Afgrond van verlatenheid

Om amper te versuip is nie ‘n grappie nie… en dit het met my gebeur.

Ek het ‘n sus wat sommer binne loopafstand van die see af bly. Lóópafstand vanaf my geliefde!  

‘n Paar jaar gelede moes ek vir besigheid Kaap toe, en gebruik toe sommer die geleentheid om ‘n kuier in te werk… bly om my geliefde see ‘n bietjie te sien. ‘Bring jou wetsuit saam,’ – laat weet sy my – ‘… vriend Deon sê jy moet saam met hom kom alikreuk uithaal.’ Opgewonde! Iets wat ek nog nooit gedoen het nie!

My gewigtebelt los ek by die huis, dis te swaar vir die vliegtuig… vriend Deon sal voorsien. Permitte word uitgeneem. Ons wil nou nie onwettig wees nie, nee.

Die belt wat Deon bring kan amper dubbeld om my lyf. Ek dink nie hy het besef hoe klein ek regtig is nie! Maar ons maak ‘n plan en vleg hom deur en deur sodat die los ente nêrens kan vashaak nie. Sy hoodie is bietjie groot vir my, maar beter as niks… Ek ken net my geliefde van sy warm noordkus water, nie hierdie ysbibberkouigheid  nie.

‘n Sakkie vir die alikreuk word om my lyf gehaak. ‘n Pylgeweer word in my hand gestop. Oeps.  Net vir ingeval ons ietsie kry wat gepyl kan word. Nee. Néé! Hierdie een hou ek verby, dis net te ver buite my gemaksone. Ons bespreek mooi waar ons gaan swem en alles wat ek mag en nie mag nie. Hier is mos nou kelp om aan te dink, en allerhande ander vissies met tande as die onskuldige Raggies wat ek ken.

Uiteindelik is ek gereed, opgevuur vir ‘n nuwe kouewater avontuur.  My asem snak toe ons in die water ingly. Ek vergeet skoon van die alikreuk, dis so anders as die wondermooi koraalriwwe, maar uniek en mooi op ‘n ander manier. Die visse gly moeiteloos deur die kelpoerwoud en die verskeidenheid anemone is al te fraai. Kort-kort kom Deon en glip ‘n alikreuk in my sakkie… sodat ek nou nie leë hande by die huis aankom nie, sien.

Na ‘n ruk begin die koue die asem uit my lyf uit wurg. Ek swem stadiger. Raak agter. En skielik moet ek swem om bo bly… nie meer die gemaklike snorkeldryf van vroeër nie. Erger en erger. Ek besef skielik dat ek in die moeilikheid is, my brein te koud om te probeer verstaan hoekom.  Skree vir Deon ek gaan uit, ek kry koud.  Wil nie dat hy sien hoe bekommerd ek regtig oor myself is nie. Hy wys dis reg, hy gaan nog ‘n bietjie bly.

My brein vertel vir my dis nie ver kant toe nie. Ek probeer hard om dit te glo wanneer die paniek my wil oorval, want ek voel hoe naby ek is aan té koud kry. Weet dat ek op my laaste reserwes is. En ek weet ek is alleen, Deon is ver anderkant die rotse sonder iemand wat hom kan terughou.

Uiteindelik bereik ek die vlak water maar wanneer ek wil staan val ek net eenvoudig om. Ek kruip op my knieë tot by die naaste rots waar ek my kan stut. Rus. Uitasem. Na wat voel soos ‘n eeu voel ek sterk genoeg om weer te probeer opstaan.  Toe ek orent beur verstaan ek skielik wat die probleem is… die alikreuke! Elke alikreuk weeg naastenby soveel soos een gewig wat ek om my lyf dra! En met ‘n paar ekstra gewigte het ek negatief boyant geraak en daarom moes ek swém om bo te bly instede van net dryf.

Daar is nog geen gevoel in my voete nie maar ek begin stadig die twee blokke huiswaarts strompel. Na die eerste blok begin die lewe terugkom en toe ek uiteindelik daar kom voel ek amper weer mens. Baie bewerig oor wat kon gebeur het, oor die afgrond se diepte wat ek gesien het.

Ek het nog nooit weer geleentheid gehad om alikreuke te gaan uithaal nie, die volgende keer toe ek daar besoek afgelê het was dit onmoontlik om my wetsuit saam te neem.

Een ding het ek wel besef – en dit is as jy respek vir jou geliefde verloor, alle geliefdes, dan wag daar vir jou ‘n afgrond van verlatenheid.

Advertisements
Categories: Slakresies en ander sport, Sommer maar net | 5 Kommentaar

Artikelnavigasie

5 thoughts on “Afgrond van verlatenheid

  1. Ek het nie besef dit was SO traumaties nie! Jy het nie gesê nie. Teen die tyd wat jy by die huis was het jy ook al OK gelyk, en was baie trots op jou buit…

  2. Die see is die een entiteit waarvoor ek ‘n baie, baie groot respek het. Ek het een keer mossels gaan afhaal op ‘n doodstil dag, daar langs die pad tussen Rooi-Els en Gordonsbaai en is amper weggeslaan deur ‘n brander. Dit was asof die see sommer so skielik kwaai geraak het oor ek aan sy goed kom peuter.

  3. Natuurlik was ek trots op my buit… en sulke afgronde deel ek veel, veel later met ander mense. 🙂 Maak eers self sin daaruit.
    Jy sou in elk geval net geskrik het! En vies gewees het vir Deon, en dit was nie sy skuld nie.

  4. Die kinders moan reeds ek raak ‘n drama queen, en ja, ek sou WOEDEND vir Deon gewees het!

  5. Ai, tog, darem bly jy het oorleef om die storie te vertel, wat die see daar by maankind rond is baie gevaarlik! Ek hoop jy het darem lekker allekruk geeer daarna!

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

Blog at WordPress.com.

%d bloggers like this: