Straatverhoor

‘n Paar weke terug het ek ‘n ontstellende ondervinding beleef.

Die Saterdagoggend baie vroeg was Roelf al uit die kooi. Ek hou van bietjie inlê Saterdagoggende en staan altyd eers na hom op. Na ‘n ruk kom sê hy die hoofwaterpyp is weer êrens af, die watertenk is leeg, maar hy moet eers Nelspruit toe. Vir my beteken dit ‘n uitnodiging om in die veld te kom en ek vat toe die pyp se spoor.  Ons boorgat is ‘n kilometer van die huis af en plek-plek is die pyp bogronds.  Die bokke trap gereeld ‘n gat êrens in die pyp.

Ons moes eers wag vir die plafonne om afgelewer te word voor ek kon koöperasie toe om klampe te gaan kry. Dom ou vrou wat ek is koop ek toe die verkeerdes en hy sê toe hy ry sommer saam, dis amper toemaaktyd en dan wys hy my sommer op watter rak ek moet kyk.

Ons magies het al lekker gegrom van die honger en hy stel toe voor ons koop sommer gou KFC, dit is nogal die enigte ou wegneemetetjie wat my nie migraine gee nie. Die KFC is op ‘n hoek by ons, en ons parkeer gewoonlik oorkant die straat. Ek hol toe oor maar draai net so in my spore om toe ek sien hoe besig dit binne is. Die tou staan buite die deur aan die kant waar ons nie kon sien nie.

Terwyl ek by die robot staan en wag hoor ek ‘n kabaal op die anderkantste hoek. Bottels wat breek. Goed wat val. Swart mense wat skree.  Twee wat baklei. Die een het ‘n 25 liter waterkan wat hy gebruik om die ander een se vuiste te probeer ontduik.

Die robot wil nie slaan nie. Hulle hardloop in my rigting. Wil nie oorslaan nie. Die karre ry. Ek kan nie hol nie. Wil nie oorslaan nie… Uiteindelik kry ek ‘n kans en ek hol oor die pad. Bewend ruk ek die kar se deur oop. Hulle is nou oorkant ons. Die vlugtende ene val. Onvas op sy voete strompel hy op. Hardloop voor ‘n kar in na ons rigting. Dit alles gebeur in ‘n oogwink, want my deur is nog oop toe is hulle reg voor ons kar. Roelf skree “Fokof hier by my kar!” Iemand skree iets in SiSwati. My deur is toe. Die hordes kom agterna gehol, een het ‘n leë groen bottel in die hand gereed om mee te slaan…

Oë groot en verstar. Neusvleuels wyd oopgesper. Hy keer nie meer nie. Hy is vasgedruk tussen die bakkie voor ons en ons kar. Die ander een slaan en slaan. Nie met sy vuis nie maar met die elmboog in die gesig. Die oë… is dit die bang of is dit drank of is dit drugs wat dit so stokstyf maak? Hy slaan weer maar snaaks daar is nie ‘n druppel bloed nie. Die ander is daar maar hulle kom slaan nie ook nie. Help ook nie. Maar staan gereed.

Dit voel soos ‘n ewigheid voor ons wegtrek. “Hulle gaan hom doodmaak” sê ek met ‘n bewende stem. Roelf wat SiSwati kan praat sê hulle skree hy het iets gesteel by iemand. “Toemaar, daai groot, vet swartman het hulle klaar uitmekaar gehaal” sê Roelf wat in sy truspieëltjie kyk.  Ek het nie eers die groot man raakgesien nie. Ek weet nie watter tipe of kleur klere iemand aangehad het nie.

‘n Wit waterkan, ‘n groen bottel, ‘n elmboog in ‘n gesig. Arms wat nie meer keer nie. Verstarde oë en wydgesperde neusgate . Dis al wat by my geregistreer het. Straatverhoor.

Advertisements
Categories: Sommer maar net | 10 Kommentaar

Artikelnavigasie

10 thoughts on “Straatverhoor

  1. Ek dink partykeer dit is beter- die man wat so gestraf word- sal dit nie weer doen nie= en dit is ‘n voorbeeld vir die volgende skelm !!

  2. En by so ‘n verhoor is daar nie genade nie, geen versagtende omstandighede nie. Niemand wat miskien kan sê, ek was honger en het ‘n brood gevat vir my kinders of so iets nie.

    • Jy is reg Klippie, daar is geen genade nie. Ek weet ek self voel soms dat ek die gereg byvoorbeeld in eie hande sal neem wanneer die wilddiewe hier doenig is, maar om dit te sien was skrikwekkend.

  3. Dis allerverskrikliks om te moes aanskou, (dis al erg genoeg om dit net so te hoor!) maar die harde werklikheid is dat daardie ou nie sommer weer gaan steel nie.

  4. Ek weet darem nie- het nou die dag in die plakkerskamp ‘n man gesien wat sopas met ‘n mes gesteek is= hy het vir my verlam gelyk. Straatverhoor is barbaars.

  5. Kameel

    Dit is ontstellend, en om dit nog van so naby te aanskou. Ek voel te gou jammer vir mense, of hy nou gesteel het of te nie. Nee, dit is te wreed.

  6. Sjoe! As jy so naby is, is die kans nog daar dat jyself ook kan seerkry!

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

Create a free website or blog at WordPress.com.

%d bloggers like this: