Om ‘n appeltjie te skil…

Appels. Rooi appels kom ruk vanaand aan die onderste van my onderbewussyn. Snaaks hoe iets eenvoudig soos ‘n reuk jou brein kan trigger na die ver paaie van gister.

Kleintyd op die plaas het ons baie vrugte gehad. En as ek sê baie, dan meen ek baie. Ons het geen beperkinge gehad op vrugte nie. Oorvloed.  Vir elke seisoen was daar iets uit die boord. Perskes – vroeës, lates, geles, wittes, sures, soetes. Appelkose, mango’s en lemoene, jaarlemoene of pampelmoese soos ander dit noem, koemkwarte, lukwarte, soetsuurtjies, lemmetjies, tangelo’s en mineolas, aarbeie, amandels, pruime, koejawels, vye, kwepers,  avokado’s, papajas, druiwe  en granate,  piesangs asook appeliefies en boomtamaties vir die snaaksigheid. Van die meeste vrugte was daar meer as een variëteit en ek het dalk nou nog ietsie vergeet ook!

Daar was die grootste moerbeiboom op die damwal wat ek nog ooit gesien het. Ons sussies het elkeen haar eie tak gehad, en weë jou as jy durf waag om in jou sussie te tak te klim en daar te gaan eet! Een jaar het my ma moerbeiwyn gemaak tot groot vermaak van ons kinders. Nie dat hulle lekkerder as ons s’n was nie, maar net vir stoutigheid het een sussie en die bure se seun altyd gaan pruime gaps in oom Marsh se tuin ‘n entjie verder aan.

My pa het ‘n boekie gehad waarin hy die reën sorgvuldig opgeskryf het jaar na jaar, en so ook boek gehou van al die soorte vrugte in die tuin. My ma se rye en rye bottels konvyt en ingelegte vrugte was die bewys dat niks gemors is nie.

Somertye het my pa ‘n bakkievrag waatlemoene en spanspekke gekoop. Dit was vir ons ‘n lewenswyse, nie ‘n aardigheid nie. Met al die natuurlike vitamienes was ons ‘n gesonde spulletjie, ons het net Waterbury’s gekry in die winter vir aanvulling.

Net pere wou nie daar groei nie en die twee appelbome was maar trietserig. My pa se broers het pere gehad en so het hulle mandjies vol daarvan gebring en weer gekry wat hulle nie het nie. Elke winter het my ma ‘n hele kartondoos appels gekoop, altyd groenes of geles. Nooit rooies nie. Die doos is op die spensvloer se koeligheid neergesit en dit was die enigste kere wat daar ‘n beperking geplaas is op vrugte. Elke appel was toegedraai in ‘n sagte pers papiertjie, deurdrenk met appelgeur. Niks in ons huis is gemors nie.  Hierdie papiertjies is sorgvuldig afgehaal en het ‘n verdere doel gaan dien in die kleinhuisie. Spesiale pers appelgegeurde papiertjies elke winter.

Maar hoe kom ek nou by rooi appels uit? Sien, die ding staan so. My oupa en ouma het by ons in die huis gebly. Na Ouma se dood net Oupa. Hy was maar net daar. Net op die stoep gesit en pyp rook en snuif terwyl hy wag om dood te gaan. Die ouer sussies ken ‘n ander oupa as ons, want tóé was hy nog jonk, vol lewe en blykbaar vol streke. Een van ons kleintjies se werkies was om altyd sy stink asbakkie te gaan uitgooi en was.

Soms as my ma-hulle dorp toe gegaan het , dan het hy vir haar ‘n geldjie gegee om vir hom ietsie lekkers te koop. En as sy terugkom dan is dit ‘n tamaai rooi appel, daai wat so blinkrooi is en kraak onder jou tande. Ene wat hy sorgvuldig met sy messie al in die rondte afskil sodat die skilletjie lang krulletjies maak in die asbakkie.  Ene wat hy allenig opeet en nie ‘n háppie daarvan deel nie. Waarvan die sap by sy mondhoeke afloop sodat hy sy sakdoek moet uithaal.

Dit was die enigste kere wat ek nie gemor het om die asbakkie te gaan skoonmaak nie. Die enigste kere wat ek vinnig gesê het: ‘Toemaar Oupa, gee sommer vir my.’  Dan het ek die appelskilletjies versigtig uitgehaal sodat daar nie per ongeluk nóg as op kom nie en deeglik onder die kraan gewas.

Rooi appelskilletjies gemeng met die reuk van as. Net om ook rooi appels te kon eet.

Advertisements
Categories: Lankal terug | 9 Kommentaar

Artikelnavigasie

9 thoughts on “Om ‘n appeltjie te skil…

  1. Ek kan goed verstaan hoe ‘n kinderhart na die rooi appel sou smag. Dis menslike natuur. So bly die gras mos maar altyd goener anderkant die draadn hetsy verhoudings, werksplekke, blyplek, klere. Dis daardie hoeveelste Gebod? Waar is ons blogdoom??

  2. tandula

    Ons mag ook nie oupa se aarbeie of sy leivoortjies plat getrap het nie. Dit steek nogals in my kop vas, die leivoortjies wat die water na die bome toe gelei het. En dan was daar ouma se bye en groot wit slakke wat sy stil stil bo die huis grootgemaak het in haar tuin

  3. Jy was regtig BAIE lus vir rooi appels!

    • Net so. En ek dink MaanKind som dit so half op – dis daardie iets wat jy nie het nie wat jou hartjie begeer.

      Pink Ladies is nou my gunsteling – geurig en kraakvars in die mond.

  4. Hierdie is so ‘n mooi onthou 🙂

  5. Jy laat my skoon verlang na ons kinderdae van ook so baie vrugte op ‘n klein plasie naby Stellenbosch – oorvloed gewees! Dit was dae so uit die hemel al kan ek nou eers heeltemal waardeer.

  6. Terug pieng: Mamma moet asseblief tog nie voor ander mense eet nie… « Slakkelak

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

Create a free website or blog at WordPress.com.

%d bloggers like this: