Om met jou kinders te speel

Laasweek het ons Lentedag by die skool gevier. Na ‘n paar koue dae was ons regtig dankbaar vir ‘n heerlike vroeë somersdag. Die kinders kon sivvies aantrek en hulle het net lekker pret gehad die hele dag – ‘n waterglybaan, boeresport en allerhande lekker dinge. Vir pret moes hulle blomme of iets in hulle hare sit.

My registerklas is die Afrikaanse Gr 10 kinders en hulle het gedink dis groot pret toe ek ook ‘n tooisel op my kop sit. Met ‘n vieslike migraine die vorige twee dae het ek skoon vergeet om ‘n drolpeerkransie te maak (dis al blomme wat ek by die huis het!) en was daar gelukkig iets in my klas se laai wat ek gekoop het vir ‘n noodgeval. Nou nie blomme nie, maar darem iets om te wys hierdie juffrou lewe ook…

Dit was vir my lekker toe hulle aandring dat juffrou ook saam vir hulle klasfoto poseer, en nog lekkerder toe een van die meisies sê sy wil graag saam met my sportgronde toe stap. Ek vertel haar toe hoe ons as gesin saam speel en dit was vir haar heel vreemd. “Ag Juffrou, my pa sit net heeldag voor die tv, en my ma… Sjoe. Ek wens ons kon ook so iets doen.”

Ons hele familie hou van speel. Kleintyd toe die ouer sussies tot trou gekom het, het die skoonseuns gedink hulle kan my ma aanvat met ringtennis en pluimbal; en gestoei om haar sóms te wen. Vir ons kleintjies was dit omtrent soos Wimbledon – hierdie titaniese stryd tussen jong egodeurdrenkte Boerseuns en ons fenominale Ma! My pa het egter nie veel erg gehad aan ‘n gespelery nie. So is elke nuwe skoonseun deel gemaak van die familie deur met hom te speel.

Tweejaarliks hou ons ‘n groot familiesaamtrek in Brits. My ouma was deel van ‘n gesin van vyftien kinders (wat oorleef het, nie almal van een ma nie). Die oupagrootjie het omtrent gewoel! Sy nasate is nou al honderde sterk en as die spulletjie opruk vir die familiefees is dit ‘n hele gedoente. Daar word ook gespeel – volleyball,  toutrek, tafeltennis, skyfskiet, jukskei en boeresport. Alle ouderdomme word betrek en ONS familie is natuurlik die onoorwonne span. Geen ander familie kom naby ons nie, want eerstens het ons GEES en word nie kwaad vir mekaar as iemand ‘n foutjie maak nie, en tweedens WIL ons… Waar die ander families stry om asseblief tog net nie iets te moet doen nie, stry ONS wie moet uitsit!

Wanneer mens speel raak jy weer kind en val alle maskers af. Jy ontbloot jouself sonder dat jy agterkom.   Dis ontspan sonder grense. Ek dink ons familie se spelery is een van die semente wat ons so vas aan mekaar bind, familietwiste is nie iets wat deel is van ons woordeskat nie.

Om met jou kinders of kleinkinders te speel is een van die grootste geskenke wat jy vir hulle kan gee. Doen dit bietjie hierdie naweek. Hou ‘n eier-in-die-lepel resies en gooi mekaar met die eiers dat die taaiegeid  so spat… die bonus is dat dit goed is vir jou hare en jou vel!

Advertisements
Categories: So doen Slakke dit | 7 Kommentaar

Artikelnavigasie

7 thoughts on “Om met jou kinders te speel

  1. Tafeltennis en darts was mos my kos, net Drinie het my met tafeltennis gewen by die saamtrekke. Deesdae is ons speel beperk tot voete in die sand en kyk wie staan langste as die see ons toe voete toespoel. Ons sopeel minder deesdae! Maar praat meer.

    • Albei my dogters speel goed tafeltennis, en ek ook. Ons gaan weer ‘n tafel maak vir ons stoep. Dis lekker afleiding op die plaas. Darts is nie my sterkpunt nie! Ons skiet het ‘n boogskiet dartbord waarop ons skiet!

  2. Ai, die saamspeel klink lekker!

  3. So bly om te hoor ander speel ook. Ons kon so met ons kroos speel – daar is ‘n insident wat my altyd laat glimlag. Ons was met vakansie op Hermanus, en doen wat ons altyd doen – pak kos vir die dag, sit af strand toe, en speel… in die water (die kleintjies ry op die groteres se rue, die branders uit,) op die strand bou ons, hou kompetisies, speel strand “bowls,” en jaag mekaar… lekker vet pret. Hier by die vyfde dag kom ‘n Engelse “dame” na my toe aangeloop. “Excuse me, are these children from one family,” vra sy. Op my ja, kyk my sy verstom aan – “We watched you, the first day we thought it is friend’s children you brought to the beach, but after all these days we were not so sure anymore.” En toe voeg sy by “Unbelievable, and what is most astonishing is that you seem to enjoy them.” As sy maar net weet hoe ek hulle geniet het.

  4. Terug pieng: Swadini Oktober 2011 « Slakkelak

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

Blog at WordPress.com.

%d bloggers like this: