‘n Klein bietjie erkenning

Om wetenskap te gee is nie grappies nie. Om vir juniors Natuurwetenskap te gee is ‘n riller, veral as ons by Chemie kom en daarna by Elektrisiteit. Hoekom? Want allereers is Chemie konsepte soos onsigbare atome met elektrone en protone wat verstaan moet word, en dan in Elektrisiteit beweeg hierdie onsigbare, ondenkbare goed nog in stroombane waar weerstand gebied word en moet hulle op die koop toe nog Berekeninge ook doen. Sug. Die oorgrote meerderheid van hierdie kinders het nie ‘n idéé wat wetenskap beteken nie, maar moet die vak neem. Geen keuse nie. Moet. Die van julle wat dalk tieners het of al gehad het, sal natuurlik dadelik raai dat wanneer jy vir ‘n tiener sê MOET, dan steek ‘n rebel sy kop uit.

Met dít nou alles in ag geneem, moet die juffrou sorg dat die meerderheid die vak deurkom, en dat daar ook genoeg leerders is wat Fisiese- of Lewenswetenskap kies vir hulle FET- fase, anders word die Wetenskappe departement gesluit.

… En hierdie juffrou is KWAAI, as sy sê jy kry nie ‘n punt as jou formule of eenhede nie by jou berekening is nie, dan kry jy nie ‘n punt nie. Klaar. Finish. Geen onderhandeling. Reg of weg. Só berei ek die kind voor wat aangaan met die vak, en die ander leer net dissipline by. Reg of weg. Hulle weet presies waar hulle staan, en dis wat ‘n tiener nodig het – spesifieke grense. Konsekwentheid. Vandag reg, môre ook reg.

Ek het eers vir meer as twintig jaar in die Chemiebedryf gewerk voor ek onderwyser geword het, en dis nou my vierde jaar van skoolhou. Ek het gou geleer dat die kleinste vorm van erkenning ‘n kind laat floreer. In my klas mag ‘n kind nie sê hy het nie sy werk gedoen omdat hy nie verstaan het nie. Hulle móét wys dat hulle probeer.

Die minder-slim kind in my klas het net soveel aansien as die intellektuele ene. Inklusiewe onderwys is deel van ons sisteem, en die mees minder-slim kindertjies werk soms die heel hardste… en kom dan nog steeds nie deur nie. Jy moet hulle gemotiveerd hou en belangrik raak voel, en dis ‘n enorme taak.

Sommige werk leen hulle daartoe uit dat die kinders ‘n som of iets op die bord kan doen. Hulle is mál daaroor, want dit maak nie vir my saak of dit reg of verkeerd is nie. Ek laat gewoonlik, as tyd toelaat, so twee tot drie kinders dieselfde ding doen. So voel hulle nie minderwaardig as hulle ‘n fout maak nie, want hulle is nie alleen blootgestel nie. Dan bespreek ons die goeie en slegte punte in elke antwoord sodat hulle by mekaar ook kan leer.

Ons skool probeer om die intellekte mooi te groepeer in klasse, maar dit gebeur maar tog dat jy erg minder-slim tot medium intelligente kinders in een klas kry. Die vrae wat jy stel moet voorsiening maak vir almal en so vra jy dan die eenvoudigste vragie vir die regte persoon, en as een hulle ‘n handjie opsteek en jy wéét dit gaan verkeerd wees, dan gee jy ‘n ander een geleentheid om te antwoord.

Voorverlede week het ek ‘n redelike moeilike vraag gevra, en toe ek ‘n regte antwoord vanuit ‘n onverwagte oord kry, vir die seun ‘n “high five” gegee. Ek wens julle kon die trots op daardie gesiggie sien. Net daarna vra ek weer iets en kry ‘n antwoord met regte elemente, maar vér van regtig reg af. En net daar kry hy toe ‘n “high pinky”  vir sy poging tot groot vermaak van die klas. “What about a THUMB, Mam? Pleaaze, at least a THUMB!”

Dis nou ‘n instelling in hierdie klas. Klein bietjie erkenning loop ‘n lang pad saam. Gee dit as dit toekom, maar moenie dit goedkoop maak nie, want dan verloor dit sy waarde.

Advertisements
Categories: Skoolhou | 16 Kommentaar

Artikelnavigasie

16 thoughts on “‘n Klein bietjie erkenning

  1. Erkenning is so belangrik vir elke mens. Ek wonder of onderwysers ooit weet hoeveel skade hulle doen met onsensitiewe woorde. Ek is bly die kinders geniet jou klasse

  2. Jy is regtig ‘n gebore onderwyser! DInk jy as jy vroeër begin skoolhou het dit sou ook so gewees het?

    • Nee, ek dink nie so nie. Toe ek by Forensies gewerk het, het van die landroste vir my gese ek moes ‘n onderwyser word, want ek kon vir hulle verduidelik dat hulle verstaan, maar ek dink ek het nou eers genoeg insig om met die kinders te werk. Eers na my eie kinders tieners was.

      Maar om iets goed te verduidelik, en om ‘n ONDERWYSER te wees, is twee dinge. Ek dink net met my lewenservaring op ‘n wye gebied kan ek dit nou bymekaar bring.

  3. Bianca

    amipatat, wat jy daar se is so waar. Dis nie altyd maklik om te weet of jy die regte ding gaan se nie. Ons moet maar op instink werk. en dis ongelukkig die mense wat net vir die geld in die onderwys is wat die verkeerde opmerkings maak. Om ‘n goeie onderwyser te wees , moet jy ‘n baie spesiale persoonlikheid he. En sonder om te spog, daar is maar min van ons. Vandag sien die meeste jongmense onderwys as n beroep waar jy geld maak. Jy is nie daar vir die kind nie. en dan gaan die menslikheidsfaktor verlore.

  4. Ai Biancs, jy is die beste onnie ooit! Ek kan my nou nie indink dat jy iets anders kan wees nie. Die voorbeeld wat jy vir ons stel, is net die beste

  5. Ek het NIKS van Skeinat gehou nie, maar ‘n goeie juffrou het my gat gered en uiteindelik het ek Matriek geslaag met ‘n B in Skeinat. ‘n Onderwyser kan die verskil tussen slaag en druip wees 🙂

    • Son, daar gaan ‘n onderwyser wees wat GOED is vir een kind, maar SLEG vir ‘n ander. Persoonlikhede speel ook ‘n groot rol.

  6. M..

    Ek kon net nooit Skeinat verstaan nie…. ek het hard probeer maar ek het net nie die insig nie en tot vandag stel ek nie in die minste belang nie… Ek wens ek het meer in Biologie belang gestel want deesdae geniet ek om te weet wat aangaan binne in mens. Maar dit is ook eers vandat ek kinders het. Ek dink onderwysers moet regtig ‘n baie baie spesiale persoonlikheid he. En daar is van hulle. Om elke kind persoonlik te leer ken en dan met elke kind persoonlik te kan werk. Ek was ‘n baie spesiale kind met baie groot menings en het nooit en steeds laat ek my nie voorskryf nie. Die onnies wat my die meeste gehaat het vir my rebelsgeit in st 6 en st 7 was my beste vriende in die hoer grade. Hulle het my leer verstaan en later met my gewerk soos hulle geweet het ek sal floreer.

    Van die onderwysers wat net nooit saam met my kon werk nie bly nog steeds hier moet ‘n groef in my hart…. en die wat my leer verstaan het sal ek vir altyd koester, want ek weet ek was en is nogsteeds nie maklik om mee te werk nie.

    Wat ek wel uit my kinders leer en besef is dat dit nogsteeds ‘n spesiale onderwyser en skool kantoor “staff” vat om saam met my te werk. Ek kan nou maar net een maal nie “vat” kry aan hulle nie en hulle nie aan my nie… met die gevolg dat my man maar van nou af saam met die skool werk en ek maar eerder uit die pad bly want mens kan nog verwag dat ‘n onderwyser ‘n kind moe “leer ken” maar jy kan seker nie verwag dat hulle elke ouer ook moet “leer ken” nie.

    My kinders is so die teenoorgestelde van hoe ek was as kind en ek wil nie dat my sondes hulle ook inhaal nie…….

    • Marianne omdat ek jou ken, weet ek dat jou intellek dalk meer was as van jou onderwysers, en ek dink toe jy ouer was kon julle meer op ‘n vriendin basis gesels as onderwyser en kind. Dit vat ook TYD om agter te kom wat laat iemand tiek. ELKE kind bly ‘n individue, en dis een ding wat ek probeer onthou.

  7. Ek haat chemie. En dit oor ‘n stupid (?) onderwyser. Wens jy, Slakelak kon vir ons die vak aangebied het. Ek dink jy is van die min onderwysers wat REGTIG goeie werk doen. High Five vir jou !

  8. Dit moet nogal ‘n goeie balanseer-aksie wees om op die een hand almal dieselfde erkenning en aandag te gee in dieselfde klas, en om dan al die minder slimmes in een klas te dompel en dan is daar altyd hierdie stigma van die “dom klas”. Ongelukkig het ouers se geld baie in my dae beteken en ek het altyd in die “dom klas” opgeëindig. Dit het my ‘n weersin en selfs haat aan skole gegee – so erg dat my hare nou nog orent staan as ek ‘n skool moet ingaan om my kinders se konserte by te woon. Ek wil so gou moontlik dit verby kry en daar uitkom. Ek wens daar was meer onderwysers met jou benadering in ons tyd. Miskien sou ek beter gedoen het.

  9. Ansu Malan

    ‘n Ruk gelede vertel ‘n vriendin dat sy my St 5 onderwyser – 1978! – raakgeloop het en ek kry sy nr. Ek onthou hom baie goed. Kwaai, maar daar was iets spesiaals…
    Terwyl ek na 33 jr sy telefoonnommer intik, wonder ek by myself waarom ek juis die onnie onthou en hom wil bel.
    Hy het altyd vir my Witkop genoem. Ja, ek is blond! As kind moes ek dit as ‘n spesiale naam ervaar het. Dit besef ek vandag, want nou bring dit ‘n spesiale gevoel in my hart. Hy kon my maklik op my naam genoem het, maar daardie een “ander naam” het my laat voel ek is vir hom spesiaal.
    Dit was wonderlik om te hoor dat hy my onthou toe ek sê dat dit Witkop is van daardie jaar in die laerskool wat bel. Hy onthou hoe my hare in ‘n piepiepot styl geknip was en groen was van al die ure in die swembad! Hy onthou my PRESIES.
    Dit was wonderlik om vir hom te kon sê waarom ek voel HY spesiaal vir my was – omdat hy MY spesiaal laat voel het! Dat hy, ten spyte van sy gromgatgeit en kwaaigeit, vir my ‘n spesiale onderwyser was.
    Ek gee swemlesse al vir 22 somers. Ek sien ook, soos jy, hoe gesiggies verlig as ek sê: Jy dink saam met my! Dankie! / ‘n HIE-HA! as hulle iets regkry / Ja, ‘n hi 5, low 5, baby 5 werk altyd! / Dankie dat julle saam met my gewerk het!.. Dit maak van ons ‘n span, want ons wat onderrig werk net so hard as hulle wat moet inneem wat ons sê. En wanneer hulle besef dat ons SAAM werk, kom die samewerking van hulle kant soveel makliker, gewilliger en was dit ‘n lekker klas.
    Groete
    Ansu

    • Daar is twee onderwysers wat ek graag wil vertel watter wonderlike invloed hulle op my gehad het. Die een was my Wiskunde onderwyser. Bemoerd verby maar die beste Wiskunde onderwyser wat jy kon kry. Op die eerste dag in Matriek toe ek sy klas instap het hy sy klaslys gevat en elkeen se naam gelees. By myne het het hy gestop, gese ek moet my tas vat en voor sy tafel kom sit, want hy het my Edlab kaart getrek en gesien ek presteer nie naastenby wat ek moet nie. Ek was BAIE stil en was vreesbevange. Later het ek agtergekom dat die vrees gegrond is op ander se stories, en dat hy regtig in MY belang gestel het. En ek het al hoe beter presteer. Ongelukkig is hy al lank gelede oorlede aan kanker.

      Die ander een was my Afrikaanse onderwyser. Van standerd ses tot in matriek. Hy het NOOIT ooit aan die introvertjie in die hoek gekarring as sy by die venster (ja, dieselfde plek agter in die hoek by die venster wat op die bome uitkyk) uitkyk en sit en droom nie. Nooit. Maar hy het my nie geignoreer nie. Ek HET saak gemaak, hy HET my geken en op die regte tyd belangrik laat voel. ‘n Vriendin het hom nou die dag raakgeloop, hy hou nog steeds skool, maar in ‘n ander dorp. En ek is besig om hom te probeer opspoor.

  10. Ons hanteer dit glad nie as dom of slim klasse nie. Jy moet ook onthou dat ons sit met kinders uit alle kulture en tale. Ons beleid is om die kind wat Engels en Afrikaans goed magtig is en een klas te sit, dus dubbelmedium. Dan het ek 3 volledig Engelse kinders en 1 volledig Afrikaanse klas. Intellek speel ‘n rol, maar dis nie die oorwegende faktor nie. Dan – die Engelse klasse is (meestal) swart kinders, en dis alreeds vir hulle ‘n tweede taal. TAAL is ‘n baie groot faktor, en van die kinders kom uit Laerskole waar die onderrigtaal Siswati en Engels is, en eintlik gladnie Engels kan verstaan nie. Mens MOET tyd he om ekstra aandag te gee.

    Ek probeer die kinders leer dat dit nie vir my saak maak as hy nie goed doen nie, solank hy sy BESTE gedoen het.

  11. Ek dink alle goeie onderwysers verdien ‘n medalje aan die einde van die jaar en dit klink my jy is een van hulle. Dan is daar natuurlik onderwysers wat net werk toe gaan en nie eintlik van skoolhou hou nie. Hulle maak gewoonlik skoolgaan vir kinders onaangenaam.
    Uit eie ondervinding weet ek dat die aanmoediging wat ek van een spesifieke onderwyser ontvang het, my hele skoolloopbaan, ook die slegte klasse, in ‘n aangename ondervinding verander het.

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

Blog at WordPress.com.

%d bloggers like this: