Soms moet ‘n mens ‘n strepie trek

Ek wonder of ek al ooit vir so lang tydperk aaneen fisies so hard gewerk het soos die afgelope somervakansie. Dit het my verskriklik goed gedoen.  Ek was lanklaas so ontspanne en ek het amper alles geëet wat ek wou, sonder om migraine te kry. Marina sê sy dink ek het al die gifstowwe uitgesweet elke dag.

Die dag toe die skool  begin het, het die borreltjie egter gebars. Skielik is dit net skool, skool, skool en nogmaals skool. Voorbereiding. Vergaderings. Oueraande. My dae word opgeslurp en my aande verwoes. Daar is nie tyd om veld toe te gaan nie. Die Pompoms floreer op die skielike bevryding van my spuitkan en die Lantana koggel my ooghoogte as ek verby jaag vir werk. My Boesmanhond bring kop onderstebo sy bal wanneer ek donkertyd by die huis kom. Jaag dan maar sy frustrasies uit op die uitgeskopte sebrahingsie wat vertroosting kom soek omdat hy dink ons is sy trop.

Die wonderlike nuus waarvoor ek lankal wens “Mamma, jy gaan ouma word…” is net ‘n bietjie onverwags in hierdie mallemeule-rondomtalie-wind. November se troue word vervroeg na April. ‘n Nuwe venue moet gesoek word, ‘n spysenier, trourok, ‘n dominee, strooimeisierokke, ensovoorts.

Elke dag word bepaal deur my dagboek se prioriteitslysie. Daar is nie tyd vir blog en Facebook nie, kommunikasie kanale is toe na my familie en vriende. Laasweek Dinsdag skryf ek op Facebook: “Tussen skool en troureëlings is my lewe besig om by my verby te hardloop. Dit gaan so vinnig ek is bang ek pootjie en val my nerwe af.” So weet my hulle darem dat ek nog asemhaal. Ook maar net.

Die lysie word afgewerk en God is groot en goed met my troulysie. Altyd. Vir R30 000 kan ek vir 100 gaste kos gee (skemerkelkie en eetgoedjies terwyl hulle foto’s neem en voorgereg tot nagereg), my kind kry ‘n pragtige trourok, die strooimeisies kry rokke, die blomme word gedoen, my kind kry haar wit tooisels en baie liggies, haar truffeltoring as troukoek en vele meer. VIVA platteland en mense met gul harte! Dankie Vader vir U goedgeid om hierdie mense op my pad te bring.

Die eerste onstpan kom laasweek Woensdag toe my ousus-hulle by my oorslaap en ek die hele aand heerlik met hulle kuier. Hulle het alleen tyd verwyl op die plaas gedurende die middag toe ek by die skool verpligtinge nagekom het. Maar toe my dagboek my middernag meedeel dat dit my beurt is om te open en ‘n boodskappie te lewer Donderdagoggend in die personeelkamer, wou ek amper huil. Wat, WAT gaan ek tog sê? My hart huil na Bo en my Bybelse dagboek vir vroue van Hennie Symington val oop en ek staan verstom oor die boodskap wat ek kry.

“Tyd kan nie herhaal word nie” is die opskrif van die dagstuk. Die teksvers is Luk 6:12 waar vertel word dat Jesus tyd gemaak het vir Sy Vader. “Jy word geken aan die manier waarop jy jou tyd deurbring. Dit weerspieël jou waardes.” Skool jou verpestelike ding. “Teoreties gesproke is ons vryetyd vir ons baie belangrik, maar tog bevind ons ons in beroepe wat elke greintjie vryetyd uit ons pers.” Skool jou verpestelike ding, nog ‘n keer. Ek dink die stuk is NET vir onderwysers geskryf. Ek lees die boodskap die volgende dag en stap bevry uit die personeelkamer. Dit wat vir my belangrik is, is nie skool nie. Ek spreek die woorde hardop uit voor ander dat ek ‘n strepie gaan trek… my lewe vir my gaan terugvat.

Maar eers moes die dag se lysie afgewerk word. Donderdagmiddag se tyd was haarfyn beplan en ek kon nie glo dat ek alles gedoen gekry het nie. Ek is eers 15h00 weg by die skool, en is toe Nelspruit toe om die laaste kartonnetjies vir die troukaartjies te koop. Barberton is 45km vanaf Nelspruit, ek bly op ‘n plaas tussen die twee. In die winkel leen hulle vir my ‘n skêr, linaal en potlood om dit gou te knip. Teen 16h30 storm ek by ‘n ander winkel in waar ek dit met die allerfraaiste blommetjies embosseer. Gratis. Desember het ek al gereël dat ek een of ander dag gaan kom. Ek het toe ‘n aansienlike bedrag vir mosaïekbenodighede daar gespandeer en hulle gee om vir hulle klante. VIVA platteland! Ek rol daai Cuttlebug teen die spoed van lig en 16h57 HARDLOOP ek uit om die poskantoor so drie besighede verder se deur nog oop te kry. Eers toe ek die papiertjie met die opsporingsnommer vir Annerine in Dundee sms bedaar my hartklop en hou my hande op met bewe. Toe pak ek my skoollysie by die huis. So het dit die afgelope drie weke met my gegaan.

Vrydagmiddag is ek weg Witrivier toe. Vir die skool. Nadat ons ‘n uur gewag het vir die fasiliteerder van die kursus het die groep halt geroep. Ek het my skoolhoof gebel en hom gesê. Hy het nie ‘n probleem gehad toe ek sê dat ek nie my tyd Saterdag weer gaan mors nie. By die huis het ek met ‘n huppel in my stap my spuitkannetjie gevat en vir die eerste keer in drie weke het ek die veld geruik. Ek het nie ‘n hoed opgesit nie – die wind het toestemming gehad om vrylik met my hare speel… My brakke was uit hulle self van blydskap om saam te kon gaan. Ek het nie omgegee vir die skrape op my bene nie. Ook nie vir die paar bosluise wat ‘n happie bloed gesteel het nie. Want ek was in die veld.

Ek kook gewoonlik Vrydagaande omdat Roelf ‘n lekker bord kos mis in die week. Dit was ‘n heerlike aand en ons het na ete in die halfmaan se lig die kilometer tot by die hek gestap en terug. Sommer net lekker gekuier met mekaar en alles wat die naweek gedoen moes word beplan. Dis heerlik om so in die aand te stap. Die pad staan helder uit in die maanlig. Die naguiltjies het spesiaal vir ons ekstra hard gesing, die kameelperde ewe nuuskierig agter ons aan. Hy mis die veld nog meer as ek, ek hoor darem die naggeluide en asem die vars lug in, drink ons lekker boorgatwater. Hy moet chloorwater drink en asem heeldag motoruitlaatgasse en gemors in.

Ons het nie aan die huis gebou hierdie naweek nie, daar was te veel plaaswerk wat gedoen moes word na ons Saterdag ons besigheid in die dorp afgehandel het. Laatmiddag het ons vir Marina ‘n hokkie vir haar haas gebou.

Vanoggend na kerk was ons gou Nelspruit toe want die haashok het iets gekort. Vir oulaas het ons elkeen ‘n spuitkan volgemaak en al geselsende het ons die laaste tydjie saam spandeer voor dit half twee was. Want half twee moet ek sy klere stryk en twee uur ry hy  van my af weg.

En toe het ek my teruggevatte tyd spandeer om my sprinkane op my ander blog te sit. En te skryf dat my lewe nog steeds nie rustig genoeg is nie, maar dat ek ‘n strepie getrek het.

Ek het talente ook gekry wat uitgeleef moet word. Talente waarmee ek Hom moet eer. Ons moet tyd spandeer met Hom, en ons kan dit nie doen as ons so jaag na wind nie. Ons tyd hier is kort gemeet aan die ewige tyd wat vir ons wag . Want ons word gebore net sodat ons kan sterwe, ons is uitgekies daarvoor sodat ons die ewige lewe kan erwe.

Advertisements
Categories: Plaaslewe, Skoolhou, Slakgedagtes | 9 Kommentaar

Artikelnavigasie

9 thoughts on “Soms moet ‘n mens ‘n strepie trek

  1. Hopelik het dit ook gehelp dat ek gister vra na jou? En hoe ouer mens word hoe vinniger voel die tyd

    • Toe was my kop al aan’t beplan om hierdie te skryf. Wanneer Roelf by die huis is, spandeer ek my tyd saam met hom. Wanneer hy ry en die alleenheid vang my dan haal ek my beste vriendin uit – my rekenaar.

  2. Kameel

    Ek het ‘n boek gelees waar die skrywer jou laat voel jy sit saam met hom in Afrika. Wanneer jy oor die veld praat kry ek daardie selfde gevoel. Dankie!!

  3. Gogga

    soms is dit nogal tricky om jouself te leer daai strepie trek.
    Ek wil ook in jou veld stap.

  4. Ek is nou skoon uitasem na ek hier gelees het. Jy skryf so dat ek myself heeltemal inleef daarin 🙂

    • Net vanmiddag toe ek van die adminkantoor na my klas draf, toe vra ‘n dame wat studiemetodes aan die kinders verkwansel of ek dan altyd hol. Want as sy my sien dan hol ek op die stoep. My lewe is ‘n drafstap, daar is nie tyd vir stilstaan nie.

  5. Sjoe, ek is skoon moeg en ek LEES net wat jy alles doen! Baie sterkte daar en dankie vir die inspirasie!

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

Blog at WordPress.com.

%d bloggers like this: