Keuses

Gaan ek my wekker so bietjie paai vir nog tien minute se slaap? Watter skoene gaan ek by my nuwe pienk pantie aantrek? Dit is maar van die eerste keuses in my oggend wat die res van my dag beïnvloed…

… want kies ek om die wekker te lank te paai, dan is ek laat vir werk. Kies ek om dadelik op te staan, dan het ek baaaie tyd om allerhande dingetjies in te pas en dan is ek óók laat vir werk. Kry die idee? Ek is altyd laat vir werk… of liewer – ek wás altyd laat vir werk, want dit het maar net beteken dat ek ‘n groter keuse moes maak om ‘n spesifieke roetine te hê sodat ek betyds kan wees .

Op dieselfde beginsel werk ander keuses in ‘n mens se lewe ook maar. ‘n Mens maak ‘n keuse en jou lewe loop ‘n sekere pad. Dis nie altyd die regte pad, of ‘n maklike pad nie. Dan maak mens weer ‘n keuse om dit te probeer verander en die uiteinde is maar dieselfde as die eerste keuse. Dis dan hiér waar ‘n mens êrens moet besef dat jy oor die muur moet klim waarin jy jouself vasloop, want daar is nie ‘n pad deur die muur nie. En dít lyk gewoonlik soos ‘n onbegonne taak en dan stamp jy jou kop besimpeld – weer en weer en weer…

Daar is so baie groot keuses wat ons in ons gesin moes maak die afgelope paar jaar wat ons lewe elke dag raak.

Om finansiëel te oorleef moes ons die keuse maak dat Roelf in Pretoria werk en ek alleen op die plaas agterbly. Dis ons keuse om hard aan ons huwelik te werk in sulke moeilike omstandighede. Dis ons keuse om aan te gaan met ons lewens nadat ons huis afgebrand het. Dis ons keuse om nie toe te laat dat die lewe nou by ons verbygaan nie. Dis ons keuse om weer stokperdjies te hê en maar die geld op ander plekke af te knyp. Dis ons keuse om hard te studeer en nie te jol nie. Dis ons keuse om gelukkig te wees. Dis ons keuse…

Dis so hartverskeurend om te sien as mense na aan jou verkeerde keuses neem. Hartverskeurend as hulle weet dis verkeerde keuse maar dit nogtans neem. Hartverskeurend as hulle maar bereid is om die lewe se pakslae te vat, om die pad te loop van emosionele mishandeling, drank en dagga en wat ook nog.

 ‘n Keuse wat ek hierdie week gemaak het is om nie pa te staan vir ander na aan my se verkeerde keuses nie, maar ook om dit nie heeltyd voor hulle koppe te gooi nie. Hulle maar toe te laat om hulle keuses te lewe. Want maak nie saak watter kant toe nie, hulle keuse beïnvloed my lewe, en mý keuse oor hulle beïnvloed my gesin se lewe; maar my en my gesin se welstand is my prioriteit. Dis my keuse.

Eendag. Eendag moet ons elkeen verantwoording doen vir die keuses wat ons vandag en gister en die dag voor dit gemaak het.

“n Facebook vriend, Lourens Oosthuizen het in die week die volgende gesê

DOEN alles volgens die wil van God.

Doen ALLES volgens die wil van God.

Doen alles VOLGENS die wil van God.

Doen alles volgens DIE wil van God.

Doen alles volgens die WIL van God.

Doen alles volgens die wil VAN God.

Doen alles volgens die wil van GOD.

Net ek. Net jy. Niemand anders voor God nie. En daarom kan ek maar net bid – Vader, help my asseblief om te onthou om U te raadpleeg as ek ‘n keuse moet maak. Gee asseblief vir my die wysheid om te kan insien watter die regte paadjie is. En help my om die paadjie te loop as hy vol dorings is.

Advertisements
Categories: Slakgedagtes | Sleutelwoordw: | 8 Kommentaar

Artikelnavigasie

8 thoughts on “Keuses

  1. Jy stel dit mooi. Dis ook belangrik dat mens moet besef dat keuses nie altyd net goed/sleg, of maklik/moeilik is nie. Soms is dit twee ewe moeilike goed waarvan jy een moet kies. Soms is dit twee ewe lekker stukke koek, maar jy kan net een kry.

    • Die moeilikheid kom by die keuses waar wat jy ook al kies, dit iets slegs inhou en jy moet kies watter slegte ding is die beste. En gewoonlik is dit na ‘n verkeerde keuse op ‘n vorige tyd in jou lewe. ‘n Goeie oor het ‘n halwe woord nodig.

  2. tandula

    Kies JOU en JOU gesin se lewe.
    Mense wat willens en wetens slegte keuses telkens herhaal is emotionele en finansiele vampires op die wat graag wil help. Hulle het gewoonlik nog die gal om die wat sleg voel om daai mense “So te sien” ook af te trek. bollie.

    Koobs, Jy het aarde toe gekom en gaan verslag doen oor hoe jy gelewe het. Elke mens gaan vir hulle self verslag doen en hoe hulle die na aan hulle emotioneel gehelp groei of afgeknip het. En as jy in die middel van ‘n modderpoel saam met iemand is, kan jy gewoonlik nie hulle uithelp nie … jy moet self eers langs die modderpoel veilig staan voor jy iemand anders kan uithelp.

    As iemand anders se keuses jou laat voel of ‘n gebou op jou geval het … gaan jy suffer, want hulle gaan aangaan na die volgende een om hulle ook leeg te suig sonder om terug te kyk.

    Ek dan God dat ek in die hoerskool dwelms ontmoet het en gesien het hoe dit mense se menswees leegsuig en hulle nie JOU raaksien nie. Hulle sien net in jou raak wat hulle kan uitsuig … hulle sal jou belieg en besteel en mooi woorde voor jou gooi om jou nog te laat voel dit was jou skuld dat hulle so sleg is. BOLLIE BOLLIE BOLLIE!!!!!

    Kies JOU, kies jou man en kinders. Jy is ‘n amazing mens, Kies om ‘n amazing mens te bly

  3. Ek ken mense wat hulle seun die huis belet het omdat hy dwelms bo enigiets anders in sy lewe gekies het, wat sy eie ouers en hulle vriende en familie bedrieg en besteel het. Hulle het die tough love roete gevolg. Maar steeds elke dag vir hom gebid en gehoop dat hy die regte keuse sal maak. Veertien jaar later het hy teruggekom. Die waardes wat sy ouers hom geleer het, het bly vassteek en hy is ‘n wonderlike jong man met sy eie gesin vir wie hy nou die regte waardes leer.
    Hier was moeilike keuses wat op die ou end die gewensde resultate gelewer het, maar op die ou end moet elkeen pa staan vir die keuses wat hy of sy maak.

    • ‘n Vriendin van my se seun is die huis belet ook oor dwelms en hy is ‘n paar jaar gelede oorlede aan ‘n oordosis. Ek het haar eers daarna leer ken, maar die seer was nog baie vlak oor sy keuses.

  4. Vanoggend gevoel iemand slaan my ‘n vuishou op die krop van my maag toe ek hoor van ‘n keuse wat een van my kinders wil maak. Dit gaan ‘n rimpel-effek he wat ek weet sy nie nou verstaan, of die impak besef wat dit op so baie mense gaan he nie. Keuse is ‘n ontsaglike verantwoordelikheid.

  5. Dankie. Wat n wonderlike stuk skryfwerk! Solank ons nooit sal vergeet dat ons keuses het nie, en nie ander sal blameer vir ons eie verkeerde keuses nie. Mag ons kies om die lewe voluit aan te gryp.

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

Create a free website or blog at WordPress.com.

%d bloggers like this: