My pa het ‘n banjo gehad

‘n Foto is ‘n twee-dimensionele vasvang van ‘n gebeurtenis. Ek dink ek kan met vertroue LEWE as is ‘n multi-dimensionele gebeurtenis beskryf.  Buiten sien en hoor, is daar nog ons tas- en reuksintuie, ons emosies, intuïsies en ander dinge wat ‘n rol speel in hóé ons ‘n ervaring interpreteer.

Op 6 November 2010 het weerlig my huis getref en het ons alles verloor.  Dit is een van die redes waarom ek my gedagtes nou met ander deel. Baie mense vra wat het ek geleer in die proses… watter raad kan ek gee vir ander mense. Daar is baie wat ek kan sê, maar vandag wil ek nét een ding sê.

Lééf jou foto’s.

Kyk gou na jou gunsteling foto, wat dit ook al mag wees. Maak nou jou oë toe… en skielik kan jy die see hoor bruis. Of jou kind se babaskaterlaggie hoor. Of ruik jy jou ma se vars gebakte beskuit. Of ervaar jy die opwinding van jou matriekafskeid. Of dit, of dat. Maar net deur te kýk het jou brein die konneksies gekoppel om al die ander sintuie se ervarings ook te onthou. Word die foto lewendig.

Vertel vir almal wat deur jou albums blaai wat die foto se storie is. Maak dit ‘n lewendige gebeurtenis. Praat daaroor. Lag daaroor. Huil daaroor.

In my ma se foto-album is ‘n foto van my pa as jong man saam met twee ander onbekende mans. Scottburgh 1950, ‘n paar jaar voordat hy my ma ontmoet het. My pa met ‘n banjo, die een oom met ‘n trekklavier en die ander een met ‘n kitaar. Hy was deel van ‘n klein orkes. Musiek gemaak. As ek nie die banjo in die kas gesien het nie, sou ek vir iemand gesê het dis nie my pa in die foto nie, maar dalk iemand wat per ongeluk net soos hy lyk. Solank as wat ek kan terug onthou het ek hom nooit daai banjo gehoor of gesien speel nie. Dit was deel van ‘n lewe waaraan hy ons nie toegelaat het om te deel nie. Later het hy die banjo vir my man gegee en nou is dit verbrand.

Vir hom was die foto ‘n herinnering, ‘n jolige vakansie by die see saam met ‘n groot groep familie en vriende. ‘n Herinnering, maar net vir hom. Vir my is dit ‘n prentjie waarin my pa ook is, geneem tydens ‘n vakansie by die see in 1950. Net ‘n prentjie. Ons is geleer om ander se privaatheid te respekteer, en as kind sou ek nie vra nie. Nou is hy nie meer met ons nie en kan ek as grootmens nie meer vra hoekom hy sy banjo weggepak het en nooit weer musiek gemaak het nie. Dis vir my ‘n verlies. Die gebeurtenis is dood vir my. Vir altyd. En dis vir my baie hartseer.

Lééf jou lewe. Déél jou prentjies en herinneringe met die mense rondom jou. Al is dit deel van ‘n tyd wat verby is. Jou foto’s kan verbrand, dan leef die woorde ten minste voort. Jy kan sterf, en dan leef jy in jou foto’s voort omdat die storie vertel is. Help jou foto’s om lewendige herinneringe te wees, nie net dooie prentjies nie.

My pa het ook ‘n tent gehad…

Advertisements
Categories: Lankal terug, Slakgedagtes | 11 Kommentaar

Artikelnavigasie

11 thoughts on “My pa het ‘n banjo gehad

  1. En ‘n foto tussen ‘n groep toneelspelers… Die Wildsboudjie…
    Nou huil ek ook sommer. Oor alles en oor jou huis en oor pa wat ook sokker gespeel het toe ek ‘n kind was.

    • Weet jy, oor my huis moet jy nie weer huil nie. Dit was net een van die keerpunte in my lewe wat my anders oor sekere goed laat dink. Ek is hartseer oor goed soos die Pa wat julle geken het wat ek nie geken het nie. En oor hy toegelaat het om homself te verstok. Ja, dit moes verseker ‘n groot verantwoordelikheid gewees het om so groot gesin te he en te moet sorg, maar hy het toegelaat dat die lewe by hom verbygaan. Dis so sad. Ma het so hard, eintlik BAIE harder gewerk om die pot aan die kook te hou, maar sy het nog steeds GELEWE. Betrokke by ons kinders gebly. Haar kennis verbreed soos met die noodhulp kursusse. Dis jammer, want hy het baie talente gehad wat hy kon uitleef al was ons arm.

  2. Pa het vir my 2 goed leer speel op daardie banjo

    “Rik Rak ” en ” Anna Panna “. Hy het die note geskryf as kort en lang strepies- gelukkig het elkeen net 2 verskillende note gehad- en ek kan dit nou nog speel

    Ons is af en toe toegelaat om daarop te tokkel- ek kan ook nie onthou wie is die mense op die foto’s . is een nie sy Boetie wat dood is ?

    • Nee dis nie sy boetie nie. Sover ek weet was daar geen foto van die boetie in ons huis nie. Die boetie is lank voor dit oorlede. In een van sy ou Bybels was ‘n brief wat Martiens vir Ouma-hulle geskryf het uit die koshuis. Dit was vir my so mooi, die brief. Dit was nie ernstig soos ons Pa en sy ander boeties geken nie. Speels, spot oor oom Bertus se meisies. En pa het ‘n klimtol in sy laai van hom gehad.

  3. ek dink daardie boek is by my

  4. Hier sit ek nou met trane in my oe oor julle pa en sy banjo.. en julle herinneringe. Fotos…. vandag is my kinders bly dat ek omtrent elke oomblik van hulle bestaan in fotovorm vasgele het…. het altyd vir hulle gese “breek daar ‘n brand uit, gryp elkeen net ‘n album, en hol.” Ek hou nogsteeds dagboek met fotos…., dit spreek boekdele.

  5. kyker

    Jy deel goeie raad uit Slakkelak.
    Ek het nou eers jou blog ontdek en sal nog baie hier kom loer. Dankie vir jou besonderse vertellinge.

  6. Terug pieng: Waar is my baadjie en my hoed? ‘n Huldeblyk vir Pa « Slakkelak

  7. Terug pieng: My pa verjaar vandag! « MaanKind

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

Create a free website or blog at WordPress.com.

%d bloggers like this: