die lapa gestaan het gaan haal en dit skep sommer ook ‘n huislike atmosfeer.

Die meubels het ons gekry na die ander huis gebrand het, en dit het gelukkig nie in die gastehuisie gepas nie!

Ons fisiese nood is nie so groot hierde keer nie. Ek móét sê ek is OK, sodat ek dit self kan glo. Maar binnekant is ons maar rou. Dankie familie, vriende, Facebook- en Blogvriende vir julle gebede en onderskraging. Dankie dat ek vir jou kon vertel. Dit maak die verwerking bietjie makliker. Ons kyk net vorentoe, want ons kan nie die verlede verander nie.

Fil. 4:13 “Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee.”

Advertisements
Categories: Slakverdriet | Sleutelwoordw: ,,,, | 22 Kommentaar

Artikelnavigasie

22 thoughts on “Buig Jakoba, buig!

  1. Ek móét sê ek is OK, sodat ek dit self kan glo.
    Dis presies wat die liewe Son gesê het, met mooie woorde daarby. Maar ek wil nie namens haar praat nie.
    Een van my beste vriendinne het ‘n groeps-gebed wat baie kragtige gebede doen gevra om ook te help, en daardie wense het julle bereik van ‘n paar kontinente af. XXX

  2. Liewe Slakkelak. Baie dankie vir jou positiewe manier waarop jy dit hanteer. Daardeur leer jy vir ons so baie!
    Baie baie sterkte. Eintlik het ek nie woorde nie.
    Ons bid vir julle

  3. Kameel

    Woorde voel so half oorbodig – dankie vir die deel. “The grace of our Lord Jesus Christ, be with you all.”

  4. Ai Slakkelak, my hart is seer vir jou verlies en verwonderd oor jou waagmoed en positiewe ingesteldheid.

    Ek dink nie jy sal ooit vir ons kan verduidelik hoe ver en wyd die omvang van so ‘n dubbelle trauma is nie. Ek kyk dikwels na stories in die Bybel en verwonder my aan hoeveel jare se wroeging en pyn en lyding in een sin vasgevang word. Een sin wat ons sommer net so vinnig lees maar vir die betrokke persoon verteenwoordig dit oneindig meer.

    Baie sterkte vir jou en jou gesin.

  5. Ai, Sterkte! Ek bewonder ook jou positiewe ingesteldheid! Ek glo Gog ggee mens krag na kruis. ‘n Mens sien dit duidelik by jou!

  6. God gee!

  7. Terug pieng: “Hy’s nie daar nie.” – ‘n Les in losmaak | murphy se wet

  8. Genade mens maar dis verskriklik! Jou positiwiteit is absoluut fantasties.

  9. O dis ‘n groot seer. Sterkte!!

  10. Terug pieng: Welkom tuis, Pietkat! « Slakkelak

  11. Terug pieng: Voetspoor in die klip « Slakkelak

  12. Terug pieng: Waar gaan sit jou skrik? « MaanKind

  13. Terug pieng: My wonde se rofies lê nog vlak « Slakkelak

  14. Terug pieng: Wanneer omgee deel van plig word « Slakkelak

  15. Terug pieng: ‘n Spesiale Leatherman | Slakkelak

  16. Terug pieng: Verlies | Slakkelak

  17. Terug pieng: Borreltjies uit die dieptes | Slakkelak

  18. Terug pieng: Oorwinning | Slakkelak

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

Blog at WordPress.com.

%d bloggers like this: