Ek is besig om ‘n veldgids van ons plaas te skryf vir my gesin. Dis nou in die finale stuiptrekkings, een van die dae kan ek hom gaan druk. Ek is nou by bladsy iewers-verby-honderd-en-sestig en het my voorblad die naweek gemaak.
Ons woon nou agt jaar op ons plaas en die eerste jaar het ek grootliks my dae in die veld deurgebring. Dit was ‘n wonderlike voorreg om so alleen die veld in te vaar met my kamera en my brakke. Meestal het ek die wildspaadjies gevolg, dit het darem aangedui dat daar ‘n bestemming êrens is! Soms het ek die paadjies op my maag geseil deur die Lantana bosse, want loop kon ek nie en deur die bos wóú ek. Ek is nie bang vir goggas en dinge nie, en ons het nie werkershuise op die plaas nie, dis net ons, ek voel veilig waar ook al ek stap. Die plaas is nie so groot dat ek kan verdwaal nie, en ek is gelukkig rigtingvas. So as ek en Roelf kaalgat in die maanlig wil gaan stap, dan doen ons. Kom somer… kom!
Vyf jaar gelede was ek in ‘n diepe, diepe put van depressie en het ek my selfmoord haarfyn beplan sodat niemand eers sou weet dat my dood beplan was nie. Dit was nag. Stikdonker nag. In my soeke na lig het ek besluit om my blommetjies en goggas met my gesin te deel as afskeidsgeskenk. Maar God het toe al die tyd die afskeidsgeskenk gestuur as ‘n leer om uit die slymdieptes te styg en gehelp om die dier wat my afsuig die dieptes in te vermorsel. Waar het ek teruggesak het was Roelf se hand daar om te keer dat ek gly. En hy is nie ‘n karring-man nie, vra nie vrae nie, vat net my hand. Stewig. Huil saam met my as ek sê die lewe maak net nie meer vir my sin nie en ek weet nie hoekom nie. Hoe kon ek tog in elk geval vertel as ek die antwoord self nie geken het nie?
Die identifikasies gaan nou bietjie stadiger, my boekrakke en inhoud het vir meer as ‘n week gelê en smeul na die brand. Ek gaan nou kort-kort met ‘n lysie en spandeer ‘n uur of twee op Exclusive Books se vloer, met meer boeke as wat die biblioteek kan bied. Die personeel het my nog nooit gejaag nie… gee selfs vir my stukkies papier aan as hulle sien myne is vol geskryf. Seker oor ek so mooi glimlag. Of miskien oor ek die boeke met baie groot respek hanteer sodat dit nie gelees lyk nie. Of oor ek boeke gekoop het ook.
God was daar, Hy het my nie gelos om die laaste dieptes in te gly nie, ek bly Sy kind en een van die dae kan ek my geskenk vir my gesin gee in vreugde vir die toekoms wat op ons almal saam wag. Almal saam.

















Wat ‘n wonderlike geskenk om na te laat vir enige iemand!
Maar die blyste van alles is dat jy beter voel, dat dit beter gaan. Sterkte!!
Dankie, dit gaan sommer spiekeries met my.
Jy is bevoorreg om in so mooi wereld te bly- en die natuur te kan waardeer !
lief jou
Ek is bevoorreg. Ek se elke dag dankie. Dankie vir die lief. Lief jou ook.
Pingback: Tannie Tossel se blokstorie « Toortsie se Blog
Dit klink vir my reg!
XXX
Ek het begin daarmee, maar dis so ‘n oorweldigende taak dat ek halfpad moed opgegee het, want dis eintlik net ek wat daarin belangstel.
Dis is nogal ‘n oorweldigende taak, maar dis een van die goeters in die lewe wat my aan die gang hou. Daar is altyd nog ‘n blommetjie, ‘n wurm of ‘n spinnekop wat my aandag trek.
Dit maak nie vir my saak of hulle belangstel of nie. Mens kyk nie ‘n gegewe perd in die bek nie…
Pingback: Trol se dinges « Slakkelak
Pingback: Mamma moet asseblief tog nie voor ander mense eet nie… « Slakkelak
Pingback: Ek is boringste boring verby « Slakkelak
Sjoe, ek’s bly jy’s beter! DEie veldgids klink na ‘n wonderlike idee- en ook baie werk!Jy kan trots voel daarop!
Pingback: Dis lekker om op my plaas te kan draf « Slakkelak