Een teen die oor en een teen die teer

Een-teen-die oor-en-een-teen-die teer is ‘n tong-in-die-kies defenisie van oriëntering. Sit nou Lewe daarby en jy kry die skoolvak Lewensoriëntering. As wetenskaplike is dit sekerlik vir my die moeilikste vak om aan te bied. Maar ‘n mens se rooster moet vol en eintlik is dit ook goed om so bietjie uit jou eie gemaksone te beweeg en nuwe horisonne te ontdek.

Die oogmerk van die vak is om leerders voor te berei op die lewe en hulle te leer wat morele waardes is. Ook om hulle te leer dat een-teen-die oor-en-een-teen-die teer nie die wyse is om op te tree nie, maar dat elke mens basiese lewensregte het. Baie van die kinders het sterk morele waardes en dis goed om dit te sien. Daar is egter sommiges wat net geen onderskeid kan tref tussen reg en verkeerd nie, en dit gee soms hewige debatte af in die klas. Elkeen is geregtig op sy opinie, maar moet dit kan substansieer. Ek gee hulle altyd eers geleentheid om hulle sê te sê sodat ek die gevoel kan kry van hoe hulle dink voordat ek my eie opinie gee. Dit bly maar ‘n vak van opinies. Die enkeling se opinie, dertig ander in die klas se opinies en dan die opvoeder se opinie. En êrens tussen al die opinies moet moraliteit ‘n rol speel.

Ons is drie onderwysers wat die graad tien groep deel, en met vae vae riglyne uit die kurrikulum dokument gee dit elke onderwyser vryheid om basies te doen soos hy lus kry. Dieselfde onderwerp is jaar-in en jaar-uit op die agenda. Volgende jaar met die nuwe CAPS sisteem gaan dit meer georganiseerd wees, en behoort eenvormig te wees, ongeag die persoonlikheid of opinies van die onderwysers.

So het my mond vroeër in die jaar oopgehang toe ons oor seks gepraat het en die kinders vertel dat juffrou so-en-so sê dat jy maar net moet sluk met orale seks. Wat het van veilige seksopvoeding geword? Wel, sy is geregtig op haar opinie. Ek op myne.  Maar die boodskap wat die kinders veronderstel is om te kry is dat mens oor jou veiligheid moet dink, en in die eerste plak nog te jonk is om dit te doen.

Die leerders het ‘n projek gehad oor dwelms as assessering vir termyn drie en ek het baie oulike werk ingekry. Een vraag was ‘n gevallestudie waar ‘n scenario geskep word van ‘n partytjie waar jy sober is en jou maat saam met wie jy moet huistoe gaan wat poepdronk en vol dwelms is. Hulle moet dan ‘n keuse uitoefen oor hoe om huis toe te gaan. Twee opsies word gegee,  maar nie een van die twee is noodwendig die regte ding om te doen nie. Dis met vrae soos hierdie waar mens duidelik kan sien uit watter agtergrond en opvoeding die kinders kom.

Die een opsie is om aan te dring om self huistoe te bestuur, die ander een om maar saam partytjie te hou tot die volgende oggend en dan maar ‘n plan te maak. Met die bespreking vooraf het ek hulle baie goed ingelig dat nie en van die twee opsies die beste is om te doen nie, en dat hulle ‘n alternatief moet voorstel om die probleem op te los, maar ook te sê waarom hulle nie die ander opsies uitoefen nie.

Waarom nie self huistoe bestuur nie? Want jy het nie ‘n lisensie nie en om die landswette te breek is ‘n kriminele oortreding. Waarom nie saam partytjie hou nie? Want jy loop die risiko om saam dronk te word of dwelms sonder jou wete in te kry  en dan kan allerhande nie-lekker dinge met jou gebeur waaroor jy nie beheer het nie. En môre-oggend is jy en jou maat nog steeds dronk en is die probleem vererger want nou is niemand sober om ‘n rasionele besluit te neem nie.

Die meeste kinders se oplossing was om jou ouers of iemand te bel om jou te kom haal. Baie het gesê hulle ouers laat hulle nie toe om op so wyse uit te gaan nie, hulle laai hulle af en kom haal hulle in elk geval weer. Baie het gesê hulle ouers sal kwaad wees oor die situasie en gaan raas, maar sal hulle nogtans sal kom haal en bly wees dat hulle gebel is. Een het gesê jy moet in die eerste plek sorg dat jy jou vriende beter kies en nie in so situasie beland nie.  ‘n Paar het gesê dat hulle sal huistoe bestuur want hulle kan en het dit al in die verlede gedoen (graad 10 met gemiddelde ouderdom van 16). ‘n Paar het gesê hulle sal eerder saam partytjie hou want dis onveilig om in die aand huistoe te stap, dis beter om in die oggend te stap. Twee sal ook saam partyjie hou en maar kyk wat bring die volgende dag want dis hoe hulle dit in elk geval doen.

Een van daardie meisies is baie ongelukkig oor haar punt wat sy gekry het en gaan die graadhoof sien omdat dit haar opinie is en ek geen reg het om van haar ‘n ander optrede te verwag nie. Dieselfde meisie wat sê dis heeltemal in orde om ‘n aborsie te hê as jy ‘n foutjie gemaak het. ‘n Foutjie is om te vergeet om ‘n kondoom te gebruik as jy dronk is… Dieselfde meisie wie se rokkies net onderkant haar stuitjie sit. Dieselfde meisie wat baaie gul is met die seuns. Wat in graad agt al vir die ander vertel het hoe lekker Sarita’s is en dat dit absoluut niks aan mens doen nie.  Wat geen respek het vir haar mede leerders of onderwysers is nie. Wat in die klas sit en slaap. Of sit en gesels terwyl jy ‘n les aanbied. Vir wie jy al drie jaar verskillende vakke gegee het en met wie se enkelma jy al verskeie kere onderhoude gehad het oor slegte gedrag.

Ja. So is dit ook.

Die grootste meerderheid van die leerders in my groep is nie so nie en hulle gee my hoop. Die meeste meisies veral het baie goeie waardes en vertel hoe streng hulle ouers met hulle is. Hulle vertel in ‘n koor van die sewe B’s: “books before boys because boys bring babies”.

Dis net vir sommiges vir wie een-teen-die oor-en-een-teen-die teer dalk ‘n moontlike opsie moes wees, want die nuwe basiese regte storie beteken vir hulle dat ongeregtigheid reg is.

Advertisements
Categories: Skoolhou | Sleutelwoordw: | 6 Kommentaar

Artikelnavigasie

6 thoughts on “Een teen die oor en een teen die teer

  1. Mal oor jou BBBBBBB!

  2. Ek lees nou van die juffrou se kant af, as sy na die kinders kyk en luister. Dit moet vir jou moeilik- en interessant wees. My hart le egter by daardie kort-rok meisiekind; want lank lank gelede toe almal in ‘n boks gedruk was, en daar nie van gehoor was dat kinders hulle opinie in ‘n klas lug nie, was ek daardie meisiekind…. en het my opinie gegee nieteenstaande die straf wat altyd daarmee gepaard gegaan het. Daar is hoop vir almal…. hou vol met jou positiewe invloed, die saad vat met tye net lank om te ontkiem.

    • Ek veroordeel haar nie, dis net vir my moeilik as mens die gevare van hulle optrede vir hulle probeer tuisbring en dit nie vir hulle saak maak nie. Positiewe invloed, nie volgens haar nie. Wat vi rmy erg is, is die feit dat ek die afsku in die ander kinders se oe sien as sy byvoorbeeld van die foutjies en aborsie praat. BAIE kinders is reeds seksueel aktief, ek behandel voortplanting met hulle in gr 9 in Natuurwetenskap, maar die oorgrote meerderheid is net nie so don’t-care oor swangerskap nie. ‘n Opinie is een ding, maar sy LEEF haar opinies.

      En net vandag het ek gehoor dat ek volgende jaar waarskynlik weer die vak gaan gee…

  3. The road to self-destruction – dit is waarop daardie kind haar bevind. Ek voel jammer vir haar onnies, ouers, maats (as sy het,) elke liewe mens wat haar pad kruis, want op hierdie pad is daar geen respek vir jouself of ander mense nie. En dit is gewoonlik die hand wat na jou toe uitgesteek word, wat jy die hardste byt.

  4. Ek voel jammer vir die kort-rok meisietje. Sy skreeu vir aandag, sy skree dat sy seer het, en miskien … eendag sal iemand dit raaksien.

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

Blog at WordPress.com.

%d bloggers like this: