Om dankie te sê is nie altyd maklik nie

Liewe Familie en Vriende,

Ek was anderdag ongelukkig oor iemand nie dankie gesê het vir iets nie, en het ‘n baie harde aanmerking daaroor gemaak. Maar ek verstaan nou dat dankie-sê nie altyd maklik is nie… dat woorde soms stol in jou keel. Dis nie dat jy ondankbaar is nie, dis net dat jy te seer is om dankie te sê.

Hoe verwoord ek dit wat in my hart is? Ek kan maar net probeer… Baie dankie vir al julle liefde en bystand die afgelope paar maande. Ons waardeer elke oproep, drukkie, navraag, finansiële bystand, sakke vol kos, klere, kombuisware, meubels, werk en alles waaraan ek dalk nie nou eers kan dink nie. Elkeen se bydrae maak ons lewe makliker, maak nie saak hoe groot of klein nie, want so het elkeen op sy eie manier prakties gedink en vir ons gegee wat hulle gedink het om te gee. 

Dankie ook vir die familie en vriende wat fisies kom help met die bou van ons nuwe huis. Ons kan net getuig van God se hand in ons lewe. Julle het vir ons voorsien van omgee in ons finansiële (geld en geskenkbewyse), fisiese (werk en allerhande goeters), emosionele (ondersteuning) en intellektuele (boeke) behoeftes en dan sommer net mooimaak-lekkerruik vroumensgoed om te help om my kop hoog te hou en nie verwaarloos te voel nie.  

Daar is letterlik nie ‘n fasset van ons lewe wat julle nie onaangeraak gelaat het nie. Klein goedjies soos ‘n naald en garing, pleisters, kopseerpille. ‘n Kosbare Bybel van ‘n geliefde. Woorde van Hoop. Te veel om op te noem. Julle is te veel om elkeen op sy naam te noem. En sommiges was anoniem, so ek weet nie eers vir wie ek almal moet dankie sê nie.

Ons het baie hard gewerk gedurende die Desember vakansie om alles op te ruim en het alreeds begin bou. Vir die wat die briefie kry wat ons net deur familie of vriende ‘ken’ en bereid was om hulle harte oop te maak – as ek sê dat ons bou, bedoel ek dat ons fisies die werk doen en nie net ‘voormanne’ is nie. Ons vroumense gee stene aan, sorg dat die ‘werkspan’ genoeg te ete en drinke het, ens.; en die mans – die mans doen die HARDE werk…Arme skoonseun Christo werk lobola af dat dit klap, of eerder soos hy dit noem: ‘n erfporsie.  Ons dak is op en ons het die naweek begin om die binne-mure se onderlaag te verf.

 Alles het begin op Vrydag 5 Nov 2010. Met my studies verlede jaar kon ek nie regtig aan boogskietkompetisies deelneem nie en ek was baie opgewonde om vir die eerste keer in maande weer te kon gaan skiet. En so vertrek ek toe die Vrydagmiddag Pretoria toe. Ongeveer 80km van my huis af, ‘n paar kilometer op die Badplaas-Machadodorp pad bars my bakkie se wiel. Ek kon nie die boute loskry nie en besluit om maar die wiel af te skryf deur op die rim te ry terug na die Cradle of Life garage. Dit het STADIG gegaan en ek was maar baie bang. Niemand stop nie, niemand kyk eers terug in hulle truspieëltjies nie… Ek bid en ek sê my geloofsbelydenis op en ek sê Psalm 23 en ek bid en bid en bid…

En toe, uiteindelik na meer as 6km op die rim teen ‘n SLAKKEPAS (so stadig dat ek kon voëltjies kyk langs die pad), kon ek die garage sien. Ek het besef dat dit nog omtrent 2 ure sal neem teen daardie spoed om daar te kom, en dat dit dan beter sou wees om maar huistoe te gaan. Maar… die Here stuur ons vriend Whitey Rossouw op my pad. Hy moes ‘n boer gaan sien ‘n paar kilometer verder en stop onmiddellik toe hy my kar herken. Ruil sommer tjop-tjop die wiel om, en terwyl hy nog besig is, stuur die Here nog vriende, Gerrie en Loerie Stemmet, ook op daardie pad. Hulle bied aan dat hulle agter my sal aanry tot in Middelburg wat hulle bestemming is. In Middelburg en dan Witbank het ek familie en vriende wat my gou kan bereik indien ek verder ‘n probleem het.

En so besluit die Here vir my dat ek defnitief NIE by die huis sal wees daardie nag nie.

Terwyl ons deur die berge ry, sien ons ‘n verskriklike weer aankom wat beweeg in Barberton se rigting en ek bid weer en weer om asseblief net nie daardeur te moet ry nie. Ek het nog nóóit, óóit sulke swart onheilspellende wolke vantevore gesien nie. “Die Here is my herder, ek sal geen onheil vrees nie…” Iemand langs die pad stop en neem foto’s. Ons vang net ‘n puntjie van die storm maar ry die hele pad moeilik. By Belfast op ‘n plek waar voetgangers ‘n probleem is, bid ek dat niemand voor my moet inloop in die reën nie, en letterlik oomblikke later lê daar ‘n lyk in die pad wat minute tevore deur ‘n ander persoon raakgery is. Het ek nie gebid nie, was dit dalk ek wat die man sou tref; en ek glo dat die Heilige Gees my die boodskap gegee het om te bid.

Saterdagoggend toe my selfoon ongeveer 06h00 lui en ek sien dis my buurman Brian Young, vou ‘n beklemming om my hart, en toe hy vra of ek by die huis is en vuilgoed so vroeg in die môre brand, toe wéét ek. Daardie swart wolke het mý dalk op die pad gelos, maar hulle het na my huis toe gegaan. Ek vra hom om asseblief te ry en te gaan kyk. Toe hy 5 minute later terugbel, was ons klaar aangetrek en gereed om huistoe te ry. Huil eers klaar voor ons ry.

Ons het 350km gehad om onsself voor te berei op wat wag, maar ‘n totale verslaentheid het my nogtans oorval… te verslae om vir mense te kan sê wat ons onmiddellike behoeftes was. Vanaf Nelshoogte af kyk mens af na die vallei… af na die plek waar jy die rook sien van wat eens jou huis was. Vir 30km SIEN jy die rook. En dan ry jy woordeloos die kilometer van die hek af op. Stom. Elkeen woordeloos vasgevang in smart.

Mense vra vir my wat sou ek red as ek kon, en daar was net een antwoord… ons foto’s. My susters maak onmiddellik vir ons foto’s bymekaar uit hul eie albums. So baie, baie dankie daarvoor.

Ons familie in die dorp, vriende, my baas, ons dominee en ouderling kom onmiddellik om te kom bemoedig en om te kyk hoe om te help. Mense bel en sms. Ons almal huil. Troos mekaar en huil maar weer as dit net te veel word. Die eerste week vermy ons die murasie. Die mure steeds warm. Dit is te seer. Jy gaan met die doel om te begin opruim maar kan nie… die reuk, die hitte, die puin wat smeul vir meer as ‘n week selfs na meer as 150mm reën…

Fokus op my gesin. Tref reëlings vir nuwe studiemateriaal vir my laaste eksamenvraestel in Pretoria by die UNISA dosent. Maak die chalet meer woonbaar vir die lang tydperk sonder huis wat voorlê. Fokus op my studies en slaag met lof.

Daarna begin ons stelselmatig afsluit en begin soek na oorblyfsels van goedjies wat vir ons belangrik is. Grou waar jy dink dalk ‘n gimnastiek- of boogskietmedalje kan wees, sit met ‘n siffie en sif waar jy dalk ‘n juweelstukkie kon kry wat die hitte oorleef het. Die gekrap help om die trauma te verwerk. Afskeid te neem. Te rou. Krap ‘n bietjie, huil ‘n bietjie. Krap ‘n bietjie, huil ‘n bietjie tot jy kan instap sonder om net swart om jou te sien. Verkyk jou aan die patroontjies waarin die oonddeur kon smelt en die nuwe kleure waarin ‘n paar glas albasters verander het.

Daar is niks te redde buiten ‘n paar van my eie gemaakte pottery potjies nie en ons begin die metaal uithaal om as skroot te verkoop. Dis ongelooflik hoeveel daar is. Aluminium word apart op ‘n hoop gesit, dis bietjie meer werd as die yster.

Na amper 3 weke kom Marina opgewonde aangehardloop… in haar arms die oorblyfsels van ‘n foto-album… MET FOTO’S in!! Baie beskadig deur die hitte en die reën, maar herkenbaar, en dis ons eie, eie foto’s van die kinders toe hulle klein was. Troufoto’s. Na ‘n paar dae kry ons nog. Kan jy dit GLO… My kosbaarste besittinkies gee God aan my terug.

Die eerste opruiming neem ongeveer ‘n maand en toe kon Roelf begin om die murasie plat te stoot. My hart was stukkend om hom so te sien… om te sien hoe hy sy eie handewerk platstoot wat hy net sewe jaar gelede gebou het. Self gebou en self platgestoot. Ek het net daar gestaan by hom en gewag tot hy klaar is. Hom vasgehou. Mekaar vasgehou.

In die volgende paar dae ry hy die rommel na ‘n erosiegat wat gevul kan word. Met die laaste rit begin dit weer reën. Toe hy die TLB parkeer sien hy gemors wat van die bak afgeval het en in die spore lê, en toe hy dit uit die pad uit skop… TOE IS DIT NOG FOTO’S!!!! Sommige totaal ongeskonde! En so gee die Here vir my nog van my kosbaarste besittings terug…

 Dit is nie maklik nie, maar ons weier om aan die gebeure te dink as net sleg. Ons sien die Here se Hand in ons lewens, en ons wéét dat ons Sy kinders is en dat Hy vir ons sorg. Ons is ongeskonde. Daar was niks skuld op enige iets wat gebrand het nie. Ons het die chalet waarin ons kan bly. Ons kan weer ‘n nuwe huis bou.

Ek glo dat die Here my ‘n paar weke voor die brand begin voorberei het op wat wag. Met huisbesoek ‘n week of wat voor die huis gebrand het praat ek met die dominee oor die boodskap van die eindtyd waarmee ek worstel. As ek my Bybel oopslaan, dan is die eindtyd ter sprake. Hiermee saam gee die Here vir my 1 Kor. 13:12-12  en ‘n paar dae daarna 1 Tes. 5: 8-16 en dis hierdie tekste en ons geloof wat ons staande hou in hierdie ‘eindtyd’ in ons lewe. Geloof, Hoop en Liefde. Wat sou ons nie wees sonder al die liefde van God en van julle nie, ons hoop dat alles weer goed sal gaan en ons geloof dat ons net lewe om die ewige lewe eendag in te gaan; dat ons aardse besittings niks is nie, want daar wag vir ons ‘n Ewige Woning.

Ek het ook geworstel dat daar ‘n demoon in my huis was. ‘n Geruime tyd al. Ek het gebid en gesmeek dat die Here hom sal verdryf. En daarom het ek vrede in my hart oor alles, want ek glo dat dit is wat gebeur het, dat daar ‘n oorlog in my huis was en dat ons nou vry is van daardie demoon. My gesondheid is merkbaar beter, die aanval teen Marina is gestuit, haar matriekpunte is herstel en sy het haar keuring gekry, Annerine studeer iets waarin sy goed is en presteer…Roelf het werk, ek het werk… Ons kan weer ‘n nuwe huis bou. Ons seëninge is net veelvuldig.

Toe ek vir my ‘n nuwe Bybel koop, slaan ek net oop en Hy gee vir my Jesaja 49. Gaan lees dit. Gaan lees die voorafgaande hoofstukke en sien hoe dit betrekking gemaak kan word op alles wat gebeur het. En ek weet dat Hy my sal toerus om vir Hom ‘n lig te wees, want my lewensleuse is nog altyd Fil.4:13 ‘Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee.”  Dit was voor my lessenaar opgeplak, dis in my klas opgeplak, dis in my hart en ek probeer dit lewe.

Namens myself, Roelf, Annerine en Marina, wil ek net weereens vir julle dankie sê vir alles, hoe kan ons ooit vergoed vir wat julle vir ons beteken het. En ek wil ook nog ‘n keer  vir jou vertel – Die Here leef, Hy is goed en getrou, en Hy hou ons in Sy Hand. As jy onseker is, steek net uit jou hand en Hy sal dit vat. Steek dit uit. Vandag. NOU!

Dit gaan ons lank neem om regtig hierdie trauma te verwerk, maar ons vaar goed sover. Ons lewe. Ons kyk net vorentoe.

Vir my nuwe huis is ek besig om ‘n collage te maak met oorblyfsels van goedjies wat vir ons kosbaar was, waar Geloof, Hoop en Liefde die tema sal wees. Ek wil onthou dat daar ‘n gedeelte van ons lewe is wat verby is, ek wil ons mooi herinneringe laat bly leef, al is dit gebroke. In ons harte is dit perfek, en dis wat saak maak. Ek het ook ‘n klein Pewter dingetjie gemaak vir my klas, sodat ek dit saam met Fil 4:13 kan onthou.

Al sê ek nou eers dankie, weet asseblief dat ek elke liewe dag aan elkeen van julle dink. Want ek leef met julle goed, ek sien dit elke dag. Daar is nog baie om te vertel. So met die tyd.

Vir nou – net DANKIE uit die dieptes van my hart.

Advertisements
Categories: Slakverdriet | Sleutelwoordw: ,,,, | 16 Kommentaar

Artikelnavigasie

16 thoughts on “Om dankie te sê is nie altyd maklik nie

  1. Geen kommentaar. En ek het nie weer gehuil nie, omdat jy gevra het ek moenie.

  2. Ekskuus, ek hét inderdaad gou ‘n traan gestort. Oor Marina wat in die middel van haar universiteitseksamen was, en by haar tannie gaan sit en swot het vir haar vraestel die Maandag, geswot so tussen haar trane. En geslaag het. Julle is SO ‘n voorbeeld vir die familie, en die mensdom. Dankie daarvoor.

  3. Dis ‘n storie op sy eie… en daar is een vir Annerine ook. MOENIE HUIL NIE. Dis deel van ons lewe. Elke mens kry sy klippe op die pad. Hierdie was een van ons s’n. En ons klim oor hom. Ons kyk net VORENTOE. Maar dis iets wat deel is van ons vorming, dit bou ons menswees, en daarom kan ek dit nie net in die verlede los nie.

  4. Ek is al heel dag baie emosioneel. Eers oor iemand se Ma wat net daar is- maar in haar eie wereld. Toe ‘n baie goeie vriend wat prostaatkanker het- en skielik het die kanker na sy rug versprei- maar erg. En nou is ek sommer hartseer oor ek so min vir julle kan doen !

  5. Dit laat ‘n mens spraakloos… die diepte van ‘n ander se smart. “Nogtans sal ek in die Here jubel”… is die fakkel wat hier brand. Merkwaardige geloof!!!!

  6. Ek het nie woorde nie. Trane in my oë ja, maar nie woorde nie. ‘n Langafstand stywe drukkie vir jou.

  7. Terug pieng: Swadini Oktober 2011 « Slakkelak

  8. Terug pieng: As ‘n Tragedie jou Tweemaal Tref « MaanKind

  9. Terug pieng: Voetspoor in die klip « Slakkelak

  10. Terug pieng: Waar gaan sit jou skrik? « MaanKind

  11. Terug pieng: Wanneer omgee deel van plig word « Slakkelak

  12. Terug pieng: Borreltjies uit die dieptes | Slakkelak

  13. Terug pieng: Oorwinning | Slakkelak

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

Create a free website or blog at WordPress.com.

%d bloggers like this: