Rou is ‘n proses vir almal van ons een of ander tyd

Die afgelope weke is verlies en trauma kort-kort op die voorgrond van iemand in my lewe.  ‘n Eerste intense tienerverhouding van ‘n niggietjie wat opgebreek is. Rou oor ‘n suster se geliefde eggenoot wat gesterf het. ‘n Kind in my registerklas wat my in sy vertroue neem oor ‘n vriendin wat dood is in ‘n motorongeluk. Verlies van mobiliteit as gevolg van spinale besering by ‘n eks-kollega. My ma se vriendin wat vanoggend aan kanker sterf.

Met die tienerverhouding wat gesneuwel het wou ek graag troos en het ek vir Oom Google ‘n paar vrae gaan vra oor verlies. Gister bring die seun sy vriendinnetjie se afskeidsbrief wat hy nou na drie maande ontvang het en vra raad oor hoe hy die brief moet hanteer en kon ek daardie navorsing gebruik om hom te help. En skielik verstaan ek sy gedrag van die afgelope paar maande en nog meer toe hy verder oopmaak oor ander probleme in sy huis gedurende ‘n opvolg-gesprek in my klas. Ek kon hom help om te verstaan waarom sy hom vir gejok het deur te sê dat sy OK was toe hy met haar gepraat het na die ongeluk, terwyl die dokter vir haar gesê het sy het dae om te leef en moet afskeid neem. Hy het nog nie eers met sy ma hieroor gepraat nie.

Daar is só baie dinge wat ‘n mens vir iemand met ‘n verlies kan sê, maar uiteindelik is verlies iets wat ‘n mens net met tyd verwerk. Niks of niemand kan regtig ‘n mens se seer wegvat nie, dit word wel versag met ‘n sagte mooi woordjie, ‘n drukkie of sommer net ‘n ek-gee-om boodskappie.

Facebook- en bloginskrywings vertel van alleenheid, dat jy voel niemand ken jou nie. Dat dit voel mense vergeet van jou seer. En dis alles gedeeltelik waar. Om enige trauma te verwerk moet jy delf tot daar in jou eie dieptes waar dit net jy alleen is, waar net jy alleen kan berusting en troos vind oor jou verlies. Mense vergeet nie van jou seer nie, maar dis nie vir hulle so op die oppervlak soos vir jou nie.

Met my navorsing vind ek uit dat mens die rouproses van enige verlies kan opsom in vyf stappe en maak nie saak wat of wie ons verloor nie, ons moet deur ‘n rouproses gaan.:

  • Ontkenning: “Dit kan nie met my gebeur nie.”
  • Woede:Waarom gebeur dit juis met my? Wie kan ek blameer vir my verlies?
  • Onderhandeling: “As dit nie gebeur nie, sal ek dit of dat doen.”
  • Depressie: “Ek is te hartseer om enige iets te doen.”
  • Aanvaarding: “Daar is vrede in my gemoed oor wat gebeur het.”

Alle mense ervaar nie elke stap ewe lank nie, en party ervaar ook nie al die stappe nie want elke mens is ‘n individu en sy situasie is uniek.

So jy mag vrae hê. Jy mag kwaad wees. Jy mag voel jy wil dalk weer probeer. Jy mag depressief en alleen voel. Jy mag hartseer wees en huil… Want dit alles gebeur sodat jy jou verlies kan verwerk, maar dis belangrik dat jy moet sorg on  nie vasgevang te word in een van die stappe nie. Belangrik dat jy mense om jou moet hê wat jou kan help om nie vasgevang te word nie.

Die lewe gooi soms draaie met ‘n mens wat jy nie kies nie, maar probeer onthou dat God jóú uitverkies het as Sy kind, en dat die dinge wat met ‘n mens gebeur deel is van die mens wat Hy wil vorm om in diens te staan van Sy Koninkryk. Dís waarvoor ons lewe en waarvoor ons gebore is.

En al moet jy in die dieptes van jou alleenheid delf om jou verlies te verwerk, jy is nie alleen nie, elkeen van jou vriende en familie gee om vir jou. Treur oor jou verlore eerste liefde.   Wees kwaad oor ‘n leuen. Jy mag. Maar jy mag ook onthou dat daar baie mooi oomblikke was wat jou gelukkig gemaak het en dinge waaroor jy gelag het. Jy hoef dit nie te vergeet nie, al is die verhouding verby.

Liefde vir jou wat dalk jou rouproses nou beter gaan verstaan en ‘n stywe, stywe druk.

Vandag het ek spesiaal vir die seun ‘n Lewensoriëntering les afgestaan en sommer met die klas oor die algemeen gepraat oor verlies en rou. Ek het verskeie scenarios gebruik waarmee ek weet hulle kan identifiseer, van traumas waarvan ek weet van hulle deur is, van ouers wat ‘n werk verloor, van verkragting en ander verliese sonder dat die klas weet van wie ek spesifiek praat. Dié wat gewoonlik die klas wil afbreek was tjoepstil en meer as een van hulle, ek inkluis, het woordeloos ‘n traan gepink. Ons almal aangeraak deur die feit dat jy nie alleen dinge ervaar nie, maar dat daar ander ook is wat iets het om te verwerk.

Ek glo dat ‘n mens jou lewe moet lewe. Ek glo dat jy moet hanteer wat op jou pad kom. Ek glo dat die Vader mens onbewustelik voorberei vir die slegte goed. Oor ons eie trauma kan ek sê dat ek nie deur al die stappe gegaan nie. Ek sien die rouproses in my gesin se lewe, elkeen van ons op ‘n ander stadium van rou oor wat ons verloor het. Ek sien die woede by ‘n kind. Ek sien die ontkenning. Ek sien die depressie. Ek sien aanvaarding.

Oor ‘n week is dit ‘n jaar wat ons huis afgebrand het.

06 Nov 2010

Net één bliksemstraal

en ‘n leeftyd verbrand tot as…

Genade van Bo is vlerke van hoop

wat ons dra as wanhoop ons wil oorval.

Herinneringe word lewendig

as mens skielik gedwing word om daaroor te praat…

Trots word ‘n knop in jou keel waaraan jy wurg en wurg….

en dan… word alles draagbaar deur

Geloof

Hoop

Liefde

Categories: Slakverdriet | Tags: , , , , | 9 Kommentaar

Post navigation

9 thoughts on “Rou is ‘n proses vir almal van ons een of ander tyd

  1. Ja, die lewe loop maar vreemde draaie- en mens moet seker nie vra : “‘hoekom ek. , hoekom gebeur goed ens
    Maar verlies bly traumaties !

  2. Hierdie week kan ek ook (amper) assosieer…

  3. Dis nou die waarheid! Ons werk baie daarmee, en ;n mens weet hierdie dinge, maar wanneer dit ons self tref, is dit steeds net so sleg!

  4. Dit is seker die beste bloginskrywing wat ek al ooit gelees het. Ek kon my so vereenselwig met die prosesse van rou … in die afgelope vier jaar is ek vier keer daardeur en moes die proses elke keer van vooraf begin. Maar ek glo ek is oor die hond se stert. Dankie, hierdie het baie vir my beteken!

  5. Dankie Slakkelak. Ek moet meermale hier kom inloer. (Ek kry net deesdae so min tyd vir inloer!!) Ja, rou is natuurlik. Ek weet nie hoekom ons deesdae dink ons moet net sterk wees nie. Die rou-proses is so nodig om ons te help om die dinge heeltemal te verwerk. Maar dis nooit maklik nie.

  6. Pingback: Verlies | Slakkelak

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

Blog at WordPress.com. The Adventure Journal Theme.

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.

Join 71 other followers

%d bloggers like this: