‘n Koringkriek in die klas

Ek sal nooit, ooit weer na ‘n koringkriek kyk sonder om aan ‘n insident te dink wat so twee jaar terug in my klas afgespeel het nie.


Volgens ons skool se gedragskode het ek as onderwyser die reg om ‘n leerder toegang te weier wanneer hy of sy laat is vir my klas. My laboratorium is in ‘n hoek met ‘n portaal vir die trappe en indien ek die kinders dan nou buite los, is dit net ‘n lekker plek om ongesiens kwaad te doen… wat ‘n mens natuurlik ten alle koste probeer vermy. So het ek toe nou ‘n klasreël ingestel wat bepaal dat laatkommers mag inkom, maar dat hulle alle voorregte verbeur. Hulle mag nie sit nie, mag nie deelneem aan die klasgesprek nie en mag net by die kassies teen die muur staan, luister wat ons almal te sê het en dan hulle klaswerk doen by die kassies as tafel.


In die graad nege groep was daar ‘n paar belhamels wat áltyd laat gekom en áltyd die klas ontwrig het in ‘n poging om uitgestuur te word.  So kom dit toe op ‘n pragtige somersdag dat hulle hulle welbekende  plekkie inneem teen die muur. Na ‘n ruk begin die spulletjie toe nou giggel… ek maak hulle stil en toe ek my nou régtig begin vererg wys die een na ietsie op die vloer.


En ek vererg my sommer weer, want dis net ‘n simpel koringkriek wat wie weet vandaar kom. In my kleinkamertjie het ek altyd houers vir goggas, die kinders het gou-gou agtergekom hierdie juffrou lief goggas en gediertes, en ek vlieg weg om ‘n botteltjie te gaan haal.


“No Mam, it’s not an insect! It’s … “ waarop sy in ‘n proes uitbars van die lag. Ek stap toe nader om my koringkriek van naderby te gaan beskou en dis tóé wat die reukie my vang. ‘n Drol. ‘n Blerrie vars stinkende drol op my klas se vloer – en die skuldige staan en giggel!


Hoe… hóé op aarde berei jy jouself vir so ‘n dilemma? My instink het oorgeneem, want dink aan prosedures en regte en dinge kon ek nie. Die skok was te groot. Maar ek was kalm. Dood kalm. Mens kon ‘n speld hoor val. Die absolute stilte in die klas was dalk ‘n weerspieëling van ons almal se skok… Doodbedaard het ek ‘n stuk handdoek papier gevat, na die groepie uitgehou en gevra dat die een wat dit daar gelos het dit asseblief blitsvinnig moet skoonmaak. Eers was daar huiwering en toe steeds giggelend gryp ‘n meisie die papier en doen haar ding… en staan en grin met die papier in haar hand… My skok het op daardie stadium in ergernis verander en die uitdrukking op my gesig was genoeg om haar te laat hol toe ek net met my hand in die rigting van die deur wys.


Kan jy jou dit voorstel? Na sy uit is het ek maar bietjie Jik daar gaan gooi en dood rustig aangegaan met my les. Bewend, want kinders kýk hoe jy ‘n situasie hanteer.


Direk na die periode is ek dadelik kantoor toe om die insident te gaan  rapporteer… om te gaan sê ek weet nou nie of ek die saak reg hanteer het nie. Die hoof het net gelag en gesê ek moet asseblief nie sleg voel nie, sy is van my klas af na ontvangs en het die hele portaal kom beskyt. Die nuus het natuurlik soos ‘n veldbrand deur die skool getrek en sommer in die tweede periode daarna het kinders by my kom vis oor wie dit nou eintlik was.


Nou wonder ek maar net… dra meisiekinders dan nou nie meer panties nie? Want hoe kan jy sommer net so ‘n drol op ‘n klas se vloer los, al dra jy selfs ‘n boudflossie? En sy… ek dink sy was te hoog om eers te weet wat het gebeur, want die gegiggel was defnitief nie van skaam nie.

Advertisements
Categories: Skoolhou | 9 Kommentaar

Artikelnavigasie

9 thoughts on “‘n Koringkriek in die klas

  1. Waar jy die geduld en die beheersing kry weet ek nie!!!

    • Skoolhou is my my ‘n uiters emosioneel dreinerende ding, maar ook baie bevredigend. Dit leer my baie van my eie menswees. Ek gee my alles vir my klasse. En as ‘n hoërskoolkind na die vakansie vir jou ‘n sakkie skulpies bring is dit baie spesiaal, want dis nie iets wat ‘n tienerseun sommer doen nie. En dis nie ‘n juffrou-hormoon-cruch ding nie. Dit wys hulle sien ook die mens agter die kwaai juffrou raak (ek staan bekend as die kwaaiste juffrou in die skool). Aan die begin van die jaar het ek ‘n seun gehad wat wou kom kanse vat in my klas, en ek het dit net eenvoudig nie geduld nie. Met die eerste oueraand het sy ma kom vra hoekom sy punte so sleg is en ek het (voor hom) vir haar vertel, en ook vertel dat ek nie sy optrede gaan duld nie. Hy het verseker ‘n goeie skrobbering gekry, want hy het sy nonsens onmiddellik gelos en begin werk. En ek het vir hom voor die hele klas gesê ek sien dit raak. Die vreugde op sy gesig toe ek hierdie week sy goeie eksamenuitslae vir hom gee en sy hand skud en vir hom vertel hoe trots ek op hom is, is onvervangbaar. Sulke klein goedjies maak dat die slegte ervaring minder bitter is.

  2. ‘n Mens bid dit af van God!

  3. tandula

    wat my te bowe gaan, is hoe het die girl gestaan en stront dat ‘n mooi ronde drolletjie die vloer vang. wat seker dan dui dat daar iets met haar knypspier ontbreek, wat dalk dui dat dit nie haar skuld is dat haar knypspier duidelik gebreek / geskeur is nie? dit mag dan ook die rede wees dat sy hoog is, om dalk te vergeet van die eina. want ek kan jou se, dwelms alleen het nog nooit enige iemand wat ek ken se knypspier so erg laat ontspan nie

  4. 😆 Lag ek my ‘n papie. Dis moer funny !!

  5. Nee… nee Tandula, as jy die reuk gekry het sou jy geweet het dat dit ‘n omgekrapte maag ding was. As dit ‘n knypspier was sou die groot plas op my vloer gewees het, en hy was nie rond nie…

  6. Hahahaha!

    Nee hene, ek was vreeslik verskriklik stout op skool, maar het nooit so iets gedoen nie.

  7. Oi, eerder jy as ek. Jy het dit baie goed hanteer. Ek love jou slakke!

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

Create a free website or blog at WordPress.com.

%d bloggers like this: