Koeie en kalwers

‘n Kollega van my maak die MOOISTE pastelle van wild. Ons gesin was vir die eerste keer in ‘n lang tyd almal by die huis met die oog op ‘n kort vakansie saam. Verlede Sondag het ons  twee skilderye gaan uitkies vir my nuwe huis, ‘n luiperd en ‘n leeu.  Ek kon dit alleen doen, maar dis ons almal se huis; en ek voel net dat elkeen sy sê moes sê oor duur items waarin ons almal moet vaskyk en wat die kinders eendag gaan erf.

Maar as mens iemand op ‘n plaas besoek ontaard dit dikwels  in ‘n kuier van ‘n ander kleur, want op ‘n plaas gaan lewe aan,  daar is nie ‘n stop vir kies-‘n-skildery nie. So begin ons gesinsvakansie toe met die kies van ‘n skildery wat vir altyd geassosieer sal word met koeie en kalwers. Net voor ons vertrek sê Lalie haar man moet ‘n koei gaan help wat sukkel om te kalf, en siende dat Marina ‘n veeartstudent is, bly ons toe.

My pa het ‘n paar beeste gehad toe ons klein was, maar ons was nooit naby diere in kraam toegelaat nie. Die arme koei was al baie lank in kraam en die kalf se lewe het in gevaar geraak. Dit beteken net een ding: die kalf moet uitgetrek word. Die kalf het reggelê, hy wou net nie uit nie.

Vir my wat albei my kinders normaal gekraam het was dit ‘n verskriklike ervaring om die arme koei so te sien. Mens-arms wat heeltemal in haar verdwyn om die ligging van die kalf presies vas te stel. ‘n Tou wat binne haar om die kalf se pootjies vasgemaak word.  Sy wat in ‘n drukgang lê, haar kop in ‘n klamp. Twee jong manne wat teen pale vasskop en met arms en lywe trek aan die kalf; net om die +600kg koei te sleep. En die kalf sit. Koppie wil-wil uit.

Die koei raak te moeg. Gaan lê. Ai tog. Nou is die hoek verkeerd om te trek. Kort-kort weer ‘n arm in om die kalf te voel. Hy lewe nog. Sy druk nog. Trek. Trek. Trek. Die kalf se kop kom uit en ek en Lalie hou die koppie vas terwyl hulle trek. Ogies wat dof word. Hartjie wat stop. Die nylon tou wat breek en met ‘n geweldige knal teen Wayne se hand vasskiet. Pyn. Desperaatheid op almal se gesigte.

Naderhand drie manne wat trek. Een wikkel die kalf binne-in haar. Na wat voel soos ure is dit skielik oor. Die hele lyfie skiet uit die koei, die naelstring afgeruk. Die heupies amper abnormaal groot. Nie ‘n groot kalf nie, maar te groot vir die koei. Sy wat net met toe oë lê en net één keer deur die hele trauma ‘n kort bulkie gegee het. Sy wat ook binne die volgende uur sterf.

Lalie se gesig wat vertrek van smart oor haar geliefde diere. Dis die soveelste koei hierdie seisoen, die nuwe bul gooi te groot kalwers, en daar is nog ‘n spul koeie wat moet kalf.

Hanskalf kom stamp vir Lalie om sy melk te bring. Enigste ma wat hy ken. Hy kon darem uit, ten koste van sy eie ma.

So is dit op ‘n plaas. Dis nie altyd lekker nie, maar eenmaal ‘n boer, altyd ‘n boer.

Advertisements
Categories: Plaaslewe | Sleutelwoordw: ,, | 5 Kommentaar

Artikelnavigasie

5 thoughts on “Koeie en kalwers

  1. Ag nee eina pyn. Die arme koei! Kon julle toe ‘n skildery kry?

    • Ja. Ek moet dit net self laat raam. Ek het dit net eers weggepak, ek sal ‘n foto neem sodra dit geraam is. Sy teken BAIE mooi. Lewensgetrou. Ek het nog ‘n blouapie bestel ook wat sy sal maak sodra sy tyd het.

  2. Ai tog. Arme koei.

  3. Ag neeee! Ek het heeltyd terwyl ek lees, asem opgehou vir die koei. Ek het eendag toe ek sommer net gaan ry het, heel toevallig langs ‘n plaas verbygery, waar die koeie in die veld is en waar een besig was om te kraam. Ek was agterna amper net so moeg soos die koei van heeltyd my asem ophou.

    Die natuur is wonderlik, maar soms ook wreed. Arme kalfie sonder ma.

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

Create a free website or blog at WordPress.com.

%d bloggers like this: