Mamma moet asseblief tog nie voor ander mense eet nie…

My kop was nog altyd seer. Dis nog altyd deel van my lewe soos asemhaal en poep. Eers was dit net klein kopseertjies, net genoeg om my permanent bemoerd te maak. Almal dink dis hoe ek maar is, ‘n biets. Een van my sussies het anderdag gesê sy onthou my as kind net kwaai. Net kwaai.

Maar my hart weet beter, my hart weet daar is ‘n sagte, sagte ek is as die kopseer wyk. My gesin weet ook. Hulle weet die meeste.

Na baie jare se klein kopseertjies het ek begin migraine kry. Af  en toe. Later meer en meer. My hart is ook ‘n wetenskaplike en ek het self begin navorsing doen; ‘n migrainedagboek begin hou en so ‘n hele paar snellers vasgevat. Vir lank het dit goed gegaan.

Op ‘n dag het die SANAA (South African National Archery Association) ‘n uitdaging gestel “Do you have what it take?”. Ek het die uitdaging aanvaar en begin WERK om my boogskiet te verbeter. Provinsiale kleure verwerf, en toe met groot moeite Nasionale kleure ; en is eers aanvaar as lid van die  ‘Candidate Squad’ en later as lid van die ‘National Squad” al was dit net vir ‘n kort rukkie.

As lid van hierdie uitgesoekte groepie het ons kampe bygewoon om ons te help ontwikkel, ons fisiese vermoëns is getoets, oefenprogramme en diëte is vir ons uitgewerk; en ons het ook toegang gehad tot sportsielkundiges. Ons is geleer hoeveel en wat om te eet voor ‘n kompetisie, gedurende ‘n kompetisie en direk na ‘n kompetisie vir optimum bereiking van ons doelwitte.    

Die raad vanaf die dieetkundige was om gewig op te tel. Spiergewig. Kos was nog nooit hoog op my prioriteitslysie nie, dis baie makliker om ‘n hoop vrugte te eet met net ‘n bietjie proteïen daarby. So begin ek toe meer eet. Groter porsies. Drink Ensure tussendeur. Eet ‘n klein porsie ProNutro ekstra by my ontbyt voor ek kompeteer. Eet voor ek oefen ‘n lekker piesang propvol goedgeid, en een na die tyd want dis goeie, goeie energie en vitamienes. En dit gaan goed, stelselmatig tel ek op en my spiere ontwikkel tog te mooi. Skiet al hoe beter.

Maar helaas. My kopsere word KOPSERE en my effense naar word BRAAK. My kind leer van dieetsiektes in Lewensoriëntering en dog haar ma gaan dood. Smôrens staan ek soms op met oë wat pofferdik toegeswel is, wat na so halfuur oop skrefies trek om die eindelose dag aan te pak. Ek word vertel die kopseer en naar voor kompetisies is stres. Maar ek weet ek is nie gestres nie, ek wéét hoe hard ek my sielkundig voorberei en kan afskakel van alles en almal om my. Bewýs dit toe ek op die nasionale kampioenskappe uitskiet vir brons en my Proteaboogskutter vriendin op haar tuisveld klop.

Naderhand is die migraine amper permanent. Die donker dieptes van depressie sluk my in. Ek identifiseer soja as een van die groot, groot snellers en dit gaan beter vir ‘n ruk. Ouch vir Ensure en ProNutro, maar toe weet ek wat my naar en siek maak met kompetisies!  Defnitief nie stress nie! En dis die piesangs wat my oë tot ronde blopse swel. Die migraine vererger weer en ek kan geen patroon vind in my migrainedagboek nie. My huisdokter stel toe voor ek gaan op ‘n eliminasie dieet, en berei my voor dat ek gaan cravings kry, en dat daardie cravings juis die goed gaan wees wat my siek maak. My navorsing en ervaring bevestig dit.

Ek kan baie gedissiplineerd wees wanneer ek moet en werk ‘n plan uit vir my eliminasie dieet.  Doen navorsing oor en oor van watter kosse  om eerste te toets met die minste risiko’s. Aartappels vir sewe dae. Net so, geen botter, geen room, geen kruie, geen niks. Swart en bitter rooibostee om te drink… nie so aangenaam na die tweede dag nie. Maar as jy honger is, dan eet jy maar.

Nou was my liggaam ‘skoon’ en kon ek begin toets. Eerste op my lys was pere, want vir my om geen vrugte te eet nie was ‘n doodsmarteling. Pere is die laagste risiko vrug. Iets waarvan ek glad nie hou nie, maar as jy honger is dan eet jy maar. Toets beteken bring dit in jou dieet in vir vier en twintig uur, rou en gaar en hou boek van hoe jou liggaam reageer. Rou tamatie doen my byvoorbeeld niks, maar gaar tamatie maak my siek.

Daarna sit ek eier by, al was dit ‘n groot risiko, maar my liggaam het iets vaster as aartappels en pere nodig om te oorleef. Die eier gaan goed. Dankbaarheid. Toe sit ek melk by, en dit impliseer ook room en botter. Daarna suiker. Wéét julle hoeveel geregte jy kan prakseer met hierdie paar basiese bestanddele? Baie. Diepe, diepe dankbaarheid.

Vir die eerste keer in maande is ek migraine vry. Vir die eerste keer in my leeftyd is ek nie permanent naar nie. Kan ek my tande borsel sonder dat my maag uit my derms ruk.

Ek bly permanent honger  en maak nie saak hoeveel ek eet nie, my gewig bly val. En val en val. Laaste keer wat ek defnitief weeg is dit veertig kilogram en daarna verloor ek nog.

My dogter ruk my een aand met hierdie woorde: “Mamma, jy moet asseblief nie voor ander mense eet nie.”  Ek was onmiddellik opgeruk. “Nou hoekom nie?” Sy kyk my egter half simpatiek aan en sê: “Want jy eet nie, Mamma… jy val jou kos aan.”  Tiener eerlikheid. Tiener waarheid want jou liggaam se oorlewingfaktor is sterker as maniere.

Ek gaan huil maar alleen toe hulle my nie sien nie. Want dit was waar. En ek huil sommer oor alles. Oor ek nie na my familie toe gaan nie want ek wil nie hê hulle moet my so sien nie. Oor ek nie eers met kortbroeke op die plaas loop nie. Oor dit net my man is wat sien dat my heupbene net velletjies om het. Oor my nommer 28 broek los sit aan my boud. En my tieties wat net tepels is aan ‘n pap stuk vel. Oor ek net my eie binnekring het wat daar is vir my. Elke dag. Net hulle wat daar kán wees vir my, want ek sluit al die ander mense uit. My liewe man en kinders wat hulle eetgewoontes aanpas om dit vir my makliker te maak.

Na maande se eliminering het ek ‘n vaste lys. My dogter skryf dit mooi netjies oor om op die yskasdeur te plak. Die LYS maak dit makliker as hulle kos moet maak, want mens vergeet ook maar en dan is Ma siek. Die UIT-kant is baie langer as die IN-kant. Soms word ‘n IN net op ‘n dag ‘n UIT en dan huil jy maar oor die verlies.

Dit neem bykans ‘n jaar voor ek begin gewig optel op die beperkte dieet. Voordat ek weer mense in die oë kan kyk. Kan maak of dit my nie raak as iemand ‘n aanmerking maak oor ek so maer is nie.  “Waaroor kla jy, Mens? Ons álmal wil graag maer wees.” Maer aanmerking maak net so seer soos vet aanmerkings. En dis nie lekker om maer te wees nie. Jou hormone hou op werk. Jou tieties raak weg. Die donker dieptes van depressie sluk jou in.

Midde-in die fisiese oorlewing stry ons ‘n finansiële stryd. Verloor ek my werk. Eet ek soms net aartappels omdat die kossies wat ek kan eet nie finansieel beskore is nie. As jy honger is, dan eet jy maar. En ek hou STRENG by my dieet. STRENG. 

Die plaaslike Hoërskool het ‘n krisis sonder ‘n wetenskaponderwyser , my gesin sit sonder kos, en so begin ek ‘n nuwe beroep. Bekwaam ek my vir my nuwe beroep en slaag my NOS (die ou HOD) met lof.

Aan die begin sukkel ek om dissipline te handhaaf. Want sien, my familie se eerste reaksie toe ek sê ek gaan ‘n juffrou word, was: “Arme kinders”, want ek is mos kwaai. En so onderdruk ek toe die kwaaigeid en die kinders trap vuil voete op my. My hart slaan soms hollersteboller bollemakiese as ek my vererg. Een dag so erg dat ek dog ek kry ‘n hartaanval. Dis seer en my hart mis sommer elke kort-kort. My huisdokter doen onmiddellik ‘n EKG en alles is normaal. Skaars weer my kleertjies aangetrek of die hart mis al weer ‘n slag. Hy vat my arms vas en voel die pols vir homself. Sy ander pasiënte wag en ons kan nie dadelik weer EKG nie.  Ek loop met  ‘n voorskrif vir ‘n nood-EKG by die hospitaal as dit weer gebeur sodat die kardioloog kan sien wat aangaan.

Maar op ‘n dag fluister die Grote Gees vir my dat ek dalk net weer moet opskryf wat ek eet. En ek doen. En die patroontjie van my hart wat mis en proes spring in helderte uit. Heuning. Lekker, lekker vars heuning wat Roelf self vir ons uithaal op die plaas. Eet dit en vier en twintig uur later dan mis die ou masjien. Klokslag. En ek doen maar weer navorsing en gaan praat met my dokter, en ja, mens se hartritme kan geaffekteer word deur doodgewone kos wanneer jou immuunsisteem dit as vyand verklaar.

Dis nou net bietjie meer as ‘n jaar vandat ek weer tieties het. Die vetste in tien jaar se tyd. En dit gaan goed. My liggaam hanteer kosse op die UIT-lysie in so ‘n mate dat ek amper normaal geëet het die afgelope ses maande.  Die langnaweek het ek myself tot verlustig in ‘n glasie Bovlei Shiraz, ‘n paar maande gelede sou ek migraine kry van net drie korrels druiwe, wat staan nog ‘n hele glas wyn. Die vorige week het ek plaatkoekies gebak en dit deurdrenk met heuning en room geëet. Geen mis in die masjien nie.

Maar helaas. Maandag moes ek my klas onderbreek en op ‘n stoel gaan sit van een eetlepel heuning in my kos. Vandag is ek al heeldag in die bed met migraine. Wat al van eergister af kom. Die hele verdomde dag. Laasweek het ek skielik in die spieël gesien my wangetjies gaan weer weg, dis nie net my verbeelding dat my broeke losser sit nie.

Ek is terug op my streng dieet want ek het sag geraak en my lyf te veel gedruk. Die vyand is weer op my, my eie lyf wat sy eie vyand is.

Maar ek sal nie weer in die put afgly nie. Ek sal nie. Want God hou my stewig vas en my liggie vir Hom skyn skerp. Ek het ‘n Skild om die vyand vroegtydig af te weer.

En nou, nou gaan ek eers eet. ‘n Heerlike gebakte aartappel met room en Mozzarella kaas in die oond gebak. En is dankbaar want ek hét ‘n werk en kan Mozzarella kaas saam met my aartappel eet. Gelukkig hou ek van aartappels!

Advertisements
Categories: Slakverdriet | 12 Kommentaar

Artikelnavigasie

12 thoughts on “Mamma moet asseblief tog nie voor ander mense eet nie…

  1. My hart huil vir jou. En ek hoop nie dis in solidariteit met jou wat ‘n migraine aan my nek nip nie. EK het nog ‘n trigger wat ek moet uitsnuffel, nie net eier nie.

    • Sterkte vir jou migraine. Ek is dankbaar ek kan eier eet. Ek soek nie jammerte of simpatie nie. Net verstaan. xxx

    • Dis maar die winter. Dit het net so maklik geraak om ‘n beskuit saam met my aandtee te eet, of ‘n handvol lekker gemmerkoekies 11h00 in plaas van nog ‘n aartappel of patat. Een van die dae is dit weer somer en dan is slaai weer lekker. Nou maak ek sop om warm te word en die verbode lys daarin is net te veel. Of eet ‘n pak jelliebabies. Of sjokolade.Vir eers was dit OK, maar my liggaam het nou net besluit genoeg is nou genoeg. LUISTER NOU en word weer mens.

      So. Ek het hierdie keer dit oor myself gebring.

  2. dit is so ironies- ek kyk resepteboeke deur- dan word ek klaar ronder ! en ons is bloeder as bloedsusters !

    • So is dit maar. Elkeen met sy eie uniekheid. My dogters is so. Een dink net aan kos dan sit dit en die ander een wou in die week gaan gim toe se die treadmill sy moet onmiddellik afklim haar vetpersentasie is heeltemal te laag.

  3. sjoe, sterkte!n Ek hoop nie jy moet weer teruggaan tot by die begin nie!

  4. Liewe hemel Slakkelak, jy het darem ‘n paar reuse uitdagings in jou lewe moes oorkom! En dit lyk asof jy ‘n wonderlike joppie maak daarvan!

  5. Terug pieng: Soms moet ‘n mens ‘n strepie trek « Slakkelak

  6. Terug pieng: Wanneer jou werk jou oorval « Slakkelak

  7. Terug pieng: Toe bly net die brilletjie oor… | Slakkelak

  8. Terug pieng: Oorwinning | Slakkelak

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

Blog at WordPress.com.

%d bloggers like this: