Hospitaal manewales

Baie jare gelede moes my verstandtande uit, jare terug voor selfone hier beskikbaar was. Dit word mos sommer by daghospitale gedoen, vinnig-vinnig. My man het nog nooit by my gesit voor ek teater toe gaan nie. Dis net nie sy ding nie, en ek neem hom nie kwalik nie, want ek verstaan waarom nie. So word ek toe vroegoggend afgelaai vir die prosedure. Op my eie. Allenig.

My lyf is BAIE sensitief vir medikasie en die pre-med inspuiting is gewoonlik al genoeg om my diep in droomland te sit. Dis nou nadat ek eers ‘n kwota gal skenk in die nierbakkies, en my bloeddruk die dieptes in val. Met die wakker word brul ek soos ‘n gewonde leeu en moet ‘n blink oorlewingskombers om my gedraai word om my temperatuur normaal te kry.

Op die spesifieke dag het ek die gewone skenking gedoen en naderhand ingedommel. Na ‘n ruk het ek wakker geword en gedink die prosedure is al verby. Voel-voel met my tong in my mond. Bitter gal. Niks wat bloederig proe nie. Niks is geswel nie. Roep toe maar ‘n nurse. “Ag sies tog, mevroutjie, dokter is laat en ons weet glad nie waar hy is nie. Probeer maar weer ‘n bietjie slaap.” Huh? Kan sy nie net  iets uitdink om vir my te sê nie? Na ‘n ruk kom sê die nurse hulle is baie verlig, dokter het net ‘n pap wiel gehad, teater kom my sommer nou-nou haal.

Dommel weer in en ek word wakker toe die bewegende bed teen ‘n hoek stamp. “Askies Mevrou Marais” begin die teaternurse… Voor sy nog verder iets kan sê is ek KIETSREGOP in die bed. “Het jy gesê Marais? Ek is nie mevrou Marais nie!” My nek sweepslag omtrent soos hulle stop. Die kaart word uitgepluk en my armbandjie bestudeer. “O vrek, ons is een vloer te hoog. Sorry mevrou.” O vrek, sorry mevrou? Oo Bliksem!

Met dokter wat laat is, is die hele teaterlys laat. Hulle koppel solank die elektrodes om my hart en bloeddruk te monitor terwyl ek soos ‘n stuk vleis vir die worsmasjien lê en wag. My oë is toe, die pre-meds lankal uitgewerk. Die nursies sit om die hoek. “Wie is die narkotiseur vandag? Ek hoop tog net nie dis dokter So-en-so nie. Ek dink regtig nie hy is nie ‘n goeie dokter nie.” Huh? Ek is WAKKER! Ek het ‘n ander narkotiseur maar dis net te veel. Die hartmonitor gaan mal. Ek maak een oog oop. 140… 145… Kalmeer Jakoba, kalmeer….135… 140… KALMEER… “Sies tog mevroutjie, hoekom is jy so bang? Ons gaan mooi na jou kyk.” kom my dokter se stem van agter af. En toe is ek weg.

Die bloederige spoeg loop by my mondhoeke uit en ek kry nie eers gesluk nie. So geswel my lippe kan nie toe nie. Ons gaan mooi na jou kyk. En Roelf dink ek huil oor dit seer is.

Eers later kon ek vir hom vertel… dat ek mevrou du Preez is, en nie mevrou Marais nie. En as ek nou hospitaal toe gaan drink ek geen pre-meds nie, klim self op die teaterbed, maak seker ek sien my dokter en vertel mooi vir die narkotiseur hoe hy my aan die slaap moet maak; want ek wil verseker weet my nier word nie uitgehaal of my been geamputeer net onderkant my stuitjie nie.

Advertisements
Categories: Lankal terug | 7 Kommentaar

Artikelnavigasie

7 thoughts on “Hospitaal manewales

  1. Met my buisswangerskap het hulle gedink hulle het ‘n depper of iets in my vergeet ! Ek het op die teaterbed wakker geword met ‘n geskarrel om my. Mense wat se ek moet dadelik gaan vir X strale ens. Na dit het hulle my weer narkose gegee en weer oopgesny

  2. Ek was weer so bang hulle plant daai plestieklens in my oog wat kon sien!

    • O nee! Ek is bly ek is op die oomblik gesond en hoef nie hospitaal toe te gaan nie. Soos ek ouer word raak ek bang. Vir narkose.

  3. Elke keer wat ek narkose kry, word ek net banger. Maar ek beplan geen operasies nie. Dalk ‘n booblift as ek lotto wen !

  4. Op my ouderdom sien ek net nie weer kans vir narkose nie. Toe ek jonger was het ek sommer vir 2 tot 3 dae na die narkose nog soos ‘n dooie geslaap.

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

Create a free website or blog at WordPress.com.

%d bloggers like this: