Hikkerasies in die klas

My man het by my gekuier die week en dan is blog die laaste ding waaraan ek dink. Hy is netnou terug Pretoria toe en nou is ek weer alleen. Laasweek het Son iets geskrywe oor jou gesig wat jou lewe se storie vertel, en Antjie Patat het geskrywe oor haar oulike kleinseun wat wil hê sy moet nie net effentjies lag nie, maar lag dat haar tande wys.

Hierdie inskrywing bevat elemente van nie-verbale kommunikasie, maar nie noodwendig lewenslyne en tande nie…

——————————————————————————————————

Julle weet mos wanneer mens hik as dit nie geleë is nie, dan hik mens mos al hoe harder en harder.

Verlede week gaan ek toe aan’t hikke in die klas. Sulke grotes terwyl ek vir die kinders iets moet lees om af te skryf. Hoe harder ek probeer saggies hik, hoe harder word die blerrie hikke. Naderhand sê ek vir hulle ek gaan nou regtig nie wéér sê askies nie, ek gaan nou maar net hik.

So hik ek toe nou maar sonder maniere voort en hulle skryf af. Twee leerders was laat en het hulle voorreg om op ‘n stoel te sit verloor en staan voor in die klas.

Ek staan nog so en hik toe gryp iemand my van agter af en sê: ‘Wha!’ Ek dog ek piepie my broek sopnat en voor ek kan keer gil ek dat die mure so tril. Wanneer ek skrik doen ek gewoonlik een van twee dinge, hang af hoe groot die skrik is. Ek gil óf die dak af vir ‘n koud-tot-die-been-toe skrik, óf ek vloek vir ‘n kleintjie. Nou nie vreeslik vloek nie, ‘bliksem’ is omtrent al wat uit my mond uit kom. As jy die dag die ‘F’ of ‘K’ ene uit my mond hoor, moet jy liewer hardloop, want dan  is ek hééltemal buite myself.

Ewe verlëë en rooigesig staan klein Boertjie wat laat was agter my en sê: “Sorry Juffrou, maar ek het gehoor as jy iemand skrikmaak dan hou hulle op met hik.”

Inderdaad. Njannies kapêla. My hik was weg.

Die klas het nie ‘n woord gerep nie. Hier en daar is ‘n proes weggesluk en Lebogang het kwaai vir van die meisies iets in SiSwati gesê.

Toe bars ek uit van die lag en sê hom: “Julle mág maar lag, Lebo! Dit ís baie snaaks!”  en toe lag hulle eers openlik; sommer dat die trane loop. Na ons almal bedaar het vra Lebogang ewe verlëë of ek dan SiSwati verstaan. “Nee, ek verstaan nie SiSwati nie, maar ek verstaan jou lyftaal. Verstaan jy nóú wat ek bedoel het met nie-verbale kommunkasie in Lewensoriëntering?”

Ek praat gisteraand met Boertjie se ma, en sy sê sy hoor ek het so lekker gegil. G’n ander kind sou ooit waag om so iets te doen nie, maar omdat hy my ook op ‘n meer persoonlike vlak ken, weet hy dat ek ook maar net ‘n mens is. ‘n Mens wat ook kan hik en wat ‘n grappie kan vat op die regte tyd!

Advertisements
Categories: Skoolhou | Sleutelwoordw: | 8 Kommentaar

Artikelnavigasie

8 thoughts on “Hikkerasies in die klas

  1. Dis nou omtrent ‘n praktiese voorbeeld van nie-verbale kommunikasie

    • hulle vra altyd hoe weet ek sekere goed want hulle probeer dit dan so ongemerk doen… en dis juis die ongemerktheid wat jou soms vertel daar is ‘n slang in die gras.

  2. ek dink jy is ‘n oulike, maar kwaai juffrou

  3. Toe ek nog ‘n kind was het ek die klas versteur met my gehikkery. Onder die gehikkery het die skoolhoof by die klas ingestap, en sommer baie kwaai vir my gese: “Klippie, kom sien my nou dadelik in die kantoor.” Ek was so bang vir hom en het so groot geskrik dat my hik skoon weg was. Toe lag hy want hy het dit net gesê om my te laat ophou hik.

    • siestog, arme kind! My arme ma het eendag pakslae gekry toe sy in die klas nie kan stilsit nie, en toe die onnie vra of sy rooimiere het en ja gese het oor daar regtig tydens pouse rooimiere in haar rok geklim het!

  4. 😆 😆

    Wel, ten minste het almal ‘n lekker storie uit die voorval gekry. Ek wens ek kon dit sien.

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

Blog at WordPress.com.

%d bloggers like this: